Showing posts with label Skakels van 'n ketting. Show all posts
Showing posts with label Skakels van 'n ketting. Show all posts

Monday, May 1, 2023

Dagstukkie: Gister se sonde is vandag se vrede


Terwyl ek ander se verhale lees – tans tree ek op as beoordeelaar van ʼn skryfkompetisie – wat handel oor hul keuses wat hulle gelei het op ander paaie, vat dit my ook terug. Na ver paaie – kronkelpaaie wat jou laat wonder waar het jy verkeerd gegaan. Waar kon jy anders optree? Wat kon jy verander het sodat vandag ʼn ander uitslag kon gewees het van die een wat jy nou lei?

Baie somers is verby. Winters toegehul in kuiers, warm komberse en gemeensaamheid is nou net ʼn vae herinnering. Dae waar feëverhale nog werklikheid was, die lewe in mooi geweefde tapisseriepatrone voor jou gehang het en jy veilig was. Maar so maklik verander die mooi in ʼn deurmekaarspul van gekoekte wol sonder sin. Waar die begin en einde toegewikkel is in ʼn magdom seer, en jy reageer.

Dit is maklik om dan vas te val in die moddergat wat jou wil vasgryp en daar hou. Jy sien, as mens, soek ons goedkeuring vir ons lewe. Dit is dan wat hierdie terugkyk ontaard in ʼn moeras wat net verwarring veroorsaak. ʼn Traan of twee word weggepik en ons verloor die kern van ons boodskap.

My agtergrondstorie is deurspek met verkeerde besluite, ʼn maalkolk van foute, misplaaste vertroue en baie meer. Daardie einatyd, toe daar niks oor was van ons nie. Ek was ook stukkend. Verslae en gebroke. Het minwetend deure oopgemaak omdat ek gedink het dit sal my huwelik red. ʼn Wye deur wat skade aan my as vrou sou doen en my op ʼn pad van selfvernietiging gevat het.

Die oomblik wat ons ingee vir sonde, gee ons toe aan die eise wat dit stel. Dit maak ons geestelik swak en steel ons vertroue en verhoudings. Dit is net God in al sy wysheid wat ons kan red.

Dank die Here vir die Damaskuspad. Die plek waar ons gekonfronteer word met Jesus Christus as ʼn werklikheid. ʼn Realiteit so helder, wat ons verblind vir die dinge van die wêreld, en soos ʼn blinde gelei moet word na waarheid.

Vandag kyk ek terug na daardie tyd van my lewe en kan ek God se hand van beskerming sien. Daardie tye waar Hy eenvoudig my hardkoppigheid gesystap het en in die bresse getree het om my vrouwees te beskerm.

Ek glo, indien die Vader dit nie gedoen het nie, sou ek heel moontlik op ʼn ander plek gewees het of selfs dood.

Toe ek in 1992 tot bekering gekom het, en grootoog God gevolg het, was ek nie bewus van al die kronkels wat my pad sou vat nie. Maar God is ʼn waarmaker van sy Woord.

Van varkhok tot Damaskus het my pad opgeeïndig in Reguitstraat. By die Vader’s huis is ek met ope arms ontvang en die lam geslag. ʼn Leeftyd het gebeur in daardie proses van val en opstaan en die rosige oogklappe is verwyder.

Die verhouding tussen my en die Drie-eenheid is ʼn dieper een waarin ek myself verloor as mens. En ek is oukei met dit. Nou kom my goedkeuring nie meer van ʼn man, kinders of ʼn huis nie. Maar van ʼn plek van verhouding met my hemelse Vader, Jesus Christus, en die Heilige Gees, waar ek al drie opnuut weer leer ken. Dit is ʼn stelselmatige terugkeer na myself en my rol as gelowige. ʼn Versigtig-trap en fyn-luister verhouding, deurspek met genade.

Om God weer te vind tussen die pyn en selfveragting was moeilik om te verwerk. Immers kan ek niemand blameer behalwe myself nie. Dit is ʼn harde werklikheid waarmee ek moes deel.

In hierdie tyd wou ek wegkruip van God af. Bang dat Hy my sien vir wie ek is. Maar die wonderlike vreugde is dat Hy my wel vrygespreek en skoon gewas het.

Vader, in al sy wysheid, het geweet wat ek nodig gehad het, en het my omring met spesifieke vriende wat my begin dra het. Selfs in my woede, wanneer ek te velde getrek het teen God, het hulle my ondersteun. Dit het my koue hart vermurwe totdat dit naderhand heeltemal oop was om weer God se genade en liefde te ontvang. Ter bevestiging het God my beklee met ʼn ring aan die vinger. Sy stempel van eienaarskap. Dit was ʼn paradigm-kopskuif wat my in verwondering gelaat het.

Soos ʼn pottebakker het Hy my gevorm. Die draaitafel, my veilige hawe, waar Hy my gebrei het. Dit het my gevorm in ʼn kleipot met handvatsels en tuit. Bruikbaar en gietbaar.

In 1992 het ek gedink ek is die mooi goue kelk waaruit God kon drink. Verhewe bo mense: sonder foute. Vandag weet ek beter. Nou, in 2021 weet ek, ek is ʼn kleipot. Kompleet met krake, laste en growwe plekke. Ek is oukei daarmee. Dit het my vrede gebring.

Ek weet God is nog nie klaar met my nie. Die poets- en bakproses lê nog voor. Maar ek is veilig in die Pottebakker se hande.

Die vierde persoon in die oond is Jesus Christus self. My reddende genade. Wanneer ek in angsweet wakkerskrik oor my toekoms, moet ek myself vermaan dat God in beheer is. Hy is daar. Ek is nie alleen nie.

Wanneer ek my hand verwyder, wankel ek. Sodra ek dit terugsit, loop ek op die water saam met Hom. Hoekom? Want Hy is ʼn waarmaker van sy Woord.

Ek lees in Galasiërs dat God nie ʼn aannemer van persoon is nie. Ongeag wie ek was, God neem my aan. Ek moet bloot net sy verlossing in geloof aanvaar en dit my eie maak. Daar is geen reëls of enige vereistes daaraan verbonde nie. God se reddende genade het aan my verskyn. Wat God betref, het my verlede nooit gebeur nie, en sien Hy my as vrou, skoongewas, reg om as getuie vir Hom op te tree.

Dit is ʼn bevrydende gedagte wanneer ons weet God aanvaar ons net soos ons is. Dit maak ons vry van die wet en skuld wat ons op ʼn dwaalspoor wou lei. Ek is nou meer bedag op wat ek kyk, met wie ek kommunikeer, en wat ek lees.

