Thursday, April 6, 2023

Dagstukkie: 'n Klein Klippie

 


“Koop ʼn sakkie sement, bou ʼn bruggie en kom daaroor.”

Het jy die stelling al gehoor of gebruik jy dit self?

Ek gebruik dit baie. Vernaamlik wanneer iemand sukkel om iets te verwerk: dit is gewoonlik in ligte luim bedoel en verwys na ʼn kleinigheid, in my oë. Soos ʼn bord wat breek en wanneer die persoon die hele dag daaroor kerm en kla. Of kla oor die kol op die mat … die lys kan nogal lank word.

Maar wat ek ook weet, wat vir my ʼn kleinigheid is, is vir ʼn ander ʼn groot probleem. Ons elkeen heg waarde aan verskillende dinge in ons lewens. Ons elkeen het ook die reg op ʼn opinie, maar wanneer dit ʼn probleem veroorsaak en gemoedere loop hoog, en dinge word gesê wat kon gebly het, raak dit ʼn probleem. Dit is hoe ons ‘n opinie lig wat gewoonlik die probleem vererger.

Hierdie tipe van situasie skuur enige verhouding tot teen die been.

Dit is soos ʼn klein klippie wat in jou skoen val en rondrol terwyl jy stap. Aanvanklik voel jy hom nie, maar dan besluit jy om ʼn lang ent te gaan stap sodat hy homself aan jou kan voorstel. Dit word naderhand onuithoudbaar ongemaklik. Jy kan dan stop en die klippie uitskud of jy kan dit ‘probeer’ ignoreer. Maar dit veroorsaak skaafplekke op jou hakke of tone wat oorsit in rousere. Dit word dan so seer dat jy later nie eers ʼn skoen kan aantrek nie.

Mense se vertroue word geskend net soos die vel wat oop gebreek word.

So is verhoudings.

Indien ons nie ruimte vir mekaar maak en help om daardie klippie te verwyder nie, dan verbreek dit vertroue en respek in ʼn groot mate. Dan word daardie klippie ʼn berg, so groot dat dit amper onmoontlik is om daaroor te kom. Dit kan mense selfs kniehalter in hul groei. Dit steel jou vreugde en vrede.

Hooglied praat van die jakkalsies wat die wingerd verwoes, of in hierdie geval ʼn verhouding verwoes.

Hooglied 2:15 “Vang julle vir ons die jakkalse, die klein jakkalse wat die wingerde verniel, want ons wingerde staan in die bloei.”

Wanneer hierdie klippie nie verwyder word nie, kan ʼn verhouding sleg seerkry. In sommige gevalle kan dit selfs generasies beïnvloed waar tweespalt aan die orde van die dag is – bloot net vir ʼn misverstand wat ontstaan het en waar twee mense te hardkoppig is om die saak uit te praat.

Hoe vinniger die klippie verwyder word, hoe vinniger kan vertroue herstel word.

Ons almal maak foute.

Goeie verhoudings verstaan die stelling en werk met mekaar om ʼn verhouding – waaraan hulle baie waarde heg, te laat werk. Hulle verwyder die jakkals en stap aan. Die verhouding is dan sterker as voorheen.

Die verhouding tussen ʼn ouer en kind, huweliksmaats, vriende, sosiale vriendskappe, werkers, die tuinman of bediende wat in jou huis werk – ons bou verhoudings met elkeen op ʼn ander manier. Elkeen se benadering is anders, juis omdat die dinamika verskil.

Verhoudings is gebaseer op intimiteit.

Wanneer jy ʼn huis bou, messel jy die sement tussen die stene in. Distansie word geminimaliseer deur die hoeveelheid sement wat gebruik word. Hoe meer sement – intimiteit: hoe nader aan mekaar, hoe beter die verhouding. Hierdie stene vorm dan ʼn unieke plek in die raamwerk van die huis. Indien dit swak gebou word, kan dit maklik kraak of selfs omwaai met die geringste wind.

Sement natuurlik, bestaan uit ʼn mengsel van sand, water en sementpoeier. Indien die verhouding nie reg is nie, kan dit nie sy werk doen nie. Net so is dit in enige verhouding. Indien die verhouding nie reg is nie, is daar geen werkbare produk om die muur te bou nie.

Daar moet eweveel vertroue, samehorigheid, liefde, geduld en respek wees van albei kante af. Indien nie, sal die sement afval.

Dink hieroor:

·         Wanneer laas het jy na jou verhoudings gekyk?

·         Is hulle gebou op goeie grond?

·         Wanneer laas het jy daaraan gewerk sodat die huis stewig kan wees?

·         Kan jy enige krake identifiseer?

 

Enige verhouding word gebou van twee kante af. Indien nie, sal die krake begin wys. Krake soos: geen kommunikasie, tyd, ongeduld, en onvergewensgesingheid.

Daarom is dit belangrik om dit voor die Vader te lê.

 

Gebed: Liewe Heer, help my vandag om die blinders af te haal van my eie lewe. Help my om --------------- (noem die probleem by naam) op te los. Ek bely my fout hierin. Help my om geduldig te wees met -------------- (noem die persoon se naam) en dat ons hierdie verhouding kan red. Help my om ʼn goeie bouer te wees waarvan die sement reg is.

In Jesus Naam, Amen.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting 2

No comments:

Post a Comment

Day Twelve: Fear And Despair Has Been Destroyed.

  This is the last day of this bible plan and I trust that I have planted a seed of hope into your life. You can have the victory if you fol...