Vanoggend vroeg sit ek water op die gasstoof vir die gebruiklike koffie. Die huis is stil, geen stemme of radio wat die stilte versteur nie. Selfs die besige Prince George Rylaan is rustig. Ek vul die katte se bakke met kos en gaan sit op die stoel naaste aan die ketel.
En die volgende vraag val in my gees.
Hoekom sing 'n ketel?
Dit is eintlik dom as 'n mens daaraan dink. Hitte brand. Konstante hitte wat aanhoudend brand kan pynighend wees maar hier staan die ketel en sing. 'n Defnitiewe suising wat nie praat van seer nie maar opgewondenheid.
En die vraag kom weer op: hoekom sing 'n ketel?
Die antwoord het my sommer van die stoel af gelig.
Hy sing want hy vervul sy doel.
Wanneer laas was ons werklik gelukkig in wat God besig is om te doen in ons lewe? Al brand dit en is dit seer. Al is dinge onverstaanbaar en werk dit nie uit soos dit moet nie. Kan ons werklik sing soos die ketel binne ons omstandighede?
Ek vertrou dat ons ook ons liedjie sal laat hoor. Tenspyte van die hitte van die vlam is en bly Vader goed.
Mooi dag vir elkeen.
Lynelle
No comments:
Post a Comment