Showing posts with label Afrikaans. Show all posts
Showing posts with label Afrikaans. Show all posts

Monday, December 4, 2023

Gala-naweek 30 Nov - 03 Des 2023



Tien weke van sweet, en die afwagting na die Gala-naweek, het hoogty gevier die afgelope paar weke.

Skrywers en digters moes behoorlik klippe kou of was dit nou woorde rond skoffel om in aanmerking te kon kom vir die naweek se vyfster bederf, en nou bly net herinneringe oor. Nuwe bande was gesmee hande gevat met bekendes, legendes en wenners. 

Hartlik dankie aan Louis en Dezzi Liebenberg vir jul opofferings om ander se lewens te verreik. Bande is opnuut versterk en nuwe planne gesmee wat belowe om nog groter te gaan. Die man is net nie bang vir enige uitdaging nie. Dezzi se borrelende geaardheid, en sagte hart het almal aangeraak. 

Nicky van Heerden, Ronelle Kleynhans en hul span se reëlings was perfek. Niks was ontsien om van die geleentheid 'n treffer te maak nie. Jul harde werk en omgee word opreg waardeer.

Elke mede-beoordelaar en Die Waarheid Media (Dirk, Letitia, Sonja en span), dankie vir nog 'n geslaagde kompetisie en ook jul harde werk net sodat die digters en skrywers erkenning kan kry en dan nog heerlik bederf kon word. 

Khaya Ibhubesi personeel: jul diens was onverbeterlike, jul vriendelikheid en gasvryheid plus die heerlike etes was die room van die naweek. Alles was professioneel en uit die boonsterakke. 

Hoogtepunte was te veel om op te noem maar almal was dit eens, Oom Koos Roets en Eunice Visser het die vyfster in 'n lushof van woord-plesier gemaak. Net om in hul teenwoordigheid te kon wees was al klaar 'n wenprys. Charl-Pierre Naudé en Fanie de Villiers (Kleinboer), wat 'n voorreg om weer te kon gesels rondom 'n heerlike ete. Jul sterre sal nog verder skyn as net die grense van ons land.

Gala Naweek deur Lynelle Clark

Sunday, November 19, 2023

Boek Vrystelling: Verlore Gisters deur Lynelle Clark

 


Genre: Misterieuse Spanningsverhaal

Uitgewer: Ns. Skrywershuis Publikasies

Novelle: 25058 woorde

ISBN: 978-1-7764392-8-7

Bladsye: 85

 

 

Sinopsis

 

Die Kennis van Goed en Kwaad is die dryfveer van Verlore Gisters. In ons daaglikse keuses berus die besluit by ons watter een sal seëvier. Kies ons verkeerd, wel, dan moet ons die prys betaal. Die vraag is wat sal jy doen om jou kind se nagedagtenis in ere te herstel? 

Bertha Geldenhuis se lewe het ’n lelike draai gemaak die dag toe sy met Heino Beetge en sy vriende deurmekaar geraak het. Die prys van dié vriendskap het haar alles wat belangrik is gekos.  

Wanneer hoop net ’n vae begrip word en vriendskap yler as hoendertande, dan weet jy jou keuse was ʼn fout. Sou sy die een hand wat wel na haar uitgehou word vat, of sou sy aanhou om die verkeerde besluite te neem? Die besluit van kennis van goed ... of kwaad? 

Luitenant-Kolonel Hendrik Swanepoel is op die drumpel van aftrede. Sy lewe as oujongkêrel en toegewyde polisieman was vervullend. Maar die dag toe hy Bertha Geldenhuis ontmoet, was sy keuses afgebaken in hoopvolle meetsnoere.  

Met die ewige vraag: wat beteken die kennis van goed en kwaad nou eintlik, word hy aangespoor om die antwoord vir Bertha te soek. Wat hy vind is meer as net ’n antwoord. Dit is ’n openbaring wat hom op wye draaie sou vat.  

Hoop is soms al wat ons het om aan vas te hou ...  

’n Spannende misterie-novelle.  

 

Skakels:
Goodreads: Verlore Gisters, ’n Spannende misterie-novelle.
Amazon / Smashwords


 

 

Monday, April 17, 2023

Dagstukkie: ‘n Sterk tou


Pappa, ouboet en ma. ʼn Onlosmaaklike Drie-eenheid.

Dit is hoe ons die Goddelike Drie-eenheid op menslike vlak kan beskryf.

Hemelse Vader is ons Pappa. Die een wat als onderhou. Die een wat praat en wêrelde kom in plek. Lig maak plek vir duisternis en die aarde breek oop en gee kos aan elkeen van ons – mens en dier.

Jesus Christus is ons Ouboet. Die een wat in die bres tree wanneer ons droog maak. Die een wat by ons bly wanneer ons bang is. Die een wat ons kom leer wie die Vader is en dit makliker maak om die Woord te verstaan omdat Hy die Woord is.

