Jy kners op jou tande … sien rooi. Jy skud jou kop en wonder of jy reg gehoor het.
Die persoon voor jou skel jou uit vir als
wat sleg is en jy wonder wie is die persoon is na wie hy verwys? Dit kan
onmoontlik nie jy wees nie.
Beleef jy dit ook so tydens konflik?
Ek weet ek doen. Aanvanklik is ek so geskok
oor die aanval, en die absolute gif waarmee dit uitgespoeg word. Dan slaan dit my
tussen die oë en die woorde spoel oor my soos ’n gebreekte tape wat aanhou en
aanhou en ek weet nie hoe om dit af te sit nie. Dan, wanneer dit verby is, raak
ek kwaad … smoorkwaad. Ek sien letterlik rooi. Soms wil ek terug skree en ander
tye bly ek net eenvoudig stil.
Ek is nie perfek nie. Ek het dit nog nooit
gesê of geïmpliseer nie. Tog lees mense dit in my optredes, of ek dit nou wil
erken of nie.
Na ʼn onlangse bakleiery met my broer, het
ek dit weereens besef.
Die manier hoe ons oorkom, word deur ander
gesien as baasspelerig en beterweterig. As ma van drie groot kinders, is ek
gewoond om op ʼn sekere manier te praat. My kinders en kleinkinders aanvaar my
so – want ek is hul ma en ouma. Maar, sonder dat ek dit besef, behandel ek ander
mense – wat veel jonger as ek is – ook so. Dan waai die hare, spat die spoeg en
loop die gemoedere oor.
Dit was nie maklik om dit te erken nie.
Ek moes werk aan my manier van praat met
ander. Halsstarrig het ek geredeneer dat ek nie verkeerd is nie. My punt is
geldig en ek weier om my siening te verander. Maar dit gaan nie oor my siening
of punt in hierdie verband nie. Dit gaan oor my optrede. Die manier wat ek
oorkom en kommunikeer.
Ek moes ʼn daadwerklike poging aanwend om my
manier van praat te verander om sodoende konflik te vermy. Vader moes ʼn paar
maal my herinner dat ek hom in die eerste plek moes vergewe. Ja, sy optrede was
verkeerd. Vloek en skel het nog nooit gehelp nie. Maar my optrede was ook.
Dit het my ʼn tydjie gevat om hom te vergewe
vir dit wat hy gesê het. Ek het gebelgd en vernederd gevoel. Maar op die ou
einde moes ek erken dat ek verkeerd was en dat ek die situasie op ʼn ander
manier kon hanteer het.
Ons manier van praat en ons keuse van
woorde, bepaal hoe mense ons sien en hoor. Dit mag nie my bedoeling gewees het
om so op te tree nie, maar vanuit sy oogpunt was ek aanmatigend. Ek moes hom
vryspreek.
Matteus
18:22 (AFR83): “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie
maar selfs sewentig maal sewe keer.”
Ons manier van konflikhantering moet
gebaseer wees op die Woord. Die Woord van God is ons handleiding tot ons
alledaagse lewe. Daarsonder sal ons nie weet hoe om op te tree in sekere
situasies nie.
Is dit my plig om iemand te vergewe? Ja.
Kan ek iemand anders se gedagtes verander
oor ʼn saak? Nee. Net God kan. Solank as wat ek nie vergewe nie, kan God nie
werk met daardie persoon nie. Dit is nie my taak om aan hom uit te wys dat hy
verkeerd opgetree het nie. Dit is my taak om hom vry te spreek en liefde te
betoon. Sewentig maal sewe keer.
Die Heilige Gees sal hom oortuig. Ek is nie
verantwoordelik vir sy optrede nie. God is. Maar solank as wat ek vashou, is ek
soos ʼn hond aan ʼn ketting. Ek gaan aanhou hap en byt. Wanneer ek vergewe, is
die drang om te hap en byt uit die weg geneem en kan ʼn oplossing bereik word.
Solank as wat ek kwaad is, sal daar ʼn skeiding wees.
Ek los julle met
hierdie skrif in 1 Petrus 3:8-10: “Ten slotte: Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol,
goedhartig, nederig. 9Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met
belediging nie. Inteendeel, antwoord met ʼn seënwens, want daartoe is julle
geroep, sodat julle die seën van God kan verkry. 10Daar staan
geskrywe: “As iemand die lewe liefhet en ʼn lang lewe begeer om die goeie te
geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens.”
Vergifnis is nie maklik nie, maar nodig. Indien jy
wil leer hoe om konflik te hanteer of te vermy, vra die Heilige Gees waar jy
moet verander. Wanneer jy luister, sal jy die vrug pluk van jou besluit. Dit is
beter om in vrede te leef met God se guns, as in onmin en uit God se wil.
Geniet ʼn mooi dag.
Lynelle Clark
Skalels van 'n Ketting 2
Kopiereg voorbehou
No comments:
Post a Comment