Artikels
My verhaal lê
opgesluit in my geskiedenis. Dit is verweef in elke sandkorrel, gevormde klip
en die fynste veldblom van hierdie land. Van die Ooste tot die Weste, van die
Suide tot die Noorde is my storie verspreid. Daar is geen area in hierdie mooie
land waar jy ons nie sal vind nie. Oor majestieuse berge gekleed met wolke
komberse en donker, soms verskuilde klowe is ons skaduwees gegooi. Voetspore
verweef in elke era van die geskiedkundige boeke. Ons paaie nou saam gevoeg,
soos ‘n vlegsel in een gesmelt hier aan die suide van Afrika.
Voor my bestaan het my
voorvaders se sweet die grond benat. Verlore hand-velle die bemesting van hul
gewasse terwyl hulle die land bewerk het. Son gebakte velle beskermd deur ‘n
veldhoed so eie aan elke boer in ons land. Spierwit voete die enigste bewys van
hul werklike velkleur. Gebrei deur wind en weer het hulle hier ‘n lewe uitgekap
om die beste te doen vir hul nageslagte.
Terwyl
die mans die aarde omgespit het, was die vrouens gebukkend voor die klei-oonde.
Smullende warm brode en ander gebak ‘n daaglikse bedrywigheid terwyl kinders om
hul enkels gespeel het; dolosse en lappoppe hul enigste speelgoed. Uitgelewer
aan die natuur en barre landskap terwyl die geweer nie te vêr buite bereik
gestaan het nie. Sorgsaam en getrou het hulle die vuur gestook terwyl hul mans
in die veld was.
Braaivleis vure, dans
op die breë stoepe en lang kuiers onder die koelte bome was die kenmerke van
hierdie byeenkomste, en natuurlik eet. Die tafels het gekreun onder die gebak
wat gewoonlik so ‘n paar dae voor die tyd begin het. Van opgestopte skaapboude,
varkboude, gebakte hoenders, tuisgemaakte wors of pofadder en suurkos (Daar was
natuurlik afval ook maar ek het seker gemaak om dit te mis – drywende oë is
rerig nie vir my aptytwekkend nie. Elke denkbare groente was gekook, ingelê of
geslaai, en dan die lekkernye, elke soet tand se droom, poedings, koeke en
terte - klein of groot, dit het nie saak gemaak nie, daar was oorvloed.
Tussenin was daar druiwe, geel perskes, waatlemoen en spanspek wat verorber
was, genoeg om van naar te word. Net die blote gedagte aan daardie vragte kos
laat my mond water en die heupe groei…LOL.
Vir my ouers was dit
‘n prioriteit en ons het mooi herinneringe van daardie tye. Maar daar is een of
twee herinneringe gedurende hierdie tyd wat die meeste uitstaan; een daarvan
was toe Kanoneiland krag gekry het vir die eerste keer.
Nou,
ek weet nie van julle nie maar as kleinkind het jy nie rerig ‘n verhouding met
jou ouma of oupa nie. Gesprekke tussen die twee geslagte was gehou tot die
minimum: Die kinders-word-gesien-en-nie-gehoor-nie benadering. Albei my oupas is
oorlede toe ek baie jonk was, so die geheue is maar yl rakende my grootvaders
maar ons was geseënd om die oumas langer by ons te hê. Die rede dat hierdie een
gebeurtenis uitgestaan het is die feit dat ek Ouma Baby as vrou leer ken het
gedurende hierdie belangrike mylpaal in Kanoneiland se geskiedenis. Ek weet nie
hoekom sy Baby genoem was nie want haar doop naam was Johanna, ek dink dit het
te doen met die feit dat sy die jongste in haar gesin was - maar ek mag
verkeerd wees.
Venterskroon is geleë
tussen Parys en Potchefstroom binnein die Vredefort Koepel. Die Vredefort
Koepel is bekend vir sy pragtige natuurskoon wat oor 300 km strek en is die
grootste erfenisgebied in privaat besit in die wêreld. Die Koepel is bekend
onder fietsryers, vissermanne en stappers en verleen hom as ‘n heerlike
vakansieplek vir stadsjapies nie te vêr van die groot stad af nie. Om elke
draai is daar ‘n interessante storie verbonde aan die murasies, verskans tussen
bome en ruigtes, en het jy ‘n terugblik op die gisters vasgevang in die
pleisterwerk wat plek-plek opgebreek word deur die natuur. Kronkelende
grondpaaie lei na afgeleë plase, en netjiese vakansieoorde met plaasdiere en
wild wat die veld geniet.