Heilige Gees is die ma. Die een wat ons vertroos, ons leer, ons vashou en soen wanneer ons dit nodig het. Die een wat ons aanpor om nog beter te doen en wat in die bres tree wanneer ons foute gemaak het.

ʼn Onlosmaaklike drie-eenheid met wie ons elkeen kan identifiseer. Baie van ons prentjies is skeef wanneer dit kom by elkeen van hierdie figure juis omdat ons verhoudings met pa, broer/suster en ma nie altyd van die beste is nie. Dan projekteer ons daardie argwaan en seer op die Goddelike eweknie.

Persoonlik kan ek daarmee identifiseer.

Ek bly by my pa. My pa is 80 en daar is 24 jaar verskil tussen ons. Hy sien my as die klein dogtertjie wat elke dag geleer moet word. Van kosmaak tot wat ek eet. Bestuur is ʼn nagmerrie wanneer hy in die kar is. En, indien ek nie waaksaam is nie, kan my gevoelens van disrespek en woede geprojekteer word na die hemelse Vader. Dan moet ek rustig raak, kop hou en verby die seerdinge kyk.

Omdat hy vergeetagtig is, sal hy gedurig stry omdat ek kwansuis nie die vloer gewas het nie. Dit sal hy dan aan almal wat wil hoor vertel. Volgens hom doen ek dan niks in die huis nie. Daardie doelbewuste leuen maak my witwarm by tye. Soms stap ek weg, ander kere wil ek myself verdedig.

Net so met my broer. Daar is tye wat ek en hy net nie eye-to-eye sien nie. Dan ontaard dit in ʼn bakleiery wat my stom laat. Dit laat wonde en ek vind na so ʼn skermutseling dat my verhouding met Christus daaronder lei. Dit ontneem my van vrymoedigheid en ek sal eerder met die Vader praat as met Jesus tydens die skermutselings.

Omdat my ma alreeds by die Vader is, is die tekort aan aanvaarding en liefde ʼn groot leemte in my lewe, en vind ek dat ek min met die Heilige Gees praat. Ek is bewus van sy werkinge in en deur my, maar ek gee Hom nie altyd die plek wat Hy verdien nie.

Ons aardse verhoudings het ʼn rol te speel met ons toenadering tot God. Meer as wat ons soms wil erken. Maar dit is juis hierdie verhoudings wat ons opbou en die skanse afbreek om nederig te bly.

Verhoudings op elke vlak is ʼn daaglikse oefening van gee en neem. Indien ek nie moeite doen om te gee van my kant nie, kan ek nie ontvang nie. Ek kan ook nie elke keer net verwag om te kry as ek nie my kant bring nie. Deur daaglikse kontak leer ons mekaar ken. Ek weet hoe my pa van sy tee hou. Op watter tye hy koffie sal drink. Elke ete het sy eie eetgerei. Ek moet dit weet anders is daar moeilikheid.

Net so is die verhouding met die Goddelike drie-eenheid. Indien ek nie my besige program eenkant toe skuif en tyd maak met die Bybel en bid nie, gaan ek nie elkeen se hart leer ken nie. Ek gaan nie weet hoe hulle oor my voel nie. Watse raad hulle vir my wil gee of hoe om op te tree in ʼn spesifieke situasie nie.

In kort, ek gaan in die donker rondtas met geen duidelikheid in ʼn gegewe situasie nie.

Nie my pa of broer glo daaraan om verskoning te vra nie, en ek het al geleer om net verby dit te kom op my manier. Hulle manier van flikflooi sal wees om te skimp vir ietsie lekker om te eet. Of, kan ek asseblief die vlek op ʼn broek uithaal. Dan weet ek als is nou weer reg en kan ek met vrymoedigheid asemhaal.

Verhoudings is delikate organismes wat elkeen op meriete hanteer moet word. Die grootste gemene faktor is gewoonlik hoeveel keer ek bereid is om die knie te buig en hoeveel keer is ek bereid om te luister. Wanneer ek luister, hoor ek iets wat ek andersins sou gemis het.

Netso met my verhouding met God. Wanneer ek stil raak, minder word, dan hoor ek God se stem duidelik. Ek kan vrylik asemhaal, want nou verstaan ek, en my liefde vir God groei.

Waar kan jy minder word, sodat God meer kan word?

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting 2


Thursday, April 6, 2023

Dagstukkie: 'n Klein Klippie

 


“Koop ʼn sakkie sement, bou ʼn bruggie en kom daaroor.”

Het jy die stelling al gehoor of gebruik jy dit self?

Ek gebruik dit baie. Vernaamlik wanneer iemand sukkel om iets te verwerk: dit is gewoonlik in ligte luim bedoel en verwys na ʼn kleinigheid, in my oë. Soos ʼn bord wat breek en wanneer die persoon die hele dag daaroor kerm en kla. Of kla oor die kol op die mat … die lys kan nogal lank word.

