Monday, March 27, 2023

Dagstukkie: ‘n Invloedryke vriendekring


Dit is altyd lekker om met mense te gesels waar jy veilig voel. ʼn Plek waar jy jou opinie kan gee, raad kan vra, bystand kan ontvang ten tye van nood, en sommer net laf kan wees by tye.

Ek beny mense met sulke vriendekringe. ʼn Plek waar jy kan ontspan en die masker kan afhaal. Plekke van invloed en saamstaan deur dik en dun.

Vriende beïnvloed mekaar deur wat hulle doen, deur gemene faktore wat hul saambind. Amper soos in Mafia-rolprente.

“You killed his son, I kill yours …” kan jy daardie diep Italiaanse aksent hoor?

Maar wanneer jy dieper kyk, verby al die pretensie en skitterblink skerms, besef jy dit is alles net oëverblindery. Maskers en handskoene kom af en jy moet keer vir jou “wickets”. Dit is die soort venyn wat mense breek en gesinne opbreek. Dan weet ek, ek is tevrede om op my eie te wees.

Daar was ʼn tyd in my lewe wat ek werklik gesmag het daarna om deel van so ʼn groep te wees, net om ru wakker geskud te word en te besef dit is net op die groot doek moontlik.

Jaloesie en venyn is aan die orde van die dag, en in plaas van saam staan, is daar ʼn dwarsboming van vriendskappe, en word tonge messe wat fyn kerf en verniel, sonder om twee maal te dink aan die nagevolge daarvan. Dit is erger as ʼn “soapie”.

Toe ek in 1992 tot bekering gekom het, het ek ʼn hoop in my gehad vir iets soortgelyks, net met ʼn geestelike geur daarby. Op daardie stadium was my kinders alreeds in die kleuter- en laerskool. My dae het bleek gelyk en ek het gedink ʼn vriendskapskring sal die gaping vul.

Maar helaas, dit wat ek in die wêreld ervaar het, was amper erger in die geestelik ekwivalent daarvan. Skielik is ons gawes beter as die volgende ou s’n. Of afguns veroorsaak dat mense onder mekaar baklei vir beter gawes. Jy bid beter as sy. God beantwoord my gebed maar nie joune nie, want ek doen iets reg.

Jaloesie is die grootste sonde wat vriendskappe vernietig en kerke opbreek.

My wêreld was aan flarde na so ʼn skermutseling, en van toe af stap ek baie fyn om vriendskappe en laat net spesifieke mense toe in my binnekring.

Jesus self het dissipels gehad wat vir drie jaar saam met hom gewandel het. Drie van die dissipels was nader aan hom; sy binnekring: Johannes, Petrus en Jakobus. Johannes, weet ons, was die enigste een wat nader aan Jesus was as ʼn broer.

Vanuit hierdie voorbeeld leer ons dat dit wys is om binnekring vriende te hê. Mense wat jy kan vertrou met alles in jou lewe. Om ʼn Judas byvoorbeeld in jou lewe te hê, sal pyn veroorsaak. Vroeër of later gaan hy/sy jou verraai. Daarom is dit nodig dat jy versigtig moet wees. Ek wil amper sê; wees kieskierig oor wie sy kop figuurlik op jou bors sal sit.

Miskien is jy een van die gelukkiges wat wel so ʼn vriend of vriendin het. Een wat jou hart hoor. Wat jou raaksien vir wie jy is en wat jou rug toemaak. ʼn Persoon wat jy vertrou, maar wat jou ook uitdaag om verder te gaan. Wat bereid is om terug te staan, sodat jy kan floreer en andersom.

Vriendskap is waar jy minder word en die ander meer. Dit is die plek waar jy gemaklik is om jou opinie te lig, sonder dat dit op Facebook uitgeblaker word of jou woorde verdraai word om hom/haar goed te laat lyk. ʼn Invoedryke vriendskap, waarby albei partye baat vind.

Dink aan die TV-reeks “Suits” of die gewilde rolprente van “Fast en Furious”. Die rede hoekom dit so gewild is, is juis oor die Dawid/Jonatan vriendskappe. In “Suits” is Harvey Specter die bekende prokureur wie se paaie kruis met ʼn bedrieër, Mike Ross. Maar Harvey kyk verby al die lae vernis en sien ʼn persoon raak op wie hy ʼn kans kan waag. ʼn Persoon wat hy kan help op die leer na sukses.

In “Fast en Furious” het ons vir Brian O’Connor as polisieman wat Dominic Toretto se bende moet infiltreer, en die reeks skop af met die twee wat ʼn band het wat ons meesleur om rolprent na rolprent te gaan kyk. In elke rolprent word hierdie verhouding getoets en geskaaf tot die uiterste toe.

Dit is wat vriendskap is – ons kyk verby die vernis, die kwalifikasies, die prestige en ons sien mekaar raak. Vriendskap gaan oor omgee. Dit gaan oor verstaan.

Dit is ʼn vriendskap wat ons almal begeer. Die week maak jy dit ʼn gebedsaak. Nommer een om so ʼn vriend te kan wees, en nommer twee om so ʼn vriend te kry.

Indien jy wel so ʼn vriendskap het, koester dit. Jy is enig en uniek daarin.

Lees gerus Romeine 8 en vind so jou vriend wat nader is as ’n broer. Vra die Here om jou te wys hoe jy kan verander om self ook so ’n vriend te wees en wees dit.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting 2


No comments:

Post a Comment

Day Twelve: Fear And Despair Has Been Destroyed.

  This is the last day of this bible plan and I trust that I have planted a seed of hope into your life. You can have the victory if you fol...