Ek het ʼn passie om te leer en het aanlynkursusse ontdek. Wanneer daar ʼn ekstra geldjie is, skryf ek in. Die bevrydende gevoel van groei slaan deur in die boeke wat ek skryf. Die stories, ʼn platform waar ek my getuienis uitleef deur die verskillende karakters se wel en weë. Dit is fiksie, maar ook waarheid. Die lyn so fyn dat mense se oë sal oopgaan vir die werk van die Here, juis omdat ek dit so werklik maak.

Ek is nie ʼn marshallow-mens nie. Ek is nie eers ʼn natuurlike romantikus nie. Maar tussen die blaaie van skryf speel liefde altyd ʼn rol. Liefde is die een ding wat ons bind as mens. Waarna almal smag. Liefde en aanvaarding. Maar ook die reg om jou eie mens te wees en dan die verantwoordelikheid te vat vir die keuses wat jy gemaak het. Dit is wat ons as mens laat groei. Dit gee ons die aanvaarding wat ons soek.

Sodra ons prioriteite reg is, begin God in alle erns werk. Nie voor die tyd nie. Nie wanneer jy luister na fabels en leuens nie. Vernaamlik in die tyd van informasie. Die beskikbaarheid daarvan kan ons ver van God af lei, sonder dat ons dit besef. Indien jy nie die Woord van God ken nie, bring dit net verwarring in jou lewe. Dit is vanuit die verwarring wat ons dan verkeerde besluite maak wat ons toekoms beïnvloed. Nie net ons s’n nie, maar ook die mense saam met ons.

Onthou: elke keer wat jy iets besluit, raak dit jou maat en kinders (indien jy het). Jou vriendekring loop ook deur, selfs jou werksplek. Elke area word aangeraak: ten goede of ten slegte.

Maar, sodra as wat jy die onvervalste melk van God se Woord inneem, maak dit jou krom pad reguit. Dit gee jou die fondasie om sterk te staan in elke situasie. Dan word ons gelei na ʼn oop hemel, waar ons sy genade in oormaat ontvang en dit uitgegiet word aan ander dorstiges. Daardie plek waar ons in vrede kan wandel en weet dat ons toekoms sekuur in God se hande is.

Nie omdat ons dit verdien nie, maar omdat God dit so gee.

Galasiërs 1:3-5: “Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring. Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen.”

Hy maak ʼn weg. Hy is die waarheid. Glo dit. Leef dit.

Romeine 8.

Lynelle Clark


Monday, April 24, 2023

Dagstukkie: Verantwoordelike kindwees



Ons word elkeen in ʼn huis gebore met ouers en kinders. Elkeen het sy eie funksie wat ʼn dinamika na die tafel bring. Binne hierdie dinamika is daar verantwoordelikhede wat elkeen moet nakom.

Ma en pa voorsien, versorg, leer en gee baie liefde. Hulle dissiplineer ook. Ons hou nie baie daarvan nie. Maar dit gee ons die leiding om reg op te tree in elke situasie wat ons in ons lewe mag kry.

Kinders moet leer deur die instruksies te volg. Dit leer elke kind hoe om opdragte te volg. Selfs die wat nie so lekker is nie of nutteloos voel. Gesonde dissipline gee die kind ʼn veiligheidskokon waarbinne hy/sy weet dat hulle geliefd is. Dat hul ouers werklik omgee. 

In God se huishouding werk dit op dieselfde manier.

Die God-drie-eenheid en jy is onlosmaaklik deel van mekaar. Elkeen het ʼn funksie om te verrig. Jou funksie binne hierdie dinamiese uniekheid, is om God te eer. Sy verlossingswerk as volkome in jou lewe te ervaar, en Hom te ken in al jou weë. En natuurlik om te luister deur stil te word.

Jy kan niks vermag deur nie ingeskakel te wees by die Here nie. Dit is wat van jou ʼn ware kind van God maak.

Terwyl ek die boek van Galasiërs bestudeer, kom dit nog meer na vore. Dit is asof Paulus dit in groot, vetgedrukte letters skryf.

In Galasiërs 3word ʼn mens gekonfronteer met die absolute waarheid van hierdie uniekheid.

Jy sien, die mense in Galasiërs het in aanraking gekom met mense wat hulle vas wou maak aan die wet deur die ou gebruike terug te bring. Paulus het dit te hore gekom en konfronteer hulle met dit.

In Hoofstuk 3:1(a) Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel?”

Ek hou eintlik hoe dit in die Engelse Vertaling geskryf is: You foolish Galatians! Who has bewitched you?”

My en jou verantwoordelikheid kom daarin, dat ons sorgdra dat ons nie agter fabels of leuenaars aanloop nie. Wette en gebruike wat niks met ons geloof te doen het nie, het geen plek in ons geloofswandel nie. Mense wat ons probeer verlei om na hul opinies te luister, die Woord afwater en jou weglei van die Woord af, is skadelik vir jou groei.

Daarom is dit so belangrik, dat wat jy hoor en wat jy lees, aan die Woord gemeet moet word. Indien die Woord dit nie bevestig nie, stap weg daarvan, anders sal jy nes die gemeente in Galasiërs op ʼn dwaalspoor gelei word. ʼn Dwaalspoor wat jou baie pyn en lyding op die hals sal bring.

Ek weet nie van jou nie, maar ek is moeg om die berg te omsirkel omdat my manier van verstaan verkeerd was. Of omdat ek nie geluister het na die Woord van die Here nie, maar eerder na ʼn persoon geluister het.

Ons elkeen se verantwoordelikheid berus op wie ons ore ingestel is.

Dit is jou plig, as kind van God, om waaksaam te wees teen alle dwalinge, en God te ken in alles.

 

Vrae wat jy in gedagte kan hou:

·         Dit wat ek nou so pas gehoor het, is die Bybel in ooreenstemming daarmee?

·         Wil die persoon my teruglei na die wet toe?

·         Is dit nuttig of lei dit my verkeerd?

Hoe kan jy jou eie kennis verbeter:

·         Bestudeer die Bybel deur gebruik te maak van goeie bronne. Daar is soveel bronne om van te kies dat dit soms te moeilik of te veel is, maar jy is dit aan jouself verskuldig om te studeer. Jy is immers ʼn student wat moet leer en verstaan wat God vir jou wil sê. Toets jouself gereeld.

·         Naslaanbybels is ʼn goeie punt van lering. Doen kruisverwysings. Lees die skrifte wat almal daarmee te doen het in konteks.

·         Laat toe dat die Here jou leer, met ander woorde, raak stil voor die Here. Laat die Woord perkuleer in jou binneste. Herdink, herkou en leer totdat dit deel word van jou lewe.

·         ʼn Punt van waarskuwing: wanneer jy in twyfel is oor iets, moet asseblief nie Facebook toe hardloop vir raad nie. Gaan na iemand wat jy al getoets het. Iemand wat die Woord reg sny en vra.