Maar wat ek ook weet, wat vir my ʼn kleinigheid is, is vir ʼn ander ʼn groot probleem. Ons elkeen heg waarde aan verskillende dinge in ons lewens. Ons elkeen het ook die reg op ʼn opinie, maar wanneer dit ʼn probleem veroorsaak en gemoedere loop hoog, en dinge word gesê wat kon gebly het, raak dit ʼn probleem. Dit is hoe ons ‘n opinie lig wat gewoonlik die probleem vererger.

Hierdie tipe van situasie skuur enige verhouding tot teen die been.

Dit is soos ʼn klein klippie wat in jou skoen val en rondrol terwyl jy stap. Aanvanklik voel jy hom nie, maar dan besluit jy om ʼn lang ent te gaan stap sodat hy homself aan jou kan voorstel. Dit word naderhand onuithoudbaar ongemaklik. Jy kan dan stop en die klippie uitskud of jy kan dit ‘probeer’ ignoreer. Maar dit veroorsaak skaafplekke op jou hakke of tone wat oorsit in rousere. Dit word dan so seer dat jy later nie eers ʼn skoen kan aantrek nie.

Mense se vertroue word geskend net soos die vel wat oop gebreek word.

So is verhoudings.

Indien ons nie ruimte vir mekaar maak en help om daardie klippie te verwyder nie, dan verbreek dit vertroue en respek in ʼn groot mate. Dan word daardie klippie ʼn berg, so groot dat dit amper onmoontlik is om daaroor te kom. Dit kan mense selfs kniehalter in hul groei. Dit steel jou vreugde en vrede.

Hooglied praat van die jakkalsies wat die wingerd verwoes, of in hierdie geval ʼn verhouding verwoes.

Hooglied 2:15 “Vang julle vir ons die jakkalse, die klein jakkalse wat die wingerde verniel, want ons wingerde staan in die bloei.”

Wanneer hierdie klippie nie verwyder word nie, kan ʼn verhouding sleg seerkry. In sommige gevalle kan dit selfs generasies beïnvloed waar tweespalt aan die orde van die dag is – bloot net vir ʼn misverstand wat ontstaan het en waar twee mense te hardkoppig is om die saak uit te praat.

Hoe vinniger die klippie verwyder word, hoe vinniger kan vertroue herstel word.

Ons almal maak foute.

Goeie verhoudings verstaan die stelling en werk met mekaar om ʼn verhouding – waaraan hulle baie waarde heg, te laat werk. Hulle verwyder die jakkals en stap aan. Die verhouding is dan sterker as voorheen.

Die verhouding tussen ʼn ouer en kind, huweliksmaats, vriende, sosiale vriendskappe, werkers, die tuinman of bediende wat in jou huis werk – ons bou verhoudings met elkeen op ʼn ander manier. Elkeen se benadering is anders, juis omdat die dinamika verskil.

Verhoudings is gebaseer op intimiteit.

Wanneer jy ʼn huis bou, messel jy die sement tussen die stene in. Distansie word geminimaliseer deur die hoeveelheid sement wat gebruik word. Hoe meer sement – intimiteit: hoe nader aan mekaar, hoe beter die verhouding. Hierdie stene vorm dan ʼn unieke plek in die raamwerk van die huis. Indien dit swak gebou word, kan dit maklik kraak of selfs omwaai met die geringste wind.

Sement natuurlik, bestaan uit ʼn mengsel van sand, water en sementpoeier. Indien die verhouding nie reg is nie, kan dit nie sy werk doen nie. Net so is dit in enige verhouding. Indien die verhouding nie reg is nie, is daar geen werkbare produk om die muur te bou nie.

Daar moet eweveel vertroue, samehorigheid, liefde, geduld en respek wees van albei kante af. Indien nie, sal die sement afval.

Dink hieroor:

·         Wanneer laas het jy na jou verhoudings gekyk?

·         Is hulle gebou op goeie grond?

·         Wanneer laas het jy daaraan gewerk sodat die huis stewig kan wees?

·         Kan jy enige krake identifiseer?

 

Enige verhouding word gebou van twee kante af. Indien nie, sal die krake begin wys. Krake soos: geen kommunikasie, tyd, ongeduld, en onvergewensgesingheid.

Daarom is dit belangrik om dit voor die Vader te lê.

 

Gebed: Liewe Heer, help my vandag om die blinders af te haal van my eie lewe. Help my om --------------- (noem die probleem by naam) op te los. Ek bely my fout hierin. Help my om geduldig te wees met -------------- (noem die persoon se naam) en dat ons hierdie verhouding kan red. Help my om ʼn goeie bouer te wees waarvan die sement reg is.

In Jesus Naam, Amen.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting 2

Tuesday, January 31, 2023

Dagstukkie: Gee jou boom water

 


Alle plante het water nodig. Net so het ons ook water nodig.