Dit is ‘n wêreld ryk
aan geskiedenis – van die meteoriet wat daar geval het miljoene jare gelede tot
die uitgewerkte goudmyn wat nou net ‘n vae herinnering is van die lewe in die
laat 1800; die bewyse is oral te bespeur as jy jou oë oop hou.
Vir
opgewekte geselskap en ‘n goeie kontrei-staaltjie kan jy ‘n draai gaan maak by
die imposante kroeg in Imperial Inn vir ‘n vinnige lafenis of inboek vir ‘n lui
Sondag en middagete onder die groot ou koelte boom geniet wat heerlik voorberei
word deur die staatmaker spannetjie.
Hoe ookal, kosmaak is ‘n avontuur op sigself. Ek sit soms net en lag oor die manewales. Die
berge skottelgoed in my geestesoog groei met elke toeklap van ‘n kasdeur en ek
sug innerlik. Hulle ken nie van briek aandraai nie.
Tussen my pa en my verloofde is daar ‘n twaalf jaar
ouderdomsverskil, die twee verstaan mekaar en kuier lekker. Toe ons lewe ‘n
draai maak bied my pa my ou kamer aan as blyplek. Ek moet erken dat ek gewonder
het hoe dit gaan uitwerk; met ‘n beklemming om my hart. My pa is ‘set in his
ways’ en Isak beslis ook. Elkeen redelik hardkoppig. Maar bo verwagting gaan
dit goed.
O ja, ek moet nie van my broer vergeet nie, diè is die
jongste in die huishouding, dus is die ouderdomsgaping groot tussen hom en
Isak. Drie generasies in een huis en elkeen het sy eie manier van dink, maar
dit daar gelaat.
Jannie is amptelik die enigste “permanently employed” in
die huis en is elke dag, net na ses saans tuis. Die dag se gebeure word dan
herhaal sodat hy darem ook kan weet wat aangaan. Alhoewel die twee soms lekker
kan kuier is die twee afgetredenes meer dikwels in mekaar se geselskap en
onthou-jy-nog-staaltjies so deel van elke dag.
Jip, julle het reg gehoor. Ek bly saam met twee
afgetredenes. 77 en 65, en my broer is 43. Ek hoop iemand kry my jammer. Nee, ek grap net, dit is darem nie so erg
nie, want dit het sy voordele. Ek maak selde of ooit kos. Net die kombuis se
skoonmaak word vir my gelaat, darem net soms - maar dit is ‘n gesprek vir ‘n
ander keer. Berge en berge skottelgoed. Wel, julle kry die prentjie.
“Kan pa nog onthou jare gelede het ‘n mens…” dit is hoe
dit gewoonlik begin of, “Onthou pa vir Jannie Engelbrecht…” dan word daar in detail vertel van die drie
of skop of wat ookal die geheue geprikkel het.
“Wag laat ek nou eers vir jou vertel…”
is gewoonlik my pa se inleidende woorde. “Wragtig waar, dit is so…” bevestig hy
sy eie storie so asof ons hom nie gaan glo nie. In een middag kan ek plekke
soos Port Elizabeth of die Baai, Kanoneiland, Augrabies, Tsitsikamma,
Johannesburg of Kimberley besoek sonder om die huis te verlaat. Moenie
Upington, Kuruman en Keimoes uitlaat nie.
Ons bestaan word versinnebeeld in die paaie wat
ons daagliks wandel; sommige paaie strek voor ons uit soos ‘n groot vet slang
wie se kop weg raak op die horison - eindeloos en lui. Dan is daar paaie wat al
kronkellend deur hoë bome vleg en jou uitnooi om deel te word van sy koeltes en
skadus, maar indien jy nie versigtig is nie jouself misgis met die kronkels -
wat soms so vinnig kom: sonder waarskuwing - dit is dan wat jy die pad maklik
byster raak: verlei deur die mooi, maar daar is geen hoop aan die einde nie.
Ons kan liries raak oor ons kuslyne; ons het
seker van die mooistes in die wêreld. Langs die einste kuslyne kan ons die
uitgestrekte blou water massa bewonder: glimmend en golwend in Sy almag. Omsoom
met wit strande wat land en see skei en reusagtige rotse wat uit die branders
rys, die wind ‘n konstante metgesel wat sy eie taal praat, en die toneel dwing
bewondering af. Die majestieuse berge aan die ander kant van die pad troon bo
ons uit en jy kan nie genoeg kry van die verskillende rotsformasies en
plantegroei nie. Soms word ons so meegesleur deur die strome van die lewe dat
ons nie die verskanste gevare raak sien nie: die gety wat jou dieper meesleur
tot waar jy maklik kan vergaan sonder dat jy dit besef.