·         Maak tyd om die Woord te eet. Kou dit fyn, en jy sal agterkom hoe soet God se Woord werklik is.

 

Jy verskuldig dit aan jouself om tyd met God te maak en sy Woord as ʼn waarheid te vat. Bestudeer Galasiërs – vers vir vers.

Smaak en sien die goedheid van die Here daarin.

Lynelle Clark

Skakels in 'n Ketting 2

Monday, April 17, 2023

Dagstukkie: ‘n Sterk tou


Pappa, ouboet en ma. ʼn Onlosmaaklike Drie-eenheid.

Dit is hoe ons die Goddelike Drie-eenheid op menslike vlak kan beskryf.

Hemelse Vader is ons Pappa. Die een wat als onderhou. Die een wat praat en wêrelde kom in plek. Lig maak plek vir duisternis en die aarde breek oop en gee kos aan elkeen van ons – mens en dier.

Jesus Christus is ons Ouboet. Die een wat in die bres tree wanneer ons droog maak. Die een wat by ons bly wanneer ons bang is. Die een wat ons kom leer wie die Vader is en dit makliker maak om die Woord te verstaan omdat Hy die Woord is.

Heilige Gees is die ma. Die een wat ons vertroos, ons leer, ons vashou en soen wanneer ons dit nodig het. Die een wat ons aanpor om nog beter te doen en wat in die bres tree wanneer ons foute gemaak het.

ʼn Onlosmaaklike drie-eenheid met wie ons elkeen kan identifiseer. Baie van ons prentjies is skeef wanneer dit kom by elkeen van hierdie figure juis omdat ons verhoudings met pa, broer/suster en ma nie altyd van die beste is nie. Dan projekteer ons daardie argwaan en seer op die Goddelike eweknie.

Persoonlik kan ek daarmee identifiseer.

Ek bly by my pa. My pa is 80 en daar is 24 jaar verskil tussen ons. Hy sien my as die klein dogtertjie wat elke dag geleer moet word. Van kosmaak tot wat ek eet. Bestuur is ʼn nagmerrie wanneer hy in die kar is. En, indien ek nie waaksaam is nie, kan my gevoelens van disrespek en woede geprojekteer word na die hemelse Vader. Dan moet ek rustig raak, kop hou en verby die seerdinge kyk.

Omdat hy vergeetagtig is, sal hy gedurig stry omdat ek kwansuis nie die vloer gewas het nie. Dit sal hy dan aan almal wat wil hoor vertel. Volgens hom doen ek dan niks in die huis nie. Daardie doelbewuste leuen maak my witwarm by tye. Soms stap ek weg, ander kere wil ek myself verdedig.

Net so met my broer. Daar is tye wat ek en hy net nie eye-to-eye sien nie. Dan ontaard dit in ʼn bakleiery wat my stom laat. Dit laat wonde en ek vind na so ʼn skermutseling dat my verhouding met Christus daaronder lei. Dit ontneem my van vrymoedigheid en ek sal eerder met die Vader praat as met Jesus tydens die skermutselings.

Omdat my ma alreeds by die Vader is, is die tekort aan aanvaarding en liefde ʼn groot leemte in my lewe, en vind ek dat ek min met die Heilige Gees praat. Ek is bewus van sy werkinge in en deur my, maar ek gee Hom nie altyd die plek wat Hy verdien nie.

Ons aardse verhoudings het ʼn rol te speel met ons toenadering tot God. Meer as wat ons soms wil erken. Maar dit is juis hierdie verhoudings wat ons opbou en die skanse afbreek om nederig te bly.

Verhoudings op elke vlak is ʼn daaglikse oefening van gee en neem. Indien ek nie moeite doen om te gee van my kant nie, kan ek nie ontvang nie. Ek kan ook nie elke keer net verwag om te kry as ek nie my kant bring nie. Deur daaglikse kontak leer ons mekaar ken. Ek weet hoe my pa van sy tee hou. Op watter tye hy koffie sal drink. Elke ete het sy eie eetgerei. Ek moet dit weet anders is daar moeilikheid.

Net so is die verhouding met die Goddelike drie-eenheid. Indien ek nie my besige program eenkant toe skuif en tyd maak met die Bybel en bid nie, gaan ek nie elkeen se hart leer ken nie. Ek gaan nie weet hoe hulle oor my voel nie. Watse raad hulle vir my wil gee of hoe om op te tree in ʼn spesifieke situasie nie.

In kort, ek gaan in die donker rondtas met geen duidelikheid in ʼn gegewe situasie nie.

Nie my pa of broer glo daaraan om verskoning te vra nie, en ek het al geleer om net verby dit te kom op my manier. Hulle manier van flikflooi sal wees om te skimp vir ietsie lekker om te eet. Of, kan ek asseblief die vlek op ʼn broek uithaal. Dan weet ek als is nou weer reg en kan ek met vrymoedigheid asemhaal.

Verhoudings is delikate organismes wat elkeen op meriete hanteer moet word. Die grootste gemene faktor is gewoonlik hoeveel keer ek bereid is om die knie te buig en hoeveel keer is ek bereid om te luister. Wanneer ek luister, hoor ek iets wat ek andersins sou gemis het.

Netso met my verhouding met God. Wanneer ek stil raak, minder word, dan hoor ek God se stem duidelik. Ek kan vrylik asemhaal, want nou verstaan ek, en my liefde vir God groei.

Waar kan jy minder word, sodat God meer kan word?

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting 2


Monday, April 10, 2023

Dagstukkie: Verwarring versus Genade



Die week het ek Galasiërs 1 bestudeer. Daar is soveel waarhede in die 24 verse saamgevat dat dit my ʼn tyd gaan vat om dit werklik deel van my gees te maak. Elke vers dra ʼn waarheid wat my as gelowige versterk om daadwerklik God te vat op sy woord.

Die een punt wat vir my die meeste uitgestaan het en wat ek onmiddellik gevat het, was vers ses en sewe. Spesifiek hoe dit in die Amplified Bible geskryf word:

“I am astonished and extremely irritated that you are so quickly shifting your allegiance and deserting Him who called you by the grace of Christ, for a different [even contrary] gospel; 7which is really not another [gospel]; but there are [obviously] some [people masquerading as teachers] who are disturbing and confusing you [with a misleading, counterfeit teaching] and want to distort the gospel of Christ [twisting it into something which it absolutely is not].”

“EK verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ʼn ander evangelie toe, 7terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.” (Afr83)

Daar was ʼn tyd in my lewe dat verwarring en verdraaiing ʼn groot rol gespeel het. As gevolg daarvan het God se genade eenkant gestaan. Ek het aangeneem dat God my haat en in ruil het ek hom uit my lewe gesny. Ek was woedend vir die kerk, God en die mens.