Om te bly by die tema van die maand: Verhouding met myself, is dit nodig dat ons ook water inkry wat sorg dat ons buigbaar bly. Dit maak ons vatbaar vir nuwe gedagtes wat ons kennis verbreed.

Ons hoor baie dat ons water moet inneem vir gesondheidsredes; net so is dit belangrik om siels- en geestelike water in te kry. Die een is deur kennis in ʼn bepaalde rigting, die ander kennis van die Woord van God.

Sielsvoeding:

Op sielsvlak is kennis nodig vir groei. Vernaamlik vir ʼn vrou is dit nodig om werklik haar kennis te vermeerder om by te bly met die nuwe verwikkelinge. Dit is nie net goed om die oppervlak met toner te voed nie, maar die innerlike, verby veldiepte, het nodig om gevoed te word, sodat ons voorbereid kan wees vir enigiets wat op ons pad kom.

Dit kan gebeur dat jou lewe, soos wat jy dit tans ken, kan verander en dan moet jy uitspring. ʼn Beroep aanleer of ʼn besigheid moet begin om die inkomste aan te vul. Jy mag dalk dink dat jy te oud is, maar as ek op vyftig plus dit kon doen, kan jy ook.

Die belangrikheid van leer kan ons nie genoeg onderstreep nie. Alhoewel ek die sug gehad het om verder te leer in my jonger dae, was finansies altyd ʼn probleem. Ek was in opstand daaroor toe ek nodig gehad het om uit te spring. Ek het baie verskonings ook gehad en was in ʼn groot mate kwaad vir God omdat ek nooit die geleentheid kon kry nie. Daardie denk wyse het my baie teruggehou.

Wanneer ons nuwe inligting ontvang, word ons denke gevoed, wat op sy beurt weer ons siel voed. Dit dring deur tot elke laag van ons menswees en versprei so die kennis om ons nuttig te laat voel.

Ek onthou die tye wat ek nutteloos gevoel het. Die rede vir my bestaan bevraagteken het omdat ek gevoel het ek kan niks bydra nie.

Vandag, met die ondervinding wat ek opgedoen het, het ek dit nog meer besef. Elke leerfase in my lewe het ʼn nuwe lagie bygevoeg en ek het beter oor myself begin voel. Toe ek in eiendom gewerk het, moes ek baie kursusse doen wat my die kennis gegee het om eiendom te kon verkoop, maar dit het ook my as vrou goed laat voel. Dit het gevoel ek is besig om in my eie reg te kom. Dat ek ook saam kan praat en mense luister na my. Ek het ʼn ontwakende tyd betree wat my meer selfvertroue gegee het.

Toe ek die geleentheid kry om myself as lewensgids te bekwaam, het dit hierdie sug na meer gevoed en my eiewaarde herstel. Al is dit net iets wat jy vir jouself wil doen, kan ek dit werklik aanbeveel. Jy sal soveel ryker daarvan wegstap.

As skrywer het ek kursusse gedoen om my skryfkuns tot volle reg te laat kom. Dit alles het my ook outoriteit gegee. Van die uitbou, die vloei van die storie, en om al die gerammel weg te laat, sodat ek net by die storie kan uitkom. Dit het my ʼn sekerheid gegee wat niks anders vir my kon gee nie. Daardie sekerheid het my eiewaarde verder uitgebou, dit het my siel en gees verryk, en nou voel ek nie meer nutteloos nie, maar neem ek my volwaardige plek in.

Dit wat jy leer, kan niemand van jou af wegvat nie. Daardie kennis is gestoor en kom uit sodra jy dit nodig het. My sielsgrond gevoed met water van kennis wat nooit kan opdroog nie.

Geestelike voeding:

Geestelike voeding is net so belangrik. Dit kry jy deur tyd in die Woord te spandeer en werklik God se wil te verstaan. Die hoeveelheid tyd wat jy spandeer aan Woordstudie, is gelykstaande aan jou groei as mens, as vrou, en vir elke ander titel waaraan jy voldoen.

Albei hierdie aspekte van water se doel is om jou buigbaar te maak vir wat Vader in jou lewe wil doen. Dit gee jou daardie een stappie bo die ander om verder te beweeg en jou volle potensiaal uit te leef.

Hoe meer tyd jy daaraan spandeer, hoe sterker word jou boom. Hoe groter jou boom, hoe groter die skaduwee wat jy gee.

Ek wil jou uitnooi om jou boom water te gee. Dit maak nie saak waar jy begin nie. Dit hoef nie noodwendig ʼn graad te wees nie, maar soek vir geleenthede waar jy vars water kan inkry en so jou boom kan voed.

Vra die Vader om deure vir jou oop te maak en stap dit met vertroue tegemoet. Belê in jouself.

