Afrikaanse Verhale
Kliek – en nog ‘n
terugflits so duidelik soos die vorige.
Kliek – wens jy
was hier.
Kliek – vergeet
van hom. Hy het.
Kliek - Soos
kortstondige flitse spoed ons verhouding voor my verby.
Elke keer dat dat
ek my ooglede knip, is daar nog ʼn herinnering; nog ʼn grepie van ons saamwees
kristal helder in my gedagtes. Hoekom het ons nooit foto’s van ons geneem nie?
Dit is ‘n vraag wat ek myself baie afvra.
Daar is niks
tasbaar van ons kortstondige verhouding nie, maar tog speel die tonele
gedurigdeur in my geestesoog af dat ek nie anders kan as om in afwagting my oë
oop te maak met die hoop om hom daar te kry nie.
Sy peinsende oë
priemend op my ingestel; sy glimlag wat my knieë lam gemaak het en my hart
gesmelt het. Gevolg deur die ondeunde laggie wanneer hy in ʼn stoute bui was.
Die manier wat hy sou vra: “Is dit nog nie tyd vir ʼn bier nie?”
Twee weke vantevore
was sy en ouma aangenaam verras met die nuwe buurman wat ingetrek het. Die huis
was al ‘n geruime tyd leeg. Die eienaars het min omgegee vir die plek en
verwaarlosing het ingetree. Leeglêers was gereeld rondom die plek gewaar, wat
vir hulle ‘n bekommernis was. Ouma was knaend by die polisie oor die situasie
maar hulle het net hul skouers opgetrek. Nou dat hy daar is kon hulle ontspan.
Twee dae het verby gegaan voor hulle die man gesien het.
Gekleed in ‘n netjies
swartbroek en glad gestrykte wit hemp was hulle baie nuuskierig oor die man. Sy
kop het gespog met ‘n dik bos grys hare.
Die enigste keer wat Santie hom sonder ‘n hoed gesien het. Lanklaas het
sy ‘n ouer man met so ‘n goeie houding gesien. Dit was iets om te waardeer.
Een
middag het Santie haar ouma betrap waar sy by die voorkamer venster gestaan
het. Die gordyn was versigtig weg getrek en ‘n droomverlore kyk was duidelik
sigbaar op haar gelaat. Oupa is al vyf jaar gelede oorlede en ouma was alleen.
Omdat Santie permanent by haar ouma woon het sy geweet hoe vereensaam sy was,
so sy het die nuwe verwikkeling verwelkom.
Jy wonder seker waarheen gaan ek met dit
alles en of diè gedagtegang ‘n punt het. Miskien het dit, miskien nie, ons sal
maar saam hierdeur moet worstel om by die antwoord te kom. Al wat ek weet is
dat ek lief is vir die man. Ek waag ‘n kans, hoe klein ookal, ‘n draadjie
van hoop tot aan die bitter einde.
Dit is my normale gedagtegang die afgelope
tyd: ek praat myself moed in wanneer die geduld min raak en die verlange alles
oorheersend word. ‘n Tyd van afsondering waar ek niemand inlaat in die kamers
van my hart nie. My gedagtes altyd by hom, gevul met hom.
Afwagtend. Hopend.
“Trieng, trieng!” word my gedagteloop
onderbreek deur die klanke van my Android. ‘n Irriterende deuntjie wat ek dreig
om te verander maar net nooit doen nie. Vies kyk ek na die caller ID maar dit
dui ‘n ‘Unknown’ nommer en sonder om twee keer te dink trek ek ‘n streep
daardeur asof ek dit wil uitwis.
Waar was ek…o ja.
Ek het vergeet hoe seer onbeantwoorde
liefde kan maak. Ek het vergeet van al die fases waardeur ‘n mens
gaan wanneer jy met ‘n stukkende hart sukkel. As ‘n volwasse persoon is dit nie
so maklik soos toe ons jonk was nie. Tweede geleenthede is nie iets waarop jy
hoop nie. Nie met hartsake nie. Ek wil glo dat ek nie net ‘n stastistieke syfer
is nie maar ‘n vrou van vlees wie se hart tog die antwoorde sal kry waarna dit
smag voor my uurglas leeg loop.
“Trieng,
trieng…!” Ai, wie kan dit wees? Ek staar na die foon: die bron van my
frustasie. Die aanhoudende gelui van die emosielose klanke doen niks vir my
beswaarde gemoed nie. Inteendeel dit vul my negatiewe gedagtes nog verder sodat
ek vies oor die ding vee en met ‘n sug antwoord: “Louise wat praat.”