Ons is lief om te noem dat God ʼn gentleman is wat ons ruimte gee om te verander – en in dié geval is dit ook waar. Waar ons toelaat dat ander gedagtes, woorde en leringe ons beïnvloed, sal genade ook opsy staan totdat ons weer tot die besef kom dat die probleem by ons is en nie by God nie. Die varkhok waar ons nie eers die peule sal ontvang om ons mae te vul nie. Ek weet, ek was daar.

Daarmee sê ek nie God se genade gaan weg nie. Selfs in daardie tye was God se hand oor my. Vandag kan ek dit sien.

Die gevaarsituasie waaruit ek sonder ʼn skrapie weggestap het. Mense wat Hy van my weggehou het. Ander, minder aangename situasies waar Hy my aandag gekry het.

God is ʼn waarmaker van sy woord, maar Hy gaan jou nie in die rede val en sy wonderbare genade aanhou gee as jy dit nie waardeer nie. Nee, Hy staan eenvoudig eenkant toe en doen sy werk in die stilligheid.

Vir Paulus het dit geïrriteer dat die Galasiërs hul lojaliteit verskuif het en hulle agter ander leringe aangeloop het i.p.v om by die waarheid te bly.

Het jy al opgemerk dat dit net in die boek van Galasiërs is waar hy die mense so direk aanspreek? Nie in een van die ander briewe doen hy dit nie: so, die saak is ernstig.

Bestudeer die Bybel en kyk hoe praat Paulus met die ander gemeentes.

 

  • Wil jy weet hoekom voel dit of jy teen die plafon vasbid?
  • Ondersoek jou lewe: waar bevraagteken jy God?
  • Waar laat jy toe dat ander se opinies van God jou geloof beïnvloed?

Jy sien, die waarheid is: wanneer daar verwarring is, kan God se genade nie ten volle werk in ons lewens nie.

In vers drie tot vyf bid Paulus ʼn seën oor hulle uit:

“Grace to you and peace [inner calm and spiritual well-being] from God our Father and the Lord Jesus Christ, 4who gave Himself [as a sacrifice to atone] for our sins [to save and sanctify us] so that He might rescue us from this present evil age, in accordance with the will and purpose and plan of our God and Father— 5to Him be [ascribed all] the glory through the ages of the ages. Amen.”

  • Wat leer ons hieruit?

God wil aan ons sy genade en vrede skenk. Hy wil hê dat dit met ons goed gaan, maar dan moet ons vashou aan sy woorde. Ons moet Christus se verlossingswerk aanvaar.

Ons moenie agter elke leerstelling aanhardloop nie. Al wat dit veroorsaak is verwarring. Waar verwarring is, kan God se genade nie tot vervulling kom nie. Daar kan vrede nie kom en jou hart en huis vul nie.

Aanvaar God se reddende genade. Aanvaar sy Woord as die enigste waarheid in jou lewe, en ervaar hoe goedheid en guns jou volg: al die dae van jou lewe.

Moenie wag totdat jy in die varkhok beland nie. Om dan ontslae te raak van die stank, kos baie trane en moeite. Trane wat ek jou wil spaar.

Neem ʼn daadwerklike besluit om nou om te draai en sien hoe God in jou lewe werk.

Jy is voorwaar ʼn geseënde van die Here.

Wandel daarin.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting 2


Thursday, April 6, 2023

Dagstukkie: 'n Klein Klippie

 


“Koop ʼn sakkie sement, bou ʼn bruggie en kom daaroor.”

Het jy die stelling al gehoor of gebruik jy dit self?

Ek gebruik dit baie. Vernaamlik wanneer iemand sukkel om iets te verwerk: dit is gewoonlik in ligte luim bedoel en verwys na ʼn kleinigheid, in my oë. Soos ʼn bord wat breek en wanneer die persoon die hele dag daaroor kerm en kla. Of kla oor die kol op die mat … die lys kan nogal lank word.

Maar wat ek ook weet, wat vir my ʼn kleinigheid is, is vir ʼn ander ʼn groot probleem. Ons elkeen heg waarde aan verskillende dinge in ons lewens. Ons elkeen het ook die reg op ʼn opinie, maar wanneer dit ʼn probleem veroorsaak en gemoedere loop hoog, en dinge word gesê wat kon gebly het, raak dit ʼn probleem. Dit is hoe ons ‘n opinie lig wat gewoonlik die probleem vererger.

Hierdie tipe van situasie skuur enige verhouding tot teen die been.

Dit is soos ʼn klein klippie wat in jou skoen val en rondrol terwyl jy stap. Aanvanklik voel jy hom nie, maar dan besluit jy om ʼn lang ent te gaan stap sodat hy homself aan jou kan voorstel. Dit word naderhand onuithoudbaar ongemaklik. Jy kan dan stop en die klippie uitskud of jy kan dit ‘probeer’ ignoreer. Maar dit veroorsaak skaafplekke op jou hakke of tone wat oorsit in rousere. Dit word dan so seer dat jy later nie eers ʼn skoen kan aantrek nie.

Mense se vertroue word geskend net soos die vel wat oop gebreek word.

So is verhoudings.

Indien ons nie ruimte vir mekaar maak en help om daardie klippie te verwyder nie, dan verbreek dit vertroue en respek in ʼn groot mate. Dan word daardie klippie ʼn berg, so groot dat dit amper onmoontlik is om daaroor te kom. Dit kan mense selfs kniehalter in hul groei. Dit steel jou vreugde en vrede.

Hooglied praat van die jakkalsies wat die wingerd verwoes, of in hierdie geval ʼn verhouding verwoes.

Hooglied 2:15 “Vang julle vir ons die jakkalse, die klein jakkalse wat die wingerde verniel, want ons wingerde staan in die bloei.”

Wanneer hierdie klippie nie verwyder word nie, kan ʼn verhouding sleg seerkry. In sommige gevalle kan dit selfs generasies beïnvloed waar tweespalt aan die orde van die dag is – bloot net vir ʼn misverstand wat ontstaan het en waar twee mense te hardkoppig is om die saak uit te praat.

Hoe vinniger die klippie verwyder word, hoe vinniger kan vertroue herstel word.

Ons almal maak foute.

Goeie verhoudings verstaan die stelling en werk met mekaar om ʼn verhouding – waaraan hulle baie waarde heg, te laat werk. Hulle verwyder die jakkals en stap aan. Die verhouding is dan sterker as voorheen.

Die verhouding tussen ʼn ouer en kind, huweliksmaats, vriende, sosiale vriendskappe, werkers, die tuinman of bediende wat in jou huis werk – ons bou verhoudings met elkeen op ʼn ander manier. Elkeen se benadering is anders, juis omdat die dinamika verskil.

Verhoudings is gebaseer op intimiteit.