 

Lees Psalms 1:3 en maak dit vandag jou eie.

Onthou: Jy is ʼn geseënde van die Here.

 

 

Lynelle Clark  

Skakels van 'n Ketting 

Sunday, December 11, 2022

Dagstukkie: Ek, myself en julle.

 


ʼn Mens wil dit nie altyd openlik erken nie. Jy voel gemeen om dit selfs te dink, selfs dankbaar, maar die feit is jy, jou ouers en sibbe, het meningsverskille, lelikes.

 Elkeen dink anders, en voel anders en daar moet ʼn weg gevind word om mekaar te verstaan en saam te te leef. Indien nie, sal julle mekaar uitskel, miskien skoene rondgooi en daardie lelike woorde hardop gesê word: “Ek haat jou!” Daardie woorde wat jy altyd net gedink het word nou ‘n werklikheid en nou moet jy met dit deel.

Ek onthou toe my eie dogter dit vir my geskreeu het. Die absolute skok wat daarmee saam gegaan het, het my sprakeloos gelaat. Ek kan nie eers meer onthou waaroor dit gegaan het nie, maar daardie woorde het lank by my gebly. Dit het bitter seergemaak. Jare later kon ek en sy dit eers uitsorteer.

In my ouerhuis is ons nooit geleer hoe om konflik te hanteer nie. My benadering was om opgeblase kamer toe te gaan, die deur toe te klap en te lees. Ek en my jonger suster het ook ʼn kamer gedeel. Daar is ʼn ouderdomsverskil van vyf jaar tussen ons en ons kon nooit werklik goed oor die weg kom nie. Selfs nou, jare later, is daar nog steeds ʼn styfheid tussen ons.

My ma se manier van konflikhantering was om goed in die kombuis rond te gooi, bitsig te wees en almal te byt wat in haar omtrek kom. My pa het aan stilstuipe gelei en agter die koerant gebly. Sus het begin huil, later onttrek en Barbie gespeel. Op daardie stadium was die twee jongstes nog te klein om werklik deel te neem aan die gevegte. Die ouderdomsverskille te groot. Nou, na al die jare kom ons goed oor die weg, maar toe was die twaalf jaar oue verskil ʼn seer werklikheid en ek het beslis nie belang gestel in hul baba nukke nie.

Teen matriek wou ek met alle geweld uit die huis uit. Twee jaar later is ek getroud en kon ek uiteindelik die huis verlaat. Dit was ʼn blye dag. Toe my eie kinders gebore is moes ek nie net leer van konflikhantering nie, maar moes ek hulle ook leer. Soos reeds genoem was dit nie maanskyn en rose nie.

Op sewe en twintig het ek die Here ontmoet en toe eers kon ek leer hoe.

Die proses het by myself begin. Ek moes leer om stil te staan, stil te bly, en te luister. Ek moes leer om nederig te word, ander te dien, en Christus te volg. Dit was ʼn eina tydperk van self-aflegging. Die eie-ek kruisig. Ek moes my wil teen die kruis vas spyker en toe te laat dat die Heilige Gees my lei voor ek my kinders kon leer.

Ek het baie foute gemaak in die tyd. Met baie mense baklei en wanneer hulle terugbaklei het ek nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Dit was soos raaisels wat my nagte se rus ontneem het totdat ek by die resultaat kon uitkom.

Om ons eie-ek te kruisig is nie maklik nie. Vir ʼn sekere aantal jare is jy gewoond om te sê, te dink en te doen wat jy wil. Jou wil het geseëvier. Maar die oomblik wanneer jy jou knie buig voor God die Almagtige Vader dan moet daardie wil buig.

Daar is ʼn spreekwoord wat lui: knak die boompie terwyl hy jonk is. Maar wanneer daardie boompie al oud is, is dit moeilik. Die treë stadig en die kop hardkoppig.

Die eerste les wat ek moes leer was om omverskoning te vra en te vergewe. Ek moes fisies na my ma toe gaan en haar vergifnis vra en haar vergewe.

Deel van vergifnis is om te erken jy is ook skuldig. Elke saak het twee kante. Elkeen dink en voel anders oor iets. Nie een is verkeerd of reg nie. Elkeen se opinie is belangrik en moet in ag geneem word. Elkeen moet bereid wees om te bely en reg te maak. Elkeen verdien daardie onvoorwaardelike liefde.

Ek moes dit ook met my skoonma doen. Ek kan al hoor hoe trek jy die asem in. Jy het reg gelees: ook jou skoonma. Dit is moeilik, maar doenbaar.

Die vreugde van vergifnis kan ek nie genoeg beskryf nie. Dit is die neerlê van die self en die nuwe kleed van verootmoediging aantrek. Daarmee saam moet jy leer om geduldig te wees, te luister. Nie jou eie belang te soek nie. Nie opgeblase te wees nie. Nie die splinter in iemand anders se oog te sien en jou eie balk te ignoreer nie. Dit klink amper soos iets uit die Bybel nie waar nie. Jy is heeltemal reg.