Later, na ‘n warm bad
en skoon klere vanuit Leonie se kas het Netta by haar huis ingestap. Neels,
Leonie se man, was so gaaf om die karwiel om te ruil terwyl hulle binne was.
Leonie het haar
dadelik in ‘n warm bad met die heerlikste borrels gesit waar sy vir ‘n paar
minute net weer vrou kon word. Leonie is ‘n gelukkige vrou. Hoekom kon Frank
nie ook so goed vir haar gesorg het nie?
“Mamma?” roep Nate
haar terug uit haar morbiede gedagtes.
“Ja Nate?”
“Mamma, Jack het my
genooi na sy verjaarsdag partytjie môre, kan ek gaan, asseblief, ma?” Haar
skouers sak. Nog ‘n uitgawe. Sy is al so moeg om nee te sê. Nege jarige groen
ogies staar haar opgewonde aan en sy sluk verbouereerd. “Ek weet nie Nate.
Mamma kan nie nou ‘n geskenk koop nie.”
“Mamma hoef nie te
worry nie, ek sal een van my onoopgemaakte karretjies vir hom gee. Ek het nie
so baie karretjies nodig nie.”
“Ai my kind,” en trane
stroom opnuut weer oor haar wange.
“Here, dankie vir ‘n
kind wat verstaan,” prewel sy saggies as sy deur die donkerkop vryf. Haar hart
stukkend. Hulle het so lank vir hom gewag. Tien jaar van hul getroude lewe was
op hul knieë deurgebring. Haar beker van geluk het oorgeloop toe sy uiteindelik
swanger geword het. Toe, agt jaar later vertel Frank hy het iemand anders
gevind. Diè kind, het sy uitgevind is al 12. Hy het haar twaalf jaar lank
verkul terwyl sy alles in haar vermoë gedoen het om vir hom ‘n kind te gee.
Selfs toe sy dit gegee het was dit nie goed genoeg nie. Bitter draai sy weg.
Kos
maak tyd lê soos ‘n berg voor haar.
“Jy is dinamies,
Marieta Mulder.” Verspot gee sy ‘n kniebuiging aan haarself en lag vrolik. Sy
kyk dan na die horlosie teen die muur en besef dat dit tyd is om te gaan. Sy
tel haar swart leer-aktetas op – ‘n geskenk van haar ouers toe sy die
toelatingseksamen tot die Balie geslaag het.
Maak seker sy het alles en stap by die voordeur uit. Met ‘n defnitiewe
klik sluit die deur agter haar. Vir Marieta is dit die mooiste klank. Die deur
simboliseer haar onafhanklikheid asook haar nuwe lewe. Sy het al die negatiewe
gebeuretenisse agter gelaat en bewys sy kan dit doen. Sy moes baie brûe oorbrug
om tot hier te kom. Die feit dat sy op pad is na die grootste Prokureurs firma
in die stad, vir haar laaste onderhoud is ‘n groot oorwinning. Sy het gedroom
van hierdie dag vandat sy 18 jaar oud was. Dit het haar 30 jaar gevat, maar sy
het dit gemaak. Sy is op die regte plek.
Marieta stap na haar
geparkeerde motor onder die afdak in die kompleks, een van die gegoede buurte
in Pretoria. Met ‘n vinnige druk van die knoppie ontsluit sy die kattebak en
plaas haar aktetas binne en druk die bak toe. Elke stap vat haar nader na haar
toekoms en opgewondenheid bruis deur haar. Sy voel lig en vry en sy glimlag vir
haar weerkaatsing in die motorvenster.
‘n
Vinnige kyk na agter ry sy agteruit. Vir oulaas kyk sy na haar beeld in die
truspieëltjie. Die vrou wat terug kyk is professioneel. Elke haar op sy plek.
Met ‘n rustige verandering van ratte volg sy die geplaveide pad na die hoofhek
toe. Sy word vriendelik gegroet deur die dag sekuriteit en trek haar kaart deur
die kontrole paneel. Die hek swaai geruisloos oop en sy ry stadig vorentoe.