Wanneer jy ʼn huis bou, messel jy die sement tussen die stene in. Distansie word geminimaliseer deur die hoeveelheid sement wat gebruik word. Hoe meer sement – intimiteit: hoe nader aan mekaar, hoe beter die verhouding. Hierdie stene vorm dan ʼn unieke plek in die raamwerk van die huis. Indien dit swak gebou word, kan dit maklik kraak of selfs omwaai met die geringste wind.

Sement natuurlik, bestaan uit ʼn mengsel van sand, water en sementpoeier. Indien die verhouding nie reg is nie, kan dit nie sy werk doen nie. Net so is dit in enige verhouding. Indien die verhouding nie reg is nie, is daar geen werkbare produk om die muur te bou nie.

Daar moet eweveel vertroue, samehorigheid, liefde, geduld en respek wees van albei kante af. Indien nie, sal die sement afval.

Dink hieroor:

·         Wanneer laas het jy na jou verhoudings gekyk?

·         Is hulle gebou op goeie grond?

·         Wanneer laas het jy daaraan gewerk sodat die huis stewig kan wees?

·         Kan jy enige krake identifiseer?

 

Enige verhouding word gebou van twee kante af. Indien nie, sal die krake begin wys. Krake soos: geen kommunikasie, tyd, ongeduld, en onvergewensgesingheid.

Daarom is dit belangrik om dit voor die Vader te lê.

 

Gebed: Liewe Heer, help my vandag om die blinders af te haal van my eie lewe. Help my om --------------- (noem die probleem by naam) op te los. Ek bely my fout hierin. Help my om geduldig te wees met -------------- (noem die persoon se naam) en dat ons hierdie verhouding kan red. Help my om ʼn goeie bouer te wees waarvan die sement reg is.

In Jesus Naam, Amen.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting 2

Monday, March 27, 2023

Dagstukkie: ‘n Invloedryke vriendekring


Dit is altyd lekker om met mense te gesels waar jy veilig voel. ʼn Plek waar jy jou opinie kan gee, raad kan vra, bystand kan ontvang ten tye van nood, en sommer net laf kan wees by tye.

Ek beny mense met sulke vriendekringe. ʼn Plek waar jy kan ontspan en die masker kan afhaal. Plekke van invloed en saamstaan deur dik en dun.

Vriende beïnvloed mekaar deur wat hulle doen, deur gemene faktore wat hul saambind. Amper soos in Mafia-rolprente.

“You killed his son, I kill yours …” kan jy daardie diep Italiaanse aksent hoor?

Maar wanneer jy dieper kyk, verby al die pretensie en skitterblink skerms, besef jy dit is alles net oëverblindery. Maskers en handskoene kom af en jy moet keer vir jou “wickets”. Dit is die soort venyn wat mense breek en gesinne opbreek. Dan weet ek, ek is tevrede om op my eie te wees.

Daar was ʼn tyd in my lewe wat ek werklik gesmag het daarna om deel van so ʼn groep te wees, net om ru wakker geskud te word en te besef dit is net op die groot doek moontlik.

Jaloesie en venyn is aan die orde van die dag, en in plaas van saam staan, is daar ʼn dwarsboming van vriendskappe, en word tonge messe wat fyn kerf en verniel, sonder om twee maal te dink aan die nagevolge daarvan. Dit is erger as ʼn “soapie”.

Toe ek in 1992 tot bekering gekom het, het ek ʼn hoop in my gehad vir iets soortgelyks, net met ʼn geestelike geur daarby. Op daardie stadium was my kinders alreeds in die kleuter- en laerskool. My dae het bleek gelyk en ek het gedink ʼn vriendskapskring sal die gaping vul.

Maar helaas, dit wat ek in die wêreld ervaar het, was amper erger in die geestelik ekwivalent daarvan. Skielik is ons gawes beter as die volgende ou s’n. Of afguns veroorsaak dat mense onder mekaar baklei vir beter gawes. Jy bid beter as sy. God beantwoord my gebed maar nie joune nie, want ek doen iets reg.

Jaloesie is die grootste sonde wat vriendskappe vernietig en kerke opbreek.

My wêreld was aan flarde na so ʼn skermutseling, en van toe af stap ek baie fyn om vriendskappe en laat net spesifieke mense toe in my binnekring.

Jesus self het dissipels gehad wat vir drie jaar saam met hom gewandel het. Drie van die dissipels was nader aan hom; sy binnekring: Johannes, Petrus en Jakobus. Johannes, weet ons, was die enigste een wat nader aan Jesus was as ʼn broer.

Vanuit hierdie voorbeeld leer ons dat dit wys is om binnekring vriende te hê. Mense wat jy kan vertrou met alles in jou lewe. Om ʼn Judas byvoorbeeld in jou lewe te hê, sal pyn veroorsaak. Vroeër of later gaan hy/sy jou verraai. Daarom is dit nodig dat jy versigtig moet wees. Ek wil amper sê; wees kieskierig oor wie sy kop figuurlik op jou bors sal sit.

Miskien is jy een van die gelukkiges wat wel so ʼn vriend of vriendin het. Een wat jou hart hoor. Wat jou raaksien vir wie jy is en wat jou rug toemaak. ʼn Persoon wat jy vertrou, maar wat jou ook uitdaag om verder te gaan. Wat bereid is om terug te staan, sodat jy kan floreer en andersom.

Vriendskap is waar jy minder word en die ander meer. Dit is die plek waar jy gemaklik is om jou opinie te lig, sonder dat dit op Facebook uitgeblaker word of jou woorde verdraai word om hom/haar goed te laat lyk. ʼn Invoedryke vriendskap, waarby albei partye baat vind.

Dink aan die TV-reeks “Suits” of die gewilde rolprente van “Fast en Furious”. Die rede hoekom dit so gewild is, is juis oor die Dawid/Jonatan vriendskappe. In “Suits” is Harvey Specter die bekende prokureur wie se paaie kruis met ʼn bedrieër, Mike Ross. Maar Harvey kyk verby al die lae vernis en sien ʼn persoon raak op wie hy ʼn kans kan waag. ʼn Persoon wat hy kan help op die leer na sukses.

In “Fast en Furious” het ons vir Brian O’Connor as polisieman wat Dominic Toretto se bende moet infiltreer, en die reeks skop af met die twee wat ʼn band het wat ons meesleur om rolprent na rolprent te gaan kyk. In elke rolprent word hierdie verhouding getoets en geskaaf tot die uiterste toe.

Dit is wat vriendskap is – ons kyk verby die vernis, die kwalifikasies, die prestige en ons sien mekaar raak. Vriendskap gaan oor omgee. Dit gaan oor verstaan.

Dit is ʼn vriendskap wat ons almal begeer. Die week maak jy dit ʼn gebedsaak. Nommer een om so ʼn vriend te kan wees, en nommer twee om so ʼn vriend te kry.