1 Korintiërs 13 AFR83. Dit begin sommer van die eerste vers af:Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is,”

Tyd en woorde ontneem my om verder uit te brei, maar gaan lees dit gerus. Dan doen jy dit en sien wat ʼn lieflike geur word jy vir die Here. Een wat konflik kan hanteer en Vader verheerlik in die proses.

Jy is voorwaar ʼn geseënde van die Here.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting

 

Sunday, November 27, 2022

Dagstukkie: Vergelykings se onsekerhede.

 

Picture from Google

My ma het hoë standaarde gehad en as kind het ek dit altyd gefaal. Sonder uitsondering. Of dit nou was om ʼn koek te bak, ʼn rok te maak of mense te groet. Ek was gewoonlik in die moeilikheid. My handelinge het haar nie aangestaan nie. Ek onthou ʼn gesprek tussen my ouers tydens een so ʼn geleentheid van mislukking toe hulle gepraat het van ʼn afrondingskool. Dit het natuurlik nooit gebeur nie en ek het die wêreld betree met die gedagte dat ek net nooit goed genoeg was nie.

Rondom standard 4 – of Graad 6 soos dit vandag bekend is, was ek gekys met ʼn outjie in my klas. Sy ma was ʼn baas bakster en kleremaker en het tot pakke klere vir hom en sy pa gemaak. Terug by die huis, na ʼn Sondagmiddagkuier, was ek vertel hoe ek my sokkies sal moet optrek as ek enigsins aan trou wil dink. Ek was elf jaar oud. Ek het geen benul gehad van liefde, trou, klere of kos maak nie, maar die aanmerking het sy merk gelaat. Die kys het nie gehou verby standard 5 nie, want ek was vrek bang.

Bang vir die skaal van mislukking.

Eers as huisvrou kon ek ontspan en leer om te kook en naaldwerk te doen. My ma was nie daar om oor my skouer te loer of te veroordeel nie. Ek het als myself geleer. Dankie Vader vir resepteboeke en patrone.

Ek was ʼn kranige konfytkoker, bakker en was lief vir brei en borduurwerk. Maar in my ouerhuis het ek geweier om te help, juis vir al die vergelykings en verwagtings wat op my geplaas was.

Hierdie vergelykings, gemeet met ander mense se standaarde, was ʼn bron van baie trane en verwerping tot diep in my grootmensjare. Ek het eers op vyftig geleer om my eie pad te stap, sonder die alewige opweging. Ek het vry gevoel om my passies uit te leef.

Die vergelykingsindroom het deurgeslaan in my verhouding met ander mense, by die kerk en ook in my enkelloopdae. As vrou was ek vertel ek het my kinders nie lief genoeg nie of dat ek my man nie genoeg stimuleer in die slaapkamer nie. Ek was vergelyk met medegelowiges. Die weegskaal het altyd na die verkeerde kant toe getrek, ongeag hoeveel keer ek probeer het om in te pas. Dit was ʼn aanhoudende geveg om aanvaarding. Die trane het dae lank sonder ophou gevloei daaroor.

Dit het gevoel God weeg my en ek is altyd verkeerd. Ek het gedink dit is onregverdig dat mense my so behandel en gou sou die trane omsit in bitterheid en woede.

Gedurende hierdie tye van selfbejammering het ek myself toegesluit en binne my huis rustigheid gekry. Ek is vandag nog so. Die geringste teenkanting veroorsaak dat ek die kamerdeur toe maak en my verdiep in skryf of lees.

Die enigste twee plekke waar ek die vryheid het sonder veroordeling, is by God en boeke. 

My hemelse Vader aanvaar my net soos ek is. Daar is geen vergelykings nie, geen kompetisies nie en geen verwerping nie. Wanneer Hy sê ek is lief vir jou, glo ek Hom. God is my bron en regverdigmaking. In Hom vind ek rus.

Romeine 8:1-2 (1983 vertaling): “Daar is dus nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood.”

Is dit nie ʼn wonderlike skrifgedeelte nie?

Daar is dan geen veroordeling nie – lees dit ʼn paar keer. Vader se aanvaarding is baie beter as die mens sʼn. Of dit nou ʼn ouer is of ʼn sib wat jou onder veroordeling bring, Vader kom haal daardie gewig van jou skouers af. Ek en jy is vrygemaak van die sondige wet. Daardie wet wat ons weeg, ons veroordeel en verwerp. Toe ek dit die eerstemaal hoor – werklik hoor in 1992, het dit my lewe verander. Dit het my uitkyk verander en my sin gegee.

Het die seer nog gekom? Beslis ja. Maar ek het nou die wapen gehad om dit te oorwin.

