My ma het hoë standaarde gehad en as kind het ek dit altyd gefaal. Sonder uitsondering. Of dit nou was om ʼn koek te bak, ʼn rok te maak of mense te groet. Ek was gewoonlik in die moeilikheid. My handelinge het haar nie aangestaan nie. Ek onthou ʼn gesprek tussen my ouers tydens een so ʼn geleentheid van mislukking toe hulle gepraat het van ʼn afrondingskool. Dit het natuurlik nooit gebeur nie en ek het die wêreld betree met die gedagte dat ek net nooit goed genoeg was nie.
Rondom standard 4 – of Graad 6 soos dit vandag bekend is, was ek gekys
met ʼn outjie in my klas. Sy ma was ʼn baas bakster en kleremaker en het tot
pakke klere vir hom en sy pa gemaak. Terug by die huis, na ʼn Sondagmiddagkuier,
was ek vertel hoe ek my sokkies sal moet optrek as ek enigsins aan trou wil
dink. Ek was elf jaar oud. Ek het geen benul gehad van liefde, trou, klere of kos
maak nie, maar die aanmerking het sy merk gelaat. Die kys het nie gehou verby
standard 5 nie, want ek was vrek bang.
Bang vir die skaal van mislukking.
Eers as huisvrou kon ek ontspan en leer om te kook en naaldwerk te doen.
My ma was nie daar om oor my skouer te loer of te veroordeel nie. Ek het als
myself geleer. Dankie Vader vir resepteboeke en patrone.
Ek was ʼn kranige konfytkoker, bakker en was lief vir brei en
borduurwerk. Maar in my ouerhuis het ek geweier om te help, juis vir al die
vergelykings en verwagtings wat op my geplaas was.
Hierdie vergelykings, gemeet met ander mense se standaarde, was ʼn bron
van baie trane en verwerping tot diep in my grootmensjare. Ek het eers op
vyftig geleer om my eie pad te stap, sonder die alewige opweging. Ek het vry
gevoel om my passies uit te leef.
Die vergelykingsindroom het deurgeslaan in my verhouding met ander
mense, by die kerk en ook in my enkelloopdae. As vrou was ek vertel ek het my
kinders nie lief genoeg nie of dat ek my man nie genoeg stimuleer in die
slaapkamer nie. Ek was vergelyk met medegelowiges. Die weegskaal het altyd na
die verkeerde kant toe getrek, ongeag hoeveel keer ek probeer het om in te pas.
Dit was ʼn aanhoudende geveg om aanvaarding. Die trane het dae lank sonder ophou
gevloei daaroor.
Dit het gevoel God weeg my en ek is altyd verkeerd. Ek het gedink dit is
onregverdig dat mense my so behandel en gou sou die trane omsit in bitterheid
en woede.
Gedurende hierdie tye van selfbejammering het ek myself toegesluit en
binne my huis rustigheid gekry. Ek is vandag nog so. Die geringste teenkanting
veroorsaak dat ek die kamerdeur toe maak en my verdiep in skryf of lees.
Die enigste twee plekke waar ek die vryheid het sonder veroordeling, is
by God en boeke.
My hemelse Vader aanvaar my net soos ek is. Daar is geen vergelykings
nie, geen kompetisies nie en geen verwerping nie. Wanneer Hy sê ek is lief vir
jou, glo ek Hom. God is my bron en regverdigmaking. In Hom vind ek rus.
Romeine 8:1-2 (1983 vertaling): “Daar is dus nou
geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees
wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van
sonde en dood.”
Is dit nie ʼn wonderlike skrifgedeelte nie?
Daar is dan geen veroordeling nie – lees dit ʼn paar keer. Vader
se aanvaarding is baie beter as die mens sʼn. Of dit nou ʼn ouer is of ʼn sib wat
jou onder veroordeling bring, Vader kom haal daardie gewig van jou skouers af.
Ek en jy is vrygemaak van die sondige wet. Daardie wet wat ons weeg, ons
veroordeel en verwerp. Toe ek dit die eerstemaal hoor – werklik hoor in 1992,
het dit my lewe verander. Dit het my uitkyk verander en my sin gegee.
Het die seer nog gekom? Beslis ja. Maar ek het nou die wapen gehad om
dit te oorwin.
Dit was ʼn gelydelike proses. Jy sien, aanvanklik glo ons nie die woorde
nie. Die oomblik dat dit lewend word – rhema woord - dan staan ons op. Christus
Jesus se opstandingskrag vloei deur ons are en ons leef dit.
Daarom help dit nie om dit net te lees nie. Jy moet dit inneem, en deel
maak van jou. Plak dit vas teen enige kas waar jy dit daagliks kan sien.
Memoriseer dit. Bid dit. Sê dit op. Leef dit.
Romeine 8 is ʼn goeie punt om te begin op die pad van regverdigmaking of herstel.
Dit is die flits vir jou pad en gee jou ‘n vaste fondasie. Vers 10 lees: “Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond
van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van
die sonde.” Vers 11: “Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood
opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is,
ook julle sterflike liggame lewend maak deur Sy Gees wat in julle woon.”
M.a.w. God maak dit wat in jou dood is lewend. Hy spuit dit in met
goddelike suurstof en gee jou die krag om daardie gevoelens van: “ek is nie
goed genoeg nie” te beveg. Dit hou jou staande en gee jou die rede om die lewe
opnuut in die oë te kyk.
Is dit nie tyd om vry te kom van hierdie dooie punt in jou lewe nie?
Roep God aan en neem sy Woord ter harte.
Onthou: Jy is ʼn geseënde van die Here.
Lynelle Clark
Skakels van 'n Ketting