Sunday, March 12, 2023

Dagstukkie: 'n Aangename Geur


 

Daar is niks erger as die reuk van ʼn vrot eier nie.

Indien jy al ʼn koek gebak en een van die stink eiers oopgekraak het, sal jy verstaan wat ek bedoel. En baie kere, voordat jy dit besef, gooi jy dit oor die bak gesifte meel en val daardie grasgroen gemors binne in die meel. Dan moet jy alles weggooi, die bak skoon maak en van voor af begin. Met net een verskil: Dié keer breek jy die eier bo-oor ʼn piering, soos wat jou ma jou geleer het.

Hoekom ons altyd eers ʼn fout moet maak, is onverstaanbaar. Vernaamlik omdat ons weet ons moet die eiers eers breek oor ’n aparte bord. Ek was nie goed in huishoudkunde nie, maar ek onthou Mev Myburg se woorde nog steeds, “Gebruik ʼn piering en gooi dan die eiers een vir een by die mengsel.” Maar nee, ons vergeet sulke wyse raad in haastigheid.

ʼn Eier kan gemeet word aan invloed. Hoe varser die eier, hoe smaakliker die gereg wat jy voorsit.

Invloed werk op dieselfde manier. Hoe meer jy jou invloed gebruik ten goede, hoe verder versprei jou geur. Invoedryke mense dra iets by tot mense se lewens en verryk ons wêreld. Daarom is hulle so gewild.

Mense beny hulle en word dan jaloers op hul bekendheid. In plaas van om te leer, word hierdie mense negatief en kyk eerder hoe hulle daardie persoon kan benadeel. ʼn Vrot eier wat die wêreld ontsier.

Invloed werk op verskeie maniere. In elke area is daar bekende mense wat hul geur versprei op hul terrein van kennis. Bekende mense kan ook die juffrou by die skool insluit wat na kinders kyk asof dit haar eie is. Sy is gewild en almal wil hul kinders in haar klas hê. Die predikant of leraar wat gewild is onder sy gemeentelede. Die brandweerman wat so pas ʼn kind uit ʼn brandende gebou gered het. Die vrou wat net altyd iets mooi te sê het van/vir iemand. Elkeen se geur gaan hulle vooruit en mense wil naby hulle wees.

Dan is daar mense wat produkte verkoop en staatmaak op advertensies. Die ding van “word of mouth” kan jou voort stu na bekendheid of jou laat sink nog voordat jy begin het. Dit gaan alles oor die geur wat jy nalaat of die produk wat jy lewer.

In die Bybel kry ons dieselfde voorbeeld reg oor die Ou en Nuwe Testament. ʼn Lieflike geur is vir die Here aangenaam. Hy verheug Hom daarin. Telkemale lees ons hoe God die Israeliete geseën het gedurende so ʼn offer.

Openbaring 8:3-5 (AFR83) “[3] 'n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met 'n goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer. [4] Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God. [5] Toe het die engel die wierookbak geneem, dit met die vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde uitgegooi.”

Die apostels het dit ook ʼn paar maal aangehaal. Daarom kan ons met all eerlikheid sê dat Abba Vader van ʼn lieflike geur hou.

Die vraag is, is ons lewens altyd ʼn lifelike geur? Ek weet myne is nie altyd nie. Die week het ek baie gestoei met donker gedagtes wat my aksies en spraak deurdrenk het met ʼn stink reuk. Ek moes behoorlik bely en vergifnis vra teenoor die Here voordat dit begin verander het.

Dit begin in die kern, daar waar ons ons eie wil afdwing of siening ongevraagd wil deel. Al wat dan uitkom is ʼn vuilgroen massa stink wat onbruikbaar is. Dan moet ons die meel weggooi, die bak skoon maak en van voor af begin. Net dan kan ʼn lieflike geur opgaan en ons invloed versprei wat mense en seëninge aantrek na ons toe. Deur te bely, aanvaar ons die reddende genade van ʼn liefdevolle Vader. Onmiddellik verander die stank en kan ons weer vrylik asemhaal.

Elke aksie moet aangenaam wees voor die Vader. Ek moes myself herinner aan die skrif in Hebreërs. Ek is vrygespreek en geklee met die onbesmette liefde deur die kosbare bloed van Jesus Christus.

Hebreërs 10:38 (AFR83) “En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terug deins het Ek aan hom niks meer nie.” Slegs dan kon die eie ek buig, my gesindheid verander en ek aangaan met my lewe. Miskien is dit vandag jou beurt om daardie meel te vervang, die bak te was en Jesus se liefde te aanvaar as Vader se werklike offer van ʼn lieflike geur.Waar sukkel jy vandag met jou invloed?

En hoe kan jy dit verander? Kan jy met alle eerlikheid sê dat jy ʼn welreikende geur vir die Here is?Gebed: Ek sit my lewe voor U, Here. Deursoek my hart. Wys my waar ek kan verander om ’n aangename geur af te skei en mense nader te trek.

Lynelle Clark
Skakels vn 'n Ketting 2

No comments:

Post a Comment

Day Twelve: Fear And Despair Has Been Destroyed.

  This is the last day of this bible plan and I trust that I have planted a seed of hope into your life. You can have the victory if you fol...