Dit was ʼn gelydelike proses. Jy sien, aanvanklik glo ons nie die woorde nie. Die oomblik dat dit lewend word – rhema woord - dan staan ons op. Christus Jesus se opstandingskrag vloei deur ons are en ons leef dit.

Daarom help dit nie om dit net te lees nie. Jy moet dit inneem, en deel maak van jou. Plak dit vas teen enige kas waar jy dit daagliks kan sien. Memoriseer dit. Bid dit. Sê dit op. Leef dit.

Romeine 8 is ʼn goeie punt om te begin op die pad van regverdigmaking of herstel. Dit is die flits vir jou pad en gee jou ‘n vaste fondasie. Vers 10 lees: “Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde.” Vers 11: “Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur Sy Gees wat in julle woon.”

M.a.w. God maak dit wat in jou dood is lewend. Hy spuit dit in met goddelike suurstof en gee jou die krag om daardie gevoelens van: “ek is nie goed genoeg nie” te beveg. Dit hou jou staande en gee jou die rede om die lewe opnuut in die oë te kyk.

Is dit nie tyd om vry te kom van hierdie dooie punt in jou lewe nie?

Roep God aan en neem sy Woord ter harte.

 

Onthou: Jy is ʼn geseënde van die Here.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting

Sunday, November 20, 2022

Dagstukkies: Laat die Woord jou skoon was

 


My grootword jare was gekenmerk deur twyfelagtige gedagtes van ‘wie is ek’, en waar hoort ek. Ek was ʼn baie onseker mens wat die heeltyd op soek was na stabiliteit. Baie van hierdie twyfel was gesetel in leuens wat ek geglo het. Leuens veroorsaak deur die ongevoeligheid van familielede. Dit was versterk deur die manier wat ek groot gemaak is, teenoor hoe my sibbe groot gemaak is.

My ouers was baie streng teenoor my. Vandag is ek dankbaar daaroor, maar daardie tyd het ek gedink hulle haat my.

Jaloesie was ʼn groot dryfveer wat ons vandag nog belemmer om ʼn goeie verhouding te hê. Die ouderdomsverskil het natuurlik ook by gedra tot die skeiding. Jare se troebelheid het die water brak gelaat en dit is met moeite wat die verhoudinge onderhou word.

My ouers is goeie mense en het my grootgemaak volgens hul onsekerhede, kennis en ervarings. Ek het nog altyd ʼn diepe dankbaarheid vir hulle, ongeag my gevoelens. Hulle voorbeeld en getrouheid een van my groot pilare waarop ek kon staan.

My ma het my geleer van dryfkrag en onvoorwaardelike liefde. My pa hoe om logies na ʼn situasie te kyk. Ek het die waarde van familie by hulle geleer. My liefde vir die land het ek van my pa gekry, asook liefde vir boeke. My Blog “Inspire to Read,” se leuse is: “Be inspired! Read Books.” Ek leef dit. Nie net omdat ek lief is vir lees nie, maar die voordele wat dit inhou.

Maar tog kon ek nooit die antwoord: wie is ek? Kry nie

My twyfelgedagtes het deurgeslaan in elke faset van my lewe. Van die mees onbenulligste dingetjies tot lewensbelangrike keuses was beïnvloed.

Ek het als bevraagteken, maar skugter gebly: elke keer wat ek spontaan opgetree het was ek in die bek geruk, wat veroorsaak het dat ek mense eenkant toe geskuif het en myself verloor het in boeke. Vandag is dit nogsteeds vir my moeilik om spontaan te wees.

Boeke was ʼn veilige hawe te midde van die onderstrominge wat in die huis en later in my eie lewe geheers het. Maar dit het my ook in verkeerde rigtings gestuur wat lank by my gespook het daarna.

My toekomsplanne moes plek maak vir verantwoordelikhede waarvoor ek nog nie reg was nie. Dit het ek uitgehaal op my gewese man deur woede-aanvalle en stilstuipe. Als het daaronder gelei.

In 1992 het ek tot bekering gekom en was die leuens vervang met waarheid. Dit het nie oornag gebeur nie. Soos wat ek gegroei het in die Woord, so het die waarheid deurgesyfer: ek was soos ʼn spons wat net gedrink het. Die Woord was soos vars water wat my denke, besluite en aksies beïnvloed het en kon ek elke onwaarheid verruil met waarheid.

Dit het tyd gevat om die leuens te vervang. Jare se bitterheid en seer moes afgeleer word en met nuwes vervang word. Dit het tyd gevat om werklik Vader se Woord as waarheid te glo, maar die oomblik wat dit gebeur het, het ek vry gevoel. Skoon; soos ʼn nuwe mens. Ek het tuis gekom.

 

Wat het ek geleer?

Leuens benadeel jou. Dit steel en ontmoedig jou van kosbare tyd.

