Monday, April 24, 2023

Dagstukkie: Verantwoordelike kindwees



Ons word elkeen in ʼn huis gebore met ouers en kinders. Elkeen het sy eie funksie wat ʼn dinamika na die tafel bring. Binne hierdie dinamika is daar verantwoordelikhede wat elkeen moet nakom.

Ma en pa voorsien, versorg, leer en gee baie liefde. Hulle dissiplineer ook. Ons hou nie baie daarvan nie. Maar dit gee ons die leiding om reg op te tree in elke situasie wat ons in ons lewe mag kry.

Kinders moet leer deur die instruksies te volg. Dit leer elke kind hoe om opdragte te volg. Selfs die wat nie so lekker is nie of nutteloos voel. Gesonde dissipline gee die kind ʼn veiligheidskokon waarbinne hy/sy weet dat hulle geliefd is. Dat hul ouers werklik omgee. 

In God se huishouding werk dit op dieselfde manier.

Die God-drie-eenheid en jy is onlosmaaklik deel van mekaar. Elkeen het ʼn funksie om te verrig. Jou funksie binne hierdie dinamiese uniekheid, is om God te eer. Sy verlossingswerk as volkome in jou lewe te ervaar, en Hom te ken in al jou weë. En natuurlik om te luister deur stil te word.

Jy kan niks vermag deur nie ingeskakel te wees by die Here nie. Dit is wat van jou ʼn ware kind van God maak.

Terwyl ek die boek van Galasiërs bestudeer, kom dit nog meer na vore. Dit is asof Paulus dit in groot, vetgedrukte letters skryf.

In Galasiërs 3word ʼn mens gekonfronteer met die absolute waarheid van hierdie uniekheid.

Jy sien, die mense in Galasiërs het in aanraking gekom met mense wat hulle vas wou maak aan die wet deur die ou gebruike terug te bring. Paulus het dit te hore gekom en konfronteer hulle met dit.

In Hoofstuk 3:1(a) Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel?”

Ek hou eintlik hoe dit in die Engelse Vertaling geskryf is: You foolish Galatians! Who has bewitched you?”

My en jou verantwoordelikheid kom daarin, dat ons sorgdra dat ons nie agter fabels of leuenaars aanloop nie. Wette en gebruike wat niks met ons geloof te doen het nie, het geen plek in ons geloofswandel nie. Mense wat ons probeer verlei om na hul opinies te luister, die Woord afwater en jou weglei van die Woord af, is skadelik vir jou groei.

Daarom is dit so belangrik, dat wat jy hoor en wat jy lees, aan die Woord gemeet moet word. Indien die Woord dit nie bevestig nie, stap weg daarvan, anders sal jy nes die gemeente in Galasiërs op ʼn dwaalspoor gelei word. ʼn Dwaalspoor wat jou baie pyn en lyding op die hals sal bring.

Ek weet nie van jou nie, maar ek is moeg om die berg te omsirkel omdat my manier van verstaan verkeerd was. Of omdat ek nie geluister het na die Woord van die Here nie, maar eerder na ʼn persoon geluister het.

Ons elkeen se verantwoordelikheid berus op wie ons ore ingestel is.

Dit is jou plig, as kind van God, om waaksaam te wees teen alle dwalinge, en God te ken in alles.

 

Vrae wat jy in gedagte kan hou:

·         Dit wat ek nou so pas gehoor het, is die Bybel in ooreenstemming daarmee?

·         Wil die persoon my teruglei na die wet toe?

·         Is dit nuttig of lei dit my verkeerd?

Hoe kan jy jou eie kennis verbeter:

·         Bestudeer die Bybel deur gebruik te maak van goeie bronne. Daar is soveel bronne om van te kies dat dit soms te moeilik of te veel is, maar jy is dit aan jouself verskuldig om te studeer. Jy is immers ʼn student wat moet leer en verstaan wat God vir jou wil sê. Toets jouself gereeld.

·         Naslaanbybels is ʼn goeie punt van lering. Doen kruisverwysings. Lees die skrifte wat almal daarmee te doen het in konteks.

·         Laat toe dat die Here jou leer, met ander woorde, raak stil voor die Here. Laat die Woord perkuleer in jou binneste. Herdink, herkou en leer totdat dit deel word van jou lewe.

·         ʼn Punt van waarskuwing: wanneer jy in twyfel is oor iets, moet asseblief nie Facebook toe hardloop vir raad nie. Gaan na iemand wat jy al getoets het. Iemand wat die Woord reg sny en vra.

·         Maak tyd om die Woord te eet. Kou dit fyn, en jy sal agterkom hoe soet God se Woord werklik is.

 

Jy verskuldig dit aan jouself om tyd met God te maak en sy Woord as ʼn waarheid te vat. Bestudeer Galasiërs – vers vir vers.

Smaak en sien die goedheid van die Here daarin.

Lynelle Clark

Skakels in 'n Ketting 2

No comments:

Post a Comment

Day Twelve: Fear And Despair Has Been Destroyed.

  This is the last day of this bible plan and I trust that I have planted a seed of hope into your life. You can have the victory if you fol...