Sunday, December 11, 2022

Dagstukkie: Ek, myself en julle.

 


ʼn Mens wil dit nie altyd openlik erken nie. Jy voel gemeen om dit selfs te dink, selfs dankbaar, maar die feit is jy, jou ouers en sibbe, het meningsverskille, lelikes.

 Elkeen dink anders, en voel anders en daar moet ʼn weg gevind word om mekaar te verstaan en saam te te leef. Indien nie, sal julle mekaar uitskel, miskien skoene rondgooi en daardie lelike woorde hardop gesê word: “Ek haat jou!” Daardie woorde wat jy altyd net gedink het word nou ‘n werklikheid en nou moet jy met dit deel.

Ek onthou toe my eie dogter dit vir my geskreeu het. Die absolute skok wat daarmee saam gegaan het, het my sprakeloos gelaat. Ek kan nie eers meer onthou waaroor dit gegaan het nie, maar daardie woorde het lank by my gebly. Dit het bitter seergemaak. Jare later kon ek en sy dit eers uitsorteer.

In my ouerhuis is ons nooit geleer hoe om konflik te hanteer nie. My benadering was om opgeblase kamer toe te gaan, die deur toe te klap en te lees. Ek en my jonger suster het ook ʼn kamer gedeel. Daar is ʼn ouderdomsverskil van vyf jaar tussen ons en ons kon nooit werklik goed oor die weg kom nie. Selfs nou, jare later, is daar nog steeds ʼn styfheid tussen ons.

My ma se manier van konflikhantering was om goed in die kombuis rond te gooi, bitsig te wees en almal te byt wat in haar omtrek kom. My pa het aan stilstuipe gelei en agter die koerant gebly. Sus het begin huil, later onttrek en Barbie gespeel. Op daardie stadium was die twee jongstes nog te klein om werklik deel te neem aan die gevegte. Die ouderdomsverskille te groot. Nou, na al die jare kom ons goed oor die weg, maar toe was die twaalf jaar oue verskil ʼn seer werklikheid en ek het beslis nie belang gestel in hul baba nukke nie.

Teen matriek wou ek met alle geweld uit die huis uit. Twee jaar later is ek getroud en kon ek uiteindelik die huis verlaat. Dit was ʼn blye dag. Toe my eie kinders gebore is moes ek nie net leer van konflikhantering nie, maar moes ek hulle ook leer. Soos reeds genoem was dit nie maanskyn en rose nie.

Op sewe en twintig het ek die Here ontmoet en toe eers kon ek leer hoe.

Die proses het by myself begin. Ek moes leer om stil te staan, stil te bly, en te luister. Ek moes leer om nederig te word, ander te dien, en Christus te volg. Dit was ʼn eina tydperk van self-aflegging. Die eie-ek kruisig. Ek moes my wil teen die kruis vas spyker en toe te laat dat die Heilige Gees my lei voor ek my kinders kon leer.

Ek het baie foute gemaak in die tyd. Met baie mense baklei en wanneer hulle terugbaklei het ek nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Dit was soos raaisels wat my nagte se rus ontneem het totdat ek by die resultaat kon uitkom.

Om ons eie-ek te kruisig is nie maklik nie. Vir ʼn sekere aantal jare is jy gewoond om te sê, te dink en te doen wat jy wil. Jou wil het geseëvier. Maar die oomblik wanneer jy jou knie buig voor God die Almagtige Vader dan moet daardie wil buig.

Daar is ʼn spreekwoord wat lui: knak die boompie terwyl hy jonk is. Maar wanneer daardie boompie al oud is, is dit moeilik. Die treë stadig en die kop hardkoppig.

Die eerste les wat ek moes leer was om omverskoning te vra en te vergewe. Ek moes fisies na my ma toe gaan en haar vergifnis vra en haar vergewe.

Deel van vergifnis is om te erken jy is ook skuldig. Elke saak het twee kante. Elkeen dink en voel anders oor iets. Nie een is verkeerd of reg nie. Elkeen se opinie is belangrik en moet in ag geneem word. Elkeen moet bereid wees om te bely en reg te maak. Elkeen verdien daardie onvoorwaardelike liefde.

Ek moes dit ook met my skoonma doen. Ek kan al hoor hoe trek jy die asem in. Jy het reg gelees: ook jou skoonma. Dit is moeilik, maar doenbaar.

Die vreugde van vergifnis kan ek nie genoeg beskryf nie. Dit is die neerlê van die self en die nuwe kleed van verootmoediging aantrek. Daarmee saam moet jy leer om geduldig te wees, te luister. Nie jou eie belang te soek nie. Nie opgeblase te wees nie. Nie die splinter in iemand anders se oog te sien en jou eie balk te ignoreer nie. Dit klink amper soos iets uit die Bybel nie waar nie. Jy is heeltemal reg.

1 Korintiërs 13 AFR83. Dit begin sommer van die eerste vers af:Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is,”

Tyd en woorde ontneem my om verder uit te brei, maar gaan lees dit gerus. Dan doen jy dit en sien wat ʼn lieflike geur word jy vir die Here. Een wat konflik kan hanteer en Vader verheerlik in die proses.

Jy is voorwaar ʼn geseënde van die Here.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting

 

No comments:

Post a Comment

Day Twelve: Fear And Despair Has Been Destroyed.

  This is the last day of this bible plan and I trust that I have planted a seed of hope into your life. You can have the victory if you fol...