Tuesday, January 31, 2023

Dagstukkie: Gee jou boom water

 


Alle plante het water nodig. Net so het ons ook water nodig.

Om te bly by die tema van die maand: Verhouding met myself, is dit nodig dat ons ook water inkry wat sorg dat ons buigbaar bly. Dit maak ons vatbaar vir nuwe gedagtes wat ons kennis verbreed.

Ons hoor baie dat ons water moet inneem vir gesondheidsredes; net so is dit belangrik om siels- en geestelike water in te kry. Die een is deur kennis in ʼn bepaalde rigting, die ander kennis van die Woord van God.

Sielsvoeding:

Op sielsvlak is kennis nodig vir groei. Vernaamlik vir ʼn vrou is dit nodig om werklik haar kennis te vermeerder om by te bly met die nuwe verwikkelinge. Dit is nie net goed om die oppervlak met toner te voed nie, maar die innerlike, verby veldiepte, het nodig om gevoed te word, sodat ons voorbereid kan wees vir enigiets wat op ons pad kom.

Dit kan gebeur dat jou lewe, soos wat jy dit tans ken, kan verander en dan moet jy uitspring. ʼn Beroep aanleer of ʼn besigheid moet begin om die inkomste aan te vul. Jy mag dalk dink dat jy te oud is, maar as ek op vyftig plus dit kon doen, kan jy ook.

Die belangrikheid van leer kan ons nie genoeg onderstreep nie. Alhoewel ek die sug gehad het om verder te leer in my jonger dae, was finansies altyd ʼn probleem. Ek was in opstand daaroor toe ek nodig gehad het om uit te spring. Ek het baie verskonings ook gehad en was in ʼn groot mate kwaad vir God omdat ek nooit die geleentheid kon kry nie. Daardie denk wyse het my baie teruggehou.

Wanneer ons nuwe inligting ontvang, word ons denke gevoed, wat op sy beurt weer ons siel voed. Dit dring deur tot elke laag van ons menswees en versprei so die kennis om ons nuttig te laat voel.

Ek onthou die tye wat ek nutteloos gevoel het. Die rede vir my bestaan bevraagteken het omdat ek gevoel het ek kan niks bydra nie.

Vandag, met die ondervinding wat ek opgedoen het, het ek dit nog meer besef. Elke leerfase in my lewe het ʼn nuwe lagie bygevoeg en ek het beter oor myself begin voel. Toe ek in eiendom gewerk het, moes ek baie kursusse doen wat my die kennis gegee het om eiendom te kon verkoop, maar dit het ook my as vrou goed laat voel. Dit het gevoel ek is besig om in my eie reg te kom. Dat ek ook saam kan praat en mense luister na my. Ek het ʼn ontwakende tyd betree wat my meer selfvertroue gegee het.

Toe ek die geleentheid kry om myself as lewensgids te bekwaam, het dit hierdie sug na meer gevoed en my eiewaarde herstel. Al is dit net iets wat jy vir jouself wil doen, kan ek dit werklik aanbeveel. Jy sal soveel ryker daarvan wegstap.

As skrywer het ek kursusse gedoen om my skryfkuns tot volle reg te laat kom. Dit alles het my ook outoriteit gegee. Van die uitbou, die vloei van die storie, en om al die gerammel weg te laat, sodat ek net by die storie kan uitkom. Dit het my ʼn sekerheid gegee wat niks anders vir my kon gee nie. Daardie sekerheid het my eiewaarde verder uitgebou, dit het my siel en gees verryk, en nou voel ek nie meer nutteloos nie, maar neem ek my volwaardige plek in.

Dit wat jy leer, kan niemand van jou af wegvat nie. Daardie kennis is gestoor en kom uit sodra jy dit nodig het. My sielsgrond gevoed met water van kennis wat nooit kan opdroog nie.

Geestelike voeding:

Geestelike voeding is net so belangrik. Dit kry jy deur tyd in die Woord te spandeer en werklik God se wil te verstaan. Die hoeveelheid tyd wat jy spandeer aan Woordstudie, is gelykstaande aan jou groei as mens, as vrou, en vir elke ander titel waaraan jy voldoen.

Albei hierdie aspekte van water se doel is om jou buigbaar te maak vir wat Vader in jou lewe wil doen. Dit gee jou daardie een stappie bo die ander om verder te beweeg en jou volle potensiaal uit te leef.

Hoe meer tyd jy daaraan spandeer, hoe sterker word jou boom. Hoe groter jou boom, hoe groter die skaduwee wat jy gee.

Ek wil jou uitnooi om jou boom water te gee. Dit maak nie saak waar jy begin nie. Dit hoef nie noodwendig ʼn graad te wees nie, maar soek vir geleenthede waar jy vars water kan inkry en so jou boom kan voed.

Vra die Vader om deure vir jou oop te maak en stap dit met vertroue tegemoet. Belê in jouself.

 

Lees Psalms 1:3 en maak dit vandag jou eie.

Onthou: Jy is ʼn geseënde van die Here.

 

 

Lynelle Clark  

Skakels van 'n Ketting 

No comments:

Post a Comment

Day Twelve: Fear And Despair Has Been Destroyed.

  This is the last day of this bible plan and I trust that I have planted a seed of hope into your life. You can have the victory if you fol...