Pappa, ouboet en ma. ʼn Onlosmaaklike Drie-eenheid.
Dit is hoe ons die Goddelike Drie-eenheid
op menslike vlak kan beskryf.
Hemelse Vader is ons Pappa. Die een wat als onderhou. Die een wat praat en
wêrelde kom in plek. Lig maak plek vir duisternis en die aarde breek oop en gee
kos aan elkeen van ons – mens en dier.
Jesus Christus is ons Ouboet. Die een wat in die bres tree wanneer ons droog maak.
Die een wat by ons bly wanneer ons bang is. Die een wat ons kom leer wie die
Vader is en dit makliker maak om die Woord te verstaan omdat Hy die Woord is.
Heilige Gees
is die ma. Die een wat ons vertroos, ons leer, ons vashou en soen wanneer ons
dit nodig het. Die een wat ons aanpor om nog beter te doen en wat in die bres
tree wanneer ons foute gemaak het.
ʼn Onlosmaaklike drie-eenheid met wie ons
elkeen kan identifiseer. Baie van ons prentjies is skeef wanneer dit kom by
elkeen van hierdie figure juis omdat ons verhoudings met pa, broer/suster en ma
nie altyd van die beste is nie. Dan projekteer ons daardie argwaan en seer op
die Goddelike eweknie.
Persoonlik kan ek daarmee identifiseer.
Ek bly by my pa. My pa is 80 en daar is 24
jaar verskil tussen ons. Hy sien my as die klein dogtertjie wat elke dag geleer
moet word. Van kosmaak tot wat ek eet. Bestuur is ʼn nagmerrie wanneer hy in die
kar is. En, indien ek nie waaksaam is nie, kan my gevoelens van disrespek en
woede geprojekteer word na die hemelse Vader. Dan moet ek rustig raak, kop hou
en verby die seerdinge kyk.
Omdat hy vergeetagtig is, sal hy gedurig stry
omdat ek kwansuis nie die vloer gewas het nie. Dit sal hy dan aan almal wat wil
hoor vertel. Volgens hom doen ek dan niks in die huis nie. Daardie doelbewuste
leuen maak my witwarm by tye. Soms stap ek weg, ander kere wil ek myself
verdedig.
Net so met my broer. Daar is tye wat ek en
hy net nie eye-to-eye sien nie. Dan ontaard dit in ʼn bakleiery wat my
stom laat. Dit laat wonde en ek vind na so ʼn skermutseling dat my verhouding
met Christus daaronder lei. Dit ontneem my van vrymoedigheid en ek sal eerder
met die Vader praat as met Jesus tydens die skermutselings.
Omdat my ma alreeds by die Vader is, is die
tekort aan aanvaarding en liefde ʼn groot leemte in my lewe, en vind ek dat ek
min met die Heilige Gees praat. Ek is bewus van sy werkinge in en deur my, maar
ek gee Hom nie altyd die plek wat Hy verdien nie.
Ons aardse verhoudings het ʼn rol te speel
met ons toenadering tot God. Meer as wat ons soms wil erken. Maar dit is juis
hierdie verhoudings wat ons opbou en die skanse afbreek om nederig te bly.
Verhoudings op elke vlak is ʼn daaglikse
oefening van gee en neem. Indien ek nie moeite doen om te gee van my kant nie,
kan ek nie ontvang nie. Ek kan ook nie elke keer net verwag om te kry as ek nie
my kant bring nie. Deur daaglikse kontak leer ons mekaar ken. Ek weet hoe my pa
van sy tee hou. Op watter tye hy koffie sal drink. Elke ete het sy eie
eetgerei. Ek moet dit weet anders is daar moeilikheid.
Net so is die verhouding met die Goddelike
drie-eenheid. Indien ek nie my besige program eenkant toe skuif en tyd maak met
die Bybel en bid nie, gaan ek nie elkeen se hart leer ken nie. Ek gaan nie weet
hoe hulle oor my voel nie. Watse raad hulle vir my wil gee of hoe om op te tree
in ʼn spesifieke situasie nie.
In kort, ek gaan in die donker rondtas met
geen duidelikheid in ʼn gegewe situasie nie.
Nie my pa of broer glo daaraan om verskoning
te vra nie, en ek het al geleer om net verby dit te kom op my manier. Hulle
manier van flikflooi sal wees om te skimp vir ietsie lekker om te eet. Of, kan
ek asseblief die vlek op ʼn broek uithaal. Dan weet ek als is nou weer reg en
kan ek met vrymoedigheid asemhaal.
Verhoudings is delikate organismes wat
elkeen op meriete hanteer moet word. Die grootste gemene faktor is gewoonlik
hoeveel keer ek bereid is om die knie te buig en hoeveel keer is ek bereid om
te luister. Wanneer ek luister, hoor ek iets wat ek andersins sou gemis het.
Netso met my verhouding met God. Wanneer ek
stil raak, minder word, dan hoor ek God se stem duidelik. Ek kan vrylik
asemhaal, want nou verstaan ek, en my liefde vir God groei.
Waar kan jy minder word, sodat God meer kan
word?
Lynelle Clark
Skakels van 'n Ketting 2
No comments:
Post a Comment