Sunday, November 20, 2022

Dagstukkies: Laat die Woord jou skoon was

 


My grootword jare was gekenmerk deur twyfelagtige gedagtes van ‘wie is ek’, en waar hoort ek. Ek was ʼn baie onseker mens wat die heeltyd op soek was na stabiliteit. Baie van hierdie twyfel was gesetel in leuens wat ek geglo het. Leuens veroorsaak deur die ongevoeligheid van familielede. Dit was versterk deur die manier wat ek groot gemaak is, teenoor hoe my sibbe groot gemaak is.

My ouers was baie streng teenoor my. Vandag is ek dankbaar daaroor, maar daardie tyd het ek gedink hulle haat my.

Jaloesie was ʼn groot dryfveer wat ons vandag nog belemmer om ʼn goeie verhouding te hê. Die ouderdomsverskil het natuurlik ook by gedra tot die skeiding. Jare se troebelheid het die water brak gelaat en dit is met moeite wat die verhoudinge onderhou word.

My ouers is goeie mense en het my grootgemaak volgens hul onsekerhede, kennis en ervarings. Ek het nog altyd ʼn diepe dankbaarheid vir hulle, ongeag my gevoelens. Hulle voorbeeld en getrouheid een van my groot pilare waarop ek kon staan.

My ma het my geleer van dryfkrag en onvoorwaardelike liefde. My pa hoe om logies na ʼn situasie te kyk. Ek het die waarde van familie by hulle geleer. My liefde vir die land het ek van my pa gekry, asook liefde vir boeke. My Blog “Inspire to Read,” se leuse is: “Be inspired! Read Books.” Ek leef dit. Nie net omdat ek lief is vir lees nie, maar die voordele wat dit inhou.

Maar tog kon ek nooit die antwoord: wie is ek? Kry nie

My twyfelgedagtes het deurgeslaan in elke faset van my lewe. Van die mees onbenulligste dingetjies tot lewensbelangrike keuses was beïnvloed.

Ek het als bevraagteken, maar skugter gebly: elke keer wat ek spontaan opgetree het was ek in die bek geruk, wat veroorsaak het dat ek mense eenkant toe geskuif het en myself verloor het in boeke. Vandag is dit nogsteeds vir my moeilik om spontaan te wees.

Boeke was ʼn veilige hawe te midde van die onderstrominge wat in die huis en later in my eie lewe geheers het. Maar dit het my ook in verkeerde rigtings gestuur wat lank by my gespook het daarna.

My toekomsplanne moes plek maak vir verantwoordelikhede waarvoor ek nog nie reg was nie. Dit het ek uitgehaal op my gewese man deur woede-aanvalle en stilstuipe. Als het daaronder gelei.

In 1992 het ek tot bekering gekom en was die leuens vervang met waarheid. Dit het nie oornag gebeur nie. Soos wat ek gegroei het in die Woord, so het die waarheid deurgesyfer: ek was soos ʼn spons wat net gedrink het. Die Woord was soos vars water wat my denke, besluite en aksies beïnvloed het en kon ek elke onwaarheid verruil met waarheid.

Dit het tyd gevat om die leuens te vervang. Jare se bitterheid en seer moes afgeleer word en met nuwes vervang word. Dit het tyd gevat om werklik Vader se Woord as waarheid te glo, maar die oomblik wat dit gebeur het, het ek vry gevoel. Skoon; soos ʼn nuwe mens. Ek het tuis gekom.

 

Wat het ek geleer?

Leuens benadeel jou. Dit steel en ontmoedig jou van kosbare tyd.

Ek het toe gelaat dat die proses werk. Ek het toegelaat dat die Woord my was. Dit was nie maklik nie en soms was die proses pynlik maar ek het skoon gekom.

 

My boodskap aan jou:

Jou vryheid is duur gekoop. Laat toe dat Vader se woord jou ook was en dat waarheid die leuns vervang. Jy is dit aan jouself verskuldig.

Onthou: Jy is geseënd en hoogs bevoordeel deur ‘n Vader wat jou baie lief het.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting

 

 

No comments:

Post a Comment

Day Twelve: Fear And Despair Has Been Destroyed.

  This is the last day of this bible plan and I trust that I have planted a seed of hope into your life. You can have the victory if you fol...