Monday, May 1, 2023

Dagstukkie: Gister se sonde is vandag se vrede


Terwyl ek ander se verhale lees – tans tree ek op as beoordeelaar van ʼn skryfkompetisie – wat handel oor hul keuses wat hulle gelei het op ander paaie, vat dit my ook terug. Na ver paaie – kronkelpaaie wat jou laat wonder waar het jy verkeerd gegaan. Waar kon jy anders optree? Wat kon jy verander het sodat vandag ʼn ander uitslag kon gewees het van die een wat jy nou lei?

Baie somers is verby. Winters toegehul in kuiers, warm komberse en gemeensaamheid is nou net ʼn vae herinnering. Dae waar feëverhale nog werklikheid was, die lewe in mooi geweefde tapisseriepatrone voor jou gehang het en jy veilig was. Maar so maklik verander die mooi in ʼn deurmekaarspul van gekoekte wol sonder sin. Waar die begin en einde toegewikkel is in ʼn magdom seer, en jy reageer.

Dit is maklik om dan vas te val in die moddergat wat jou wil vasgryp en daar hou. Jy sien, as mens, soek ons goedkeuring vir ons lewe. Dit is dan wat hierdie terugkyk ontaard in ʼn moeras wat net verwarring veroorsaak. ʼn Traan of twee word weggepik en ons verloor die kern van ons boodskap.

My agtergrondstorie is deurspek met verkeerde besluite, ʼn maalkolk van foute, misplaaste vertroue en baie meer. Daardie einatyd, toe daar niks oor was van ons nie. Ek was ook stukkend. Verslae en gebroke. Het minwetend deure oopgemaak omdat ek gedink het dit sal my huwelik red. ʼn Wye deur wat skade aan my as vrou sou doen en my op ʼn pad van selfvernietiging gevat het.

Die oomblik wat ons ingee vir sonde, gee ons toe aan die eise wat dit stel. Dit maak ons geestelik swak en steel ons vertroue en verhoudings. Dit is net God in al sy wysheid wat ons kan red.

Dank die Here vir die Damaskuspad. Die plek waar ons gekonfronteer word met Jesus Christus as ʼn werklikheid. ʼn Realiteit so helder, wat ons verblind vir die dinge van die wêreld, en soos ʼn blinde gelei moet word na waarheid.

Vandag kyk ek terug na daardie tyd van my lewe en kan ek God se hand van beskerming sien. Daardie tye waar Hy eenvoudig my hardkoppigheid gesystap het en in die bresse getree het om my vrouwees te beskerm.

Ek glo, indien die Vader dit nie gedoen het nie, sou ek heel moontlik op ʼn ander plek gewees het of selfs dood.

Toe ek in 1992 tot bekering gekom het, en grootoog God gevolg het, was ek nie bewus van al die kronkels wat my pad sou vat nie. Maar God is ʼn waarmaker van sy Woord.

Van varkhok tot Damaskus het my pad opgeeïndig in Reguitstraat. By die Vader’s huis is ek met ope arms ontvang en die lam geslag. ʼn Leeftyd het gebeur in daardie proses van val en opstaan en die rosige oogklappe is verwyder.

Die verhouding tussen my en die Drie-eenheid is ʼn dieper een waarin ek myself verloor as mens. En ek is oukei met dit. Nou kom my goedkeuring nie meer van ʼn man, kinders of ʼn huis nie. Maar van ʼn plek van verhouding met my hemelse Vader, Jesus Christus, en die Heilige Gees, waar ek al drie opnuut weer leer ken. Dit is ʼn stelselmatige terugkeer na myself en my rol as gelowige. ʼn Versigtig-trap en fyn-luister verhouding, deurspek met genade.

Om God weer te vind tussen die pyn en selfveragting was moeilik om te verwerk. Immers kan ek niemand blameer behalwe myself nie. Dit is ʼn harde werklikheid waarmee ek moes deel.

In hierdie tyd wou ek wegkruip van God af. Bang dat Hy my sien vir wie ek is. Maar die wonderlike vreugde is dat Hy my wel vrygespreek en skoon gewas het.

Vader, in al sy wysheid, het geweet wat ek nodig gehad het, en het my omring met spesifieke vriende wat my begin dra het. Selfs in my woede, wanneer ek te velde getrek het teen God, het hulle my ondersteun. Dit het my koue hart vermurwe totdat dit naderhand heeltemal oop was om weer God se genade en liefde te ontvang. Ter bevestiging het God my beklee met ʼn ring aan die vinger. Sy stempel van eienaarskap. Dit was ʼn paradigm-kopskuif wat my in verwondering gelaat het.