Indien jy wel so ʼn vriendskap het, koester dit. Jy is enig en uniek daarin.

Lees gerus Romeine 8 en vind so jou vriend wat nader is as ’n broer. Vra die Here om jou te wys hoe jy kan verander om self ook so ’n vriend te wees en wees dit.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting 2


Thursday, March 23, 2023

Dagstukkie: Hoe hanteer jy konflik?


Jy kners op jou tande … sien rooi. Jy skud jou kop en wonder of jy reg gehoor het.

Die persoon voor jou skel jou uit vir als wat sleg is en jy wonder wie is die persoon is na wie hy verwys? Dit kan onmoontlik nie jy wees nie.

Beleef jy dit ook so tydens konflik?

Ek weet ek doen. Aanvanklik is ek so geskok oor die aanval, en die absolute gif waarmee dit uitgespoeg word. Dan slaan dit my tussen die oë en die woorde spoel oor my soos ’n gebreekte tape wat aanhou en aanhou en ek weet nie hoe om dit af te sit nie. Dan, wanneer dit verby is, raak ek kwaad … smoorkwaad. Ek sien letterlik rooi. Soms wil ek terug skree en ander tye bly ek net eenvoudig stil.

Ek is nie perfek nie. Ek het dit nog nooit gesê of geïmpliseer nie. Tog lees mense dit in my optredes, of ek dit nou wil erken of nie.

Na ʼn onlangse bakleiery met my broer, het ek dit weereens besef.

Die manier hoe ons oorkom, word deur ander gesien as baasspelerig en beterweterig. As ma van drie groot kinders, is ek gewoond om op ʼn sekere manier te praat. My kinders en kleinkinders aanvaar my so – want ek is hul ma en ouma. Maar, sonder dat ek dit besef, behandel ek ander mense – wat veel jonger as ek is – ook so. Dan waai die hare, spat die spoeg en loop die gemoedere oor.

Dit was nie maklik om dit te erken nie.

Ek moes werk aan my manier van praat met ander. Halsstarrig het ek geredeneer dat ek nie verkeerd is nie. My punt is geldig en ek weier om my siening te verander. Maar dit gaan nie oor my siening of punt in hierdie verband nie. Dit gaan oor my optrede. Die manier wat ek oorkom en kommunikeer.

Ek moes ʼn daadwerklike poging aanwend om my manier van praat te verander om sodoende konflik te vermy. Vader moes ʼn paar maal my herinner dat ek hom in die eerste plek moes vergewe. Ja, sy optrede was verkeerd. Vloek en skel het nog nooit gehelp nie. Maar my optrede was ook.

Dit het my ʼn tydjie gevat om hom te vergewe vir dit wat hy gesê het. Ek het gebelgd en vernederd gevoel. Maar op die ou einde moes ek erken dat ek verkeerd was en dat ek die situasie op ʼn ander manier kon hanteer het. 

Ons manier van praat en ons keuse van woorde, bepaal hoe mense ons sien en hoor. Dit mag nie my bedoeling gewees het om so op te tree nie, maar vanuit sy oogpunt was ek aanmatigend. Ek moes hom vryspreek.

Matteus 18:22 (AFR83): Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.”

Ons manier van konflikhantering moet gebaseer wees op die Woord. Die Woord van God is ons handleiding tot ons alledaagse lewe. Daarsonder sal ons nie weet hoe om op te tree in sekere situasies nie.

Is dit my plig om iemand te vergewe? Ja.

Kan ek iemand anders se gedagtes verander oor ʼn saak? Nee. Net God kan. Solank as wat ek nie vergewe nie, kan God nie werk met daardie persoon nie. Dit is nie my taak om aan hom uit te wys dat hy verkeerd opgetree het nie. Dit is my taak om hom vry te spreek en liefde te betoon. Sewentig maal sewe keer.

Die Heilige Gees sal hom oortuig. Ek is nie verantwoordelik vir sy optrede nie. God is. Maar solank as wat ek vashou, is ek soos ʼn hond aan ʼn ketting. Ek gaan aanhou hap en byt. Wanneer ek vergewe, is die drang om te hap en byt uit die weg geneem en kan ʼn oplossing bereik word. Solank as wat ek kwaad is, sal daar ʼn skeiding wees.

Ek los julle met hierdie skrif in 1 Petrus 3:8-10: “Ten slotte: Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig. 9Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ʼn seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry. 10Daar staan geskrywe: “As iemand die lewe liefhet en ʼn lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens.”

Vergifnis is nie maklik nie, maar nodig. Indien jy wil leer hoe om konflik te hanteer of te vermy, vra die Heilige Gees waar jy moet verander. Wanneer jy luister, sal jy die vrug pluk van jou besluit. Dit is beter om in vrede te leef met God se guns, as in onmin en uit God se wil.

Geniet ʼn mooi dag.

 

Lynelle Clark

Skalels van 'n Ketting 2

Kopiereg voorbehou


Tuesday, January 31, 2023

Dagstukkie: Gee jou boom water

 


Alle plante het water nodig. Net so het ons ook water nodig.

Om te bly by die tema van die maand: Verhouding met myself, is dit nodig dat ons ook water inkry wat sorg dat ons buigbaar bly. Dit maak ons vatbaar vir nuwe gedagtes wat ons kennis verbreed.

Ons hoor baie dat ons water moet inneem vir gesondheidsredes; net so is dit belangrik om siels- en geestelike water in te kry. Die een is deur kennis in ʼn bepaalde rigting, die ander kennis van die Woord van God.

Sielsvoeding:

Op sielsvlak is kennis nodig vir groei. Vernaamlik vir ʼn vrou is dit nodig om werklik haar kennis te vermeerder om by te bly met die nuwe verwikkelinge. Dit is nie net goed om die oppervlak met toner te voed nie, maar die innerlike, verby veldiepte, het nodig om gevoed te word, sodat ons voorbereid kan wees vir enigiets wat op ons pad kom.

Dit kan gebeur dat jou lewe, soos wat jy dit tans ken, kan verander en dan moet jy uitspring. ʼn Beroep aanleer of ʼn besigheid moet begin om die inkomste aan te vul. Jy mag dalk dink dat jy te oud is, maar as ek op vyftig plus dit kon doen, kan jy ook.

Die belangrikheid van leer kan ons nie genoeg onderstreep nie. Alhoewel ek die sug gehad het om verder te leer in my jonger dae, was finansies altyd ʼn probleem. Ek was in opstand daaroor toe ek nodig gehad het om uit te spring. Ek het baie verskonings ook gehad en was in ʼn groot mate kwaad vir God omdat ek nooit die geleentheid kon kry nie. Daardie denk wyse het my baie teruggehou.