Ek het toe gelaat dat die proses werk. Ek het toegelaat dat die Woord my was. Dit was nie maklik nie en soms was die proses pynlik maar ek het skoon gekom.

 

My boodskap aan jou:

Jou vryheid is duur gekoop. Laat toe dat Vader se woord jou ook was en dat waarheid die leuns vervang. Jy is dit aan jouself verskuldig.

Onthou: Jy is geseënd en hoogs bevoordeel deur ‘n Vader wat jou baie lief het.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting

 

 

Tuesday, November 8, 2022

MY GEBED VIR ’N BOER TWEE – nou beskikbaar!

 


MY GEBED VIR ’N BOER TWEE – nou beskikbaar!

Ondersteun Ns. Liefdesdiens met die aankope van hierdie unieke boek en dra so by tot ons liefdadigheidsfonds.
Inkomste uit die verkope word aangewend om professionele traumaberading te bied aan slagoffers van plaasaanvalle.
Ons boere is die produsente van ons land en voorsien ons van kos op ons tafels. Kom ons help hulle wie hulp nodig het.
Elke boek word gedruk uit die verkoopprys en wins word dan aangewend vir ons goeie doel.
INHOUD Die boek bestaan uit ’n versameling pragtige kortverhale, ware verhale en vertellings, kosbare gedigte, gebede en stories oor onbekendes. Dit dek die hele Suid-Afrika met bekendes en onbekendes wat bydraes gelewer het. Die boek bevat ook broodresepte.
FORMAATsagteband
BLADSYE 445
PRYS R300.00 (sluit paxi posgeld in)
ISBN 978-0-6397-2894-0
BESTEL PER E-POS bets.adminco@gmail.com
HOE OM TE BESTEL
1. Dui aan hoeveel boeke.
2. Verstrek die adres van jou naaste Pep Stores in jou e-pos.
3. Verstrek jou selfoonnommer (jy ontvang ’n boodskap wanneer jou pakkie gereed is vir afhaling).
4. Heg jou bewys van betaling aan by jou e-pos.
5. Gebruik asb. net jou NAAM EN VAN as verwysing met elektroniese betaling.
NEEM KENNIS
1. Ons kan nie bestellings prosesseer as al die inligting, soos aangevra, nie verstrek word nie.
2. Enige bestellings na 10 Desember 2022 sal in Januarie 2023 versend word.
3. Ons kan nie verantwoordelik gehou word vir verlore versendings nie (Paxi is beslis die beste en ons het geen probleme in die verlede gehad nie).
4. Ons maak NET GEBRUIK VAN PAXI en NIE koerierdienste nie.
INDIEN JY MEER AS EEN BOEK BESTEL
1. Indien jy meer as een boek bestel en na een afleweringsadres gestuur word, betaal jy net R60 paxi en vir elke boek R240.00. Byvoorbeeld: 4 x boeke = R960 + R60 (paxi) = R1000.00. Meer as 5 boeke sal die aflewering R80.00 beloop.
BANKBESONDERHEDE
BANK: Capitec Bank
BANK KODE: 470010
REK NO: 1736577741
REK NAAM: NS Act of love
Spaarrekening
JOU VERW: Naam & Van

Monday, October 31, 2022

Hoekom sing 'n ketel?



Vanoggend vroeg sit ek water op die gasstoof vir die gebruiklike koffie. Die huis is stil, geen stemme of radio wat die stilte versteur nie. Selfs die besige Prince George Rylaan is rustig. Ek vul die katte se bakke met kos en gaan sit op die stoel naaste aan die ketel.
Saggies begin ek te bid. Sommer net een van daardie stil gebede van lof en absolute danbaarheid toe ek die ketel opmerk. Ek bedoel werklik luister na die ketel. Die vlam al dansend in die ligte bries wat deur die huis waai.
En die volgende vraag val in my gees.
Hoekom sing 'n ketel?
Dit is eintlik dom as 'n mens daaraan dink. Hitte brand. Konstante hitte wat aanhoudend brand kan pynighend wees maar hier staan die ketel en sing. 'n Defnitiewe suising wat nie praat van seer nie maar opgewondenheid.
En die vraag kom weer op: hoekom sing 'n ketel?
Die antwoord het my sommer van die stoel af gelig.
Hy sing want hy vervul sy doel.
Wanneer laas was ons werklik gelukkig in wat God besig is om te doen in ons lewe? Al brand dit en is dit seer. Al is dinge onverstaanbaar en werk dit nie uit soos dit moet nie. Kan ons werklik sing soos die ketel binne ons omstandighede?
Ek vertrou dat ons ook ons liedjie sal laat hoor. Tenspyte van die hitte van die vlam is en bly Vader goed.
Mooi dag vir elkeen.

Lynelle 

Day Seven: Why Five Smooth Stones?

  1 Sam 17: 40Then he took his staff in his hand; and he chose for himself five smooth stones from the brook, and put them in a shepherd’s...