Sunday, December 18, 2022

Dagstukkie: Wie beïnvloed ons lewens?

 


        Vanoggend het ek en Isak oor indrukke gesels en die invloed wat dit op ons denke het. God maan ons hieroor omdat net Hy die volle prentjie verstaan. Sonder die volle prentjie kan ons ʼn persoon oordeel vanuit hul aksies en woorde tot groot ontnugtering.

Almal het ʼn verhaal wat niemand van weet nie. Nie eers ons ouers of sibbe nie, omdat hulle nie elke minuut van die dag by ons is of ons gedagtes weet nie.

So het dit gekom dat ons gepraat het van Bybelwaarhede en hoe elkeen dit interpreteer en hoe dit die besluite wat ons maak beïnvloed. So, bring dit my toe terug na ʼn tyd baie lank gelede en die inpak wat dit in my lewe gehad het.

As kind het my ma kinderkrans gegee. Ek onthou vaagweg die tye wat sy ingesit het ter voorbereiding daarvan. Wanneer die kinders dan by ons aan huis gekom het, was die geïllustreerde borde netjies uitgestal. Daarop het sy breedvoerig aan ons die reise van Paulus vertel.

Dit was ʼn oog-oopmakende tyd in my lewe. Ek het die kaarte so gesit en kyk en gewonder waar is die plekke. As agtjarige het ek nie besef dat daar ʼn groter wêreld daar buite is as my eie wêreld nie. Maar op daardie dag is my wêrelde vergroot. Opgewondenheid het deur my gebruis. Die wonder so groot en so sterk dat ek dit vandag nog beleef.

Agterna het ek my skoolatlas vir die eerste keer nadergetrek en gelees. Daarin het ek lande, kontinente en eilande ontdek. Ek het die groot oseane gesien en die dieptes gelees sonder om werklik te besef hoe diep is diep. ʼn Nuwe wêreld het vir my oopgemaak.

Hierdie sug om te reis is daar gebore. Ek het elke boek gelees wat ek kon en tot die slotsom gekom dat indien ek dit wou beleef, moet ek vlieg. Ek het ontdek dat mens as lugwaardin hierdie wêreld kan betree en opgelees oor die vereistes vir hierdie pos.

Tydens die vakkeuses in standard vyf het ek Duits as een van my vakke vir standard ses gekies. Ek was doelgerig en opgewonde daaroor en het die derde taal met ywer aangepak.

Ek het nooit ʼn lugwaardin geword nie, maar leef my liefde vir reis op ander maniere uit. Dit gee die toon aan vir vakansiekeuses, wat my vul met ʼn gevoel van prestasie. Op die pad leef ek myself uit en vind ek nuwe stories tussen die mense en geboue van die area.

Toe ek tuisonderrig aangebied het, was ons vakansies so gereël dat dit interessant en leersaam was. Ons het museums en fabrieke besoek. Vanaf die gebaande weë beweeg en plekke 'ontdek' wat ons nie van bewus was nie. Dit is een ding om te lees van ʼn plek, maar ʼn ander om dit fisies te beleef.

Net so is dit met die Woord van God. Dit is een ding om te weet, maar ʼn ander om dit te beleef. Veral wanneer jy begin vra: “Here gebruik my,” en Hy doen dit. Dan word die Bybel ʼn ontuitputbare bron van invloede waarin Bybelse figure jou rolmodel word. Jy ontwikkel ʼn sug na meer. Na die dieper dinge wat slegs deur God gevul kan word.

Ek wil jou vandag uitdaag om die Woord te lees as ʼn werklikheid. Nie as ʼn boek van verhale nie, maar as ʼn boek gevul met waarhede wat jou kan lei tot by jou versugtinge. God se realiteite is nie ouvroustories of net ʼn klomp reëls wat jou fun wil stop nie. Dit is ʼn boek wat jou inspireer, vul en bekragtig. Dit stel jou voor aan ander plekke en gebruike. Dit maak jou oop om God se wonders te beleef. Dit vul jou met ʼn diepe respek vir elke figuur. Van Adam en Eva tot Johannes, die geliefde vriend van Christus, leer jy van God se hart vir jou en die mense om jou.

God se rol is om jou te leer van Jesus Christus, en om in ʼn verhouding met Christus en die Heilige Gees te wees. Hier ontdek jy nuwe wêrelde en vind dat God se Woord nie net ʼn storieboek is wat jy saans lees net voor bedtyd nie, maar ʼn werksboek wat jou leer hoe om die onmoontlike te bereik. Wat jou vul met dankbaarheid en jou leer hoe om diensbaar te wees.

“Die woord van God is lewend en kragtig.” Hebr 4:12a (Afr83).

Hoe meer tyd jy spandeer met God en sy gesalfdes, hoe meer kan jy leer van hulle en hul lesse /voorbeelde navolg.

Immers is dit die doel van ʼn rolmodel. Hulle begeester jou om meer te bereik as wat jy gedink het jy kan doen.

Vind jou rolmodel in God en sien wat Hy vir jou sal doen.

Jy is ‘n geseënde van die Here.  

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting

 

No comments:

Post a Comment

Day Twelve: Fear And Despair Has Been Destroyed.

  This is the last day of this bible plan and I trust that I have planted a seed of hope into your life. You can have the victory if you fol...