Soos ʼn pottebakker het Hy my gevorm. Die draaitafel, my veilige hawe, waar Hy my gebrei het. Dit het my gevorm in ʼn kleipot met handvatsels en tuit. Bruikbaar en gietbaar.

In 1992 het ek gedink ek is die mooi goue kelk waaruit God kon drink. Verhewe bo mense: sonder foute. Vandag weet ek beter. Nou, in 2021 weet ek, ek is ʼn kleipot. Kompleet met krake, laste en growwe plekke. Ek is oukei daarmee. Dit het my vrede gebring.

Ek weet God is nog nie klaar met my nie. Die poets- en bakproses lê nog voor. Maar ek is veilig in die Pottebakker se hande.

Die vierde persoon in die oond is Jesus Christus self. My reddende genade. Wanneer ek in angsweet wakkerskrik oor my toekoms, moet ek myself vermaan dat God in beheer is. Hy is daar. Ek is nie alleen nie.

Wanneer ek my hand verwyder, wankel ek. Sodra ek dit terugsit, loop ek op die water saam met Hom. Hoekom? Want Hy is ʼn waarmaker van sy Woord.

Ek lees in Galasiërs dat God nie ʼn aannemer van persoon is nie. Ongeag wie ek was, God neem my aan. Ek moet bloot net sy verlossing in geloof aanvaar en dit my eie maak. Daar is geen reëls of enige vereistes daaraan verbonde nie. God se reddende genade het aan my verskyn. Wat God betref, het my verlede nooit gebeur nie, en sien Hy my as vrou, skoongewas, reg om as getuie vir Hom op te tree.

Dit is ʼn bevrydende gedagte wanneer ons weet God aanvaar ons net soos ons is. Dit maak ons vry van die wet en skuld wat ons op ʼn dwaalspoor wou lei. Ek is nou meer bedag op wat ek kyk, met wie ek kommunikeer, en wat ek lees.

Ek het ʼn passie om te leer en het aanlynkursusse ontdek. Wanneer daar ʼn ekstra geldjie is, skryf ek in. Die bevrydende gevoel van groei slaan deur in die boeke wat ek skryf. Die stories, ʼn platform waar ek my getuienis uitleef deur die verskillende karakters se wel en weë. Dit is fiksie, maar ook waarheid. Die lyn so fyn dat mense se oë sal oopgaan vir die werk van die Here, juis omdat ek dit so werklik maak.

Ek is nie ʼn marshallow-mens nie. Ek is nie eers ʼn natuurlike romantikus nie. Maar tussen die blaaie van skryf speel liefde altyd ʼn rol. Liefde is die een ding wat ons bind as mens. Waarna almal smag. Liefde en aanvaarding. Maar ook die reg om jou eie mens te wees en dan die verantwoordelikheid te vat vir die keuses wat jy gemaak het. Dit is wat ons as mens laat groei. Dit gee ons die aanvaarding wat ons soek.

Sodra ons prioriteite reg is, begin God in alle erns werk. Nie voor die tyd nie. Nie wanneer jy luister na fabels en leuens nie. Vernaamlik in die tyd van informasie. Die beskikbaarheid daarvan kan ons ver van God af lei, sonder dat ons dit besef. Indien jy nie die Woord van God ken nie, bring dit net verwarring in jou lewe. Dit is vanuit die verwarring wat ons dan verkeerde besluite maak wat ons toekoms beïnvloed. Nie net ons s’n nie, maar ook die mense saam met ons.

Onthou: elke keer wat jy iets besluit, raak dit jou maat en kinders (indien jy het). Jou vriendekring loop ook deur, selfs jou werksplek. Elke area word aangeraak: ten goede of ten slegte.

Maar, sodra as wat jy die onvervalste melk van God se Woord inneem, maak dit jou krom pad reguit. Dit gee jou die fondasie om sterk te staan in elke situasie. Dan word ons gelei na ʼn oop hemel, waar ons sy genade in oormaat ontvang en dit uitgegiet word aan ander dorstiges. Daardie plek waar ons in vrede kan wandel en weet dat ons toekoms sekuur in God se hande is.

Nie omdat ons dit verdien nie, maar omdat God dit so gee.

Galasiërs 1:3-5: “Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring. Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen.”

Hy maak ʼn weg. Hy is die waarheid. Glo dit. Leef dit.

Romeine 8.

Lynelle Clark


No comments:

Post a Comment

Pointers on how to navigate through this life.

  A Sixty-Year-Old’s Perspective. As we become older it’s easier to look at life and what we have learned because we look in retrospection...