Wanneer ons nuwe inligting ontvang, word ons denke gevoed, wat op sy beurt weer ons siel voed. Dit dring deur tot elke laag van ons menswees en versprei so die kennis om ons nuttig te laat voel.

Ek onthou die tye wat ek nutteloos gevoel het. Die rede vir my bestaan bevraagteken het omdat ek gevoel het ek kan niks bydra nie.

Vandag, met die ondervinding wat ek opgedoen het, het ek dit nog meer besef. Elke leerfase in my lewe het ʼn nuwe lagie bygevoeg en ek het beter oor myself begin voel. Toe ek in eiendom gewerk het, moes ek baie kursusse doen wat my die kennis gegee het om eiendom te kon verkoop, maar dit het ook my as vrou goed laat voel. Dit het gevoel ek is besig om in my eie reg te kom. Dat ek ook saam kan praat en mense luister na my. Ek het ʼn ontwakende tyd betree wat my meer selfvertroue gegee het.

Toe ek die geleentheid kry om myself as lewensgids te bekwaam, het dit hierdie sug na meer gevoed en my eiewaarde herstel. Al is dit net iets wat jy vir jouself wil doen, kan ek dit werklik aanbeveel. Jy sal soveel ryker daarvan wegstap.

As skrywer het ek kursusse gedoen om my skryfkuns tot volle reg te laat kom. Dit alles het my ook outoriteit gegee. Van die uitbou, die vloei van die storie, en om al die gerammel weg te laat, sodat ek net by die storie kan uitkom. Dit het my ʼn sekerheid gegee wat niks anders vir my kon gee nie. Daardie sekerheid het my eiewaarde verder uitgebou, dit het my siel en gees verryk, en nou voel ek nie meer nutteloos nie, maar neem ek my volwaardige plek in.

Dit wat jy leer, kan niemand van jou af wegvat nie. Daardie kennis is gestoor en kom uit sodra jy dit nodig het. My sielsgrond gevoed met water van kennis wat nooit kan opdroog nie.

Geestelike voeding:

Geestelike voeding is net so belangrik. Dit kry jy deur tyd in die Woord te spandeer en werklik God se wil te verstaan. Die hoeveelheid tyd wat jy spandeer aan Woordstudie, is gelykstaande aan jou groei as mens, as vrou, en vir elke ander titel waaraan jy voldoen.

Albei hierdie aspekte van water se doel is om jou buigbaar te maak vir wat Vader in jou lewe wil doen. Dit gee jou daardie een stappie bo die ander om verder te beweeg en jou volle potensiaal uit te leef.

Hoe meer tyd jy daaraan spandeer, hoe sterker word jou boom. Hoe groter jou boom, hoe groter die skaduwee wat jy gee.

Ek wil jou uitnooi om jou boom water te gee. Dit maak nie saak waar jy begin nie. Dit hoef nie noodwendig ʼn graad te wees nie, maar soek vir geleenthede waar jy vars water kan inkry en so jou boom kan voed.

Vra die Vader om deure vir jou oop te maak en stap dit met vertroue tegemoet. Belê in jouself.

 

Lees Psalms 1:3 en maak dit vandag jou eie.

Onthou: Jy is ʼn geseënde van die Here.

 

 

Lynelle Clark  

Skakels van 'n Ketting 

Monday, January 23, 2023

Dagstukkie: Die vrou in die spieël

 


Vir ʼn groot gedeelte van my grootmenslewe kon ek myself nie in die oë kyk nie. Wanneer ek hare gekam het, grimering aangesit het of my tande geborsel het, het ek oogkontak vermy met die vrou in die spieël.

In die begin het ek nie geweet wat om vir haar te sê nie, ʼn koue skouer was beter as leë woorde. Die verhouding het aangegaan vir ʼn aantal jare. Jare waarin ek baie leeg en sonder doel was. Ek het baie gedoen om myself besig te hou, in te pas deur betrokke te raak by skool- en kerkaktiwiteite. Die vervulling het net nooit gekom nie. Die grootmaak van kinders, om ʼn huishouding te hardloop, kruideniersware te koop, in die tuin te werk, ensomeer: dit was alles tydverdrywe en het my leeg en onvervuld gelaat. Ek het baiekeer my doel bevraagteken. Die wêreld so bekyk en gewonder wat is die sin.

Hierdie houding het deurgesyfer na my vriendekring, huwelik, en verhouding met my kinders. Die gesegde: Bo blink en onder stink, kon my goed definieer.

Wanneer verhoudings misluk het, kon ek nie verstaan wat my aandeel in die opbreek daarvan was nie. Op die ou einde het dit daarop neergekom dat hierdie denke my so negatief gemaak het dat niemand bereid was om in my teenwoordigheid te wees nie. Mense het my afsydig en koud ervaar. Dit het natuurlik die self verder rede gegee om te wonder oor die doel van my bestaan.

Na ʼn dramatiese gebeurtenis in my lewe, waarin ek en my lewensmaat al ons aardse besittings verloor het, was ek teen die grond.

Ek dink nie ek sal die oggend ooit vergeet nie. Die oggend wat daardie vrou in die spieël vir my laat stop het in my skoene. Sy het geweier om haar oë te laat sak en ek moes ingee onder die pyn en absolute doelloosheid wat ek daar gesien het. Ek het nie woorde gehad om haar te konfronteer nie, maar haar dooie oë het my tot in my sokkies geskok. Die stemmetjie het uitgeroep: "Waar is jy?"

Weg was al die pretensies. Gestroop van dié dinge wat my identiteit gegee het. In daardie een kyk het ek besef, as ek nie iets doen nie, is ek dood.

Die besluite van daardie dag af was moeilik. In die eerste plek moes ons uit ons huis van ses en twintig jaar trek. Ek het geworstel met die trauma en vernedering van daardie tyd. Die absolute verslaenheid van nutteloos wees. Om nie geld te hê nie. Winkels het vir my soos ʼn mes gevoel wat my siel wou oopkloof tot op die been.

Ek moes toesien hoe my seun op die vliegtuig klim na ʼn ander land. Dit het gevoel asof ek my kinders gefaal het. Ek moes in ʼn klein woonstelletjie intrek wat spesiaal vir ons reggemaak is. Om als te kroon het ek agtergekom hoe diep die disrespek tussen my en my man geloop het. Sere wat my wakker geskud het tot in my fondasie.

Maar nog was dit nie genoeg om my finaal wakker te laat skrik nie. Ek was op ʼn gevaarlike pad van vernietiging en bitterheid waar ek myself skade aangedoen het en oorgegee het aan die luste van die wêreld. Dit alles om die seer te kan ontvlug, die vrou in die gesig te staar. Ek was die heeltyd bewus van haar vraende kyk.