Gister se byvoeging
was ‘n groen padda wat op die toilet sit en boek lees. Mamma het gedink dit sal
perfek op die boekrak lyk en oupa het net onderlangs gebrom. “’n Mens sou dink
die vrou het nou al genoeg van die slymerige goed, maar nee, hier is weer een,
net so verspot soos die res.” Sy kon nie help om te lag nie en haar ma het hom
net geïgnoreer. “Gun haar, haar plesiertjie,” sê oupa Jan gereeld. Wanneer hy
kom kuier. Maar oupa Hans het geen geduld met die goed nie. Skuif dit gereeld
rond, vernaamlik wanneer ma naby is… dit jaag haar die harnas in. Ma se
waardevolste besitting is die padda-teestel, kompleet met ‘n teepot, die tuit
lyk kompleet soos die bek van ‘n padda en sy ril – sy hou nie daarvan nie. Oupa
maak gereeld vir hom koffie in die koppie, sonder ma se medewete. Dit is haar en Oupa se geheim.
Anna
fokus weer op haar doel. Paddas gaan haar nie nou help nie. Die taak moet
Maandag in wees en sy het inligting nodig om die taak te voltooi. Hopelik is
daar ‘n boek wat dit aan haar kan verduidelik. Een wat nie hoogdrawende woorde bevat
nie. Haar Oupa glo nie aan die wêreldwye web nie. Hy sê dit is net ‘n onnodige
euwel en verkwisting van sy geld. Hulle het al hoeveel keer daaroor gestry,
maar hy hou voet by stuk.
“Pa het die gewoonte
gehad om Sondae middae te dut. Klokslag. Ons kon ons horlosies maar stel… nie
dat ons gehad het nie… maar jy verstaan wat ek bedoel.” En Anna knik haar kop.
Oupa is ook so. Klokslag. En sy lag saam. “My pa was baie lief vir sy pyp ook,
en die ding was nooit te ver van sy soekende hande af nie. So gebeur dit dat pa
op die bepaalde Sondagmiddag weer gaan slaap met die pyp in sy broeksak
vergete. Die Sondagmiddag stilte het net begin neerdaal toe ons ‘n skreeu hoor.
Onaards en vreesaanjaend. Ek was soos blits by pa se bed, nie seker wat om te
verwag nie… maar wat ek gesien het, het ek beslis nie verwag nie.” Oupa skater
dit nou behoorlik uit, so asof hy dit weer beleef en Antjie lag saam, nie vir
die storie nie maar vir oupa.
“Ai
my kind, dit was nou ‘n sien wat nie ontsien kan worre nie…,” en hy proes toe
Anna hom verstom aankyk, geen benul wat hy nou eintlik probeer sê nie. Almal
lag gewoonlik saam hier maar Anna kon die deel nog nooit verstaan nie en bly
maar stil. “Jy sien, toe ek in die kamer kom het my pa, jou grootjie, se broek
op die vloer gelê. Die pyp het hom gebrand en agterna het ons uitgevind hy het
gedroom van ‘n slang. Toe hy die slang probeer klap toe…” oupa bly skielik stil
en bloos bloedrooi.
“Hulle was so vinnig
op ons dat ons net in geskokte stilte kon toekyk hoe Pa op die mat neergeplof
het, sy kop was in twee gesplit; sy growwe hande pers geskuur teen die
bindings. Pa het hard probeer om sy familie te red maar dit het ons niks gebaat
nie. Hulle het geen genade betoon aan hom in die meëdoenlose afbreek van sy
liggaam nie: die oopkloof van sy skedel was eintlik ‘n genade hou wat ek
verwelkom het op daardie oomblik. Ma het nog probeer smeek, maar ons kon net
hulpeloos toekyk hoe hulle pa Dries verander het van ‘n forse boer tot ‘n
voosgeslane pulp van menswees. Daar was niks heel aan hom nie. Sy bloed het
vryelik gevloei oral in die vertrek. Ek het later verstaan dat die hele huis in
ons bloed geverf was.” Herman sluk aan die knop in sy keel, en laat sak sy
bruin kykers vir ‘n wyle. Nou, na al die jare, is die gebeure van daardie dag
nog steeds vars in sy geheue. Hy kug en
gaan dan voort met die vertelling wat internasionaal opslae maak.
“Daardie beeld sal my
altyd by bly. Die finale slagting het ons aldrie uit ons verslae toestand geruk
en Lisa het hard probeer om by Pa uit te kom maar die booswigte het haar
vasgeklem en terug gehou. Ons angsgille het onbeheersd en aaklig deur die lug
geklief. Vrees het ons sinne beroof. Ma het nog probeer, vir oulaas, haar hande
opgelig in ‘n stop teken maar dit was alreeds te laat. Pa was dood.
No comments:
Post a Comment