Vir ʼn groot gedeelte van my grootmenslewe kon ek myself nie in die oë kyk nie. Wanneer ek hare gekam het, grimering aangesit het of my tande geborsel het, het ek oogkontak vermy met die vrou in die spieël.
In die begin het ek nie geweet wat om vir haar te sê nie,
ʼn koue skouer was beter as leë woorde. Die verhouding het aangegaan vir ʼn
aantal jare. Jare waarin ek baie leeg en sonder doel was. Ek het baie gedoen om
myself besig te hou, in te pas deur betrokke te raak by skool- en kerkaktiwiteite.
Die vervulling het net nooit gekom nie. Die grootmaak van kinders, om ʼn
huishouding te hardloop, kruideniersware te koop, in die tuin te werk,
ensomeer: dit was alles tydverdrywe en het my leeg en onvervuld gelaat. Ek het
baiekeer my doel bevraagteken. Die wêreld so bekyk en gewonder wat is die sin.
Hierdie houding het deurgesyfer na my vriendekring,
huwelik, en verhouding met my kinders. Die gesegde: Bo blink en onder stink,
kon my goed definieer.
Wanneer verhoudings misluk het, kon ek nie verstaan wat
my aandeel in die opbreek daarvan was nie. Op die ou einde het dit daarop
neergekom dat hierdie denke my so negatief gemaak het dat niemand bereid was om
in my teenwoordigheid te wees nie. Mense het my afsydig en koud ervaar. Dit het
natuurlik die self verder rede gegee om te wonder oor die doel van my bestaan.
Na ʼn dramatiese gebeurtenis in my lewe, waarin ek en my
lewensmaat al ons aardse besittings verloor het, was ek teen die grond.
Ek dink nie ek sal die oggend ooit vergeet nie. Die oggend wat daardie vrou in die spieël vir my laat stop het in my
skoene. Sy het geweier om haar oë te
laat sak en ek moes ingee onder die pyn en absolute doelloosheid wat ek daar
gesien het. Ek het nie woorde gehad om haar te konfronteer nie, maar haar dooie
oë het my tot in my sokkies geskok. Die stemmetjie het uitgeroep: "Waar is
jy?"
Weg was al die pretensies. Gestroop van dié dinge wat my
identiteit gegee het. In daardie een kyk het ek besef, as ek nie iets doen nie,
is ek dood.
Die besluite van daardie dag af was moeilik. In die
eerste plek moes ons uit ons huis van ses en twintig jaar trek. Ek het
geworstel met die trauma en vernedering van daardie tyd. Die absolute
verslaenheid van nutteloos wees. Om nie geld te hê nie. Winkels het vir my soos
ʼn mes gevoel wat my siel wou oopkloof tot op die been.
Ek moes toesien hoe my seun op die vliegtuig klim na ʼn
ander land. Dit het gevoel asof ek my kinders gefaal het. Ek moes in ʼn klein
woonstelletjie intrek wat spesiaal vir ons reggemaak is. Om als te kroon het ek
agtergekom hoe diep die disrespek tussen my en my man geloop het. Sere wat my wakker geskud het tot in my fondasie.
Maar nog was dit nie genoeg om my finaal wakker te laat skrik nie. Ek was op ʼn gevaarlike pad van vernietiging en bitterheid
waar ek myself skade aangedoen het en oorgegee het aan die luste van die
wêreld. Dit alles om die seer te kan ontvlug, die vrou in die gesig te staar.
Ek was die heeltyd bewus van haar vraende kyk.
Dit was ʼn lang stryd van aanvaarding, maar dit het begin
op ʼn verlate pad in Pretoria, waar die Here my tot stilstand gebring het. Ek
het geweet ek sal my weë moet verander. Dáár het die ommeswaai in my kop begin.
Ek moes die dinge van my verlede heeltemal aflê om werklik vrede te kon maak
met daardie vrou. Die vrou wat geduldig gewag het op my ommekeer.
Miskien is jy nou op daardie pad. Miskien dink jy, jy is
nie goed genoeg nie.
Vandag will ek vir jou sê, jy is goed genoeg.
Jy het nie nodig om tot daar, op die spreekwoordelike
straat, te beland om jou eiewaarde terug te kry nie. Jy het nie nodig om
jouself te verneder, om die pyn te laat verminder nie.
Al wat jy moet doen is om voor die Vader te buig. Na Hom
te kom. Net so vuil as wat jy voel, en jou saak met Hom regmaak. Dit is nie te
laat nie. Net Vader kan jou herstel. Net Hy kan jou welkom heet in sy huis en
jou beklee. Jou voete was, jou hoof salf met olie en aan jou ʼn ring gee wat jou
eiewaarde sal herstel. ʼn Kleed wat jou sal bedek, en ʼn Vader wat vir jou ʼn lam
sal slag en saam met jou sal feesvier. Niks is te erg vir Hom nie.
Gee Hom vandag ʼn kans om jou eie-ek te herstel, sodat jy
soos ek weer in die spieël kan kyk en vir jouself lief kan wees. Ontvang
daardie skoon papier en kyk na jouself met nuwe oë. Jy maak saak!
Onthou: Jy is ʼn geseënde van die Here.
Lynelle Clark
Skakels van 'n Ketting
No comments:
Post a Comment