Dit was ʼn lang stryd van aanvaarding, maar dit het begin op ʼn verlate pad in Pretoria, waar die Here my tot stilstand gebring het. Ek het geweet ek sal my weë moet verander. Dáár het die ommeswaai in my kop begin. Ek moes die dinge van my verlede heeltemal aflê om werklik vrede te kon maak met daardie vrou. Die vrou wat geduldig gewag het op my ommekeer.

Miskien is jy nou op daardie pad. Miskien dink jy, jy is nie goed genoeg nie.

Vandag will ek vir jou sê, jy is goed genoeg.

Jy het nie nodig om tot daar, op die spreekwoordelike straat, te beland om jou eiewaarde terug te kry nie. Jy het nie nodig om jouself te verneder, om die pyn te laat verminder nie.

Al wat jy moet doen is om voor die Vader te buig. Na Hom te kom. Net so vuil as wat jy voel, en jou saak met Hom regmaak. Dit is nie te laat nie. Net Vader kan jou herstel. Net Hy kan jou welkom heet in sy huis en jou beklee. Jou voete was, jou hoof salf met olie en aan jou ʼn ring gee wat jou eiewaarde sal herstel. ʼn Kleed wat jou sal bedek, en ʼn Vader wat vir jou ʼn lam sal slag en saam met jou sal feesvier. Niks is te erg vir Hom nie.

Gee Hom vandag ʼn kans om jou eie-ek te herstel, sodat jy soos ek weer in die spieël kan kyk en vir jouself lief kan wees. Ontvang daardie skoon papier en kyk na jouself met nuwe oë. Jy maak saak!

Onthou: Jy is ʼn geseënde van die Here.

 

Lynelle Clark
Skakels van 'n Ketting

Sunday, December 18, 2022

Dagstukkie: Wie beïnvloed ons lewens?

 


        Vanoggend het ek en Isak oor indrukke gesels en die invloed wat dit op ons denke het. God maan ons hieroor omdat net Hy die volle prentjie verstaan. Sonder die volle prentjie kan ons ʼn persoon oordeel vanuit hul aksies en woorde tot groot ontnugtering.

Almal het ʼn verhaal wat niemand van weet nie. Nie eers ons ouers of sibbe nie, omdat hulle nie elke minuut van die dag by ons is of ons gedagtes weet nie.

So het dit gekom dat ons gepraat het van Bybelwaarhede en hoe elkeen dit interpreteer en hoe dit die besluite wat ons maak beïnvloed. So, bring dit my toe terug na ʼn tyd baie lank gelede en die inpak wat dit in my lewe gehad het.

As kind het my ma kinderkrans gegee. Ek onthou vaagweg die tye wat sy ingesit het ter voorbereiding daarvan. Wanneer die kinders dan by ons aan huis gekom het, was die geïllustreerde borde netjies uitgestal. Daarop het sy breedvoerig aan ons die reise van Paulus vertel.

Dit was ʼn oog-oopmakende tyd in my lewe. Ek het die kaarte so gesit en kyk en gewonder waar is die plekke. As agtjarige het ek nie besef dat daar ʼn groter wêreld daar buite is as my eie wêreld nie. Maar op daardie dag is my wêrelde vergroot. Opgewondenheid het deur my gebruis. Die wonder so groot en so sterk dat ek dit vandag nog beleef.

Agterna het ek my skoolatlas vir die eerste keer nadergetrek en gelees. Daarin het ek lande, kontinente en eilande ontdek. Ek het die groot oseane gesien en die dieptes gelees sonder om werklik te besef hoe diep is diep. ʼn Nuwe wêreld het vir my oopgemaak.

Hierdie sug om te reis is daar gebore. Ek het elke boek gelees wat ek kon en tot die slotsom gekom dat indien ek dit wou beleef, moet ek vlieg. Ek het ontdek dat mens as lugwaardin hierdie wêreld kan betree en opgelees oor die vereistes vir hierdie pos.

Tydens die vakkeuses in standard vyf het ek Duits as een van my vakke vir standard ses gekies. Ek was doelgerig en opgewonde daaroor en het die derde taal met ywer aangepak.

Ek het nooit ʼn lugwaardin geword nie, maar leef my liefde vir reis op ander maniere uit. Dit gee die toon aan vir vakansiekeuses, wat my vul met ʼn gevoel van prestasie. Op die pad leef ek myself uit en vind ek nuwe stories tussen die mense en geboue van die area.

Toe ek tuisonderrig aangebied het, was ons vakansies so gereël dat dit interessant en leersaam was. Ons het museums en fabrieke besoek. Vanaf die gebaande weë beweeg en plekke 'ontdek' wat ons nie van bewus was nie. Dit is een ding om te lees van ʼn plek, maar ʼn ander om dit fisies te beleef.

Net so is dit met die Woord van God. Dit is een ding om te weet, maar ʼn ander om dit te beleef. Veral wanneer jy begin vra: “Here gebruik my,” en Hy doen dit. Dan word die Bybel ʼn ontuitputbare bron van invloede waarin Bybelse figure jou rolmodel word. Jy ontwikkel ʼn sug na meer. Na die dieper dinge wat slegs deur God gevul kan word.

Ek wil jou vandag uitdaag om die Woord te lees as ʼn werklikheid. Nie as ʼn boek van verhale nie, maar as ʼn boek gevul met waarhede wat jou kan lei tot by jou versugtinge. God se realiteite is nie ouvroustories of net ʼn klomp reëls wat jou fun wil stop nie. Dit is ʼn boek wat jou inspireer, vul en bekragtig. Dit stel jou voor aan ander plekke en gebruike. Dit maak jou oop om God se wonders te beleef. Dit vul jou met ʼn diepe respek vir elke figuur. Van Adam en Eva tot Johannes, die geliefde vriend van Christus, leer jy van God se hart vir jou en die mense om jou.

God se rol is om jou te leer van Jesus Christus, en om in ʼn verhouding met Christus en die Heilige Gees te wees. Hier ontdek jy nuwe wêrelde en vind dat God se Woord nie net ʼn storieboek is wat jy saans lees net voor bedtyd nie, maar ʼn werksboek wat jou leer hoe om die onmoontlike te bereik. Wat jou vul met dankbaarheid en jou leer hoe om diensbaar te wees.

“Die woord van God is lewend en kragtig.” Hebr 4:12a (Afr83).

Hoe meer tyd jy spandeer met God en sy gesalfdes, hoe meer kan jy leer van hulle en hul lesse /voorbeelde navolg.

Immers is dit die doel van ʼn rolmodel. Hulle begeester jou om meer te bereik as wat jy gedink het jy kan doen.

Vind jou rolmodel in God en sien wat Hy vir jou sal doen.

Jy is ‘n geseënde van die Here.  

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting

 

Pointers on how to navigate through this life.

  A Sixty-Year-Old’s Perspective. As we become older it’s easier to look at life and what we have learned because we look in retrospection...