Dan is daar die grondpaaie wat ons land
deurkruis, wat voor ons uitstrek met die horison wat in ‘n “see” geleë is en
net altyd aanskuif asof bodemloos en jy wonder wanneer gaan dit klaar kry. Geen
skaduwee om jou warmte in te baai nie en geen borde wat jou rigting of bakens
aandui nie. Jy het geen benul of jy wel nog op die regte pad is nie en iewers
sluimer die twyfel van omdraai, van stop. Dan, skielik sien jy ‘n windpomp
uitrys soos ‘n baken van hoop en jy besef jy is nie alleen nie en ‘n glimlag
sprei oor jou hele gelaat en jy beur voort totdat jy beskawing bereik.
Die bestemming wink in
die verte en opgewondenheid bruis deur jou are.
Soms is hierdie paaie in skadu gehul, geheimsinnig asof dit nie sy
geheim met jou wil deel nie. Ander kere glinster dit helder voor jou uit maar
gee geen aanduiding van die bestemming nie - geheimsinnig, winkend, al
kronkelend verdwyn dit oor die volgende koppie of rante. Op een stadium was ons
bo op die Baviaansberge en moes ek weer uitspring om ‘n hek of twee oop te maak
en die verlatenheid was sprekend, tasbaar maar tog gevul met ‘n eiesoortige
heimweë. Miskien na ‘n wêreld van weleer of miskien sommer net na die stiltes
van die natuur. Is ek die enigste een wat dit so ervaar?
‘n
Mens kan dit selfs ‘n stap verder vat. Behalwe vir die fisiese is daar ‘n
figuurlike betekenis tot die oopmaak. Die oopmaak van jouself veroorsaak dat jy
beter sien. Dit bring nuwe lewe asook ‘n verwagting vir die onbekende. Wanneer
ons daardie hek oopmaak gebeur daar iets in ons en nuwe lewe bruis deur ons.
Dit is dan wanneer ons weer gefokus raak en opnuut ons talente raaksien,
onsself leer ken en sommer net weer mens word. ‘n Mens met ‘n doel.
Ons elkeen ontvang die lewe as ‘n geskenk. Reg in die begin
van bevrugting het jy die drang om te leef. Dit is diep in ons gene gewortel en
kan net deur dood geblus word.
Die oop graf, veral die van ‘n ouer, lig dit des te meer
uit. Dit is dan wanneer jou eie kwesbaarheid onder die vergrootglas kom en jy
weerloos gelaat word. Alleenheid kom nie eers naby die gevoel wat jy dan ervaar
nie. Dit meng met elke sel in jou wese en jy voel verwyderd van die alledaagse
bestaan.
Die belangrikheid van ‘n moeder kom skerp na vore in haar
heengaan. Jy waardeer haar dan eers, lank nadat sy haar laaste asem uitgeblaas
het. Daar is niemand wat soveel omgee vir jou soos jou ma nie. Haar liefde en
onbaatsugtigheid plaas haar op ‘n hoër platform as enige ander mens. Soos ‘n
pilaar staan sy, sterk en onwrikbaar in jou lewe. Sy koester en beskerm jou. Sy
leer jou van die lewe en gee jou liefde wanneer die lewe jou ‘n wang draai. Sy
is as te ware jou buffer teen die koue aanslae daarbuite.
Wanneer
sy weg is, voel jy alleen, kwesbaar en verwyder van alles om jou. Maak nie saak
hoe besig jy is nie jou hart bly verlang en sit vas soos klitsgras. Daar, in
jou binneste, waar jy introspeksie doen in stilte. Als om jou verloor hul glans
en betekenis. Jou ervaring van die lewe verander.
My verhouding met my kinders het die jaar sodanig verbeter
dat ek met opregtheid kan sê dit is wel met my siel. Sonder hulle liefde,
aanvaarding en bystand sou dit nie moontlik gewees het om weer my voete te vind
nie. Kinders maak ons heel - selfs die kleinseuns se kleine handjies is
genesing vir die moeë siel. Nathan se woorde het my nou die dag, tydens ‘n
kuier, diep getref: “Ek is so bly ouma het nie Kaap toe gegaan nie.” Meer
daaroor in ‘n volgende aflewering maar ek het net weereens besef hoe my
besluite selfs hom geraak het. Dit is daardie woorde wat dan soos ‘n lieflike
geur om my hals hang en ek weet ek is geliefd ongeag die modder waarin ek my
bevind het. Miskien klink dit narsisties vir sommige maar my gemoedtoestand was
so stukkend en rou dat sulke klein gebare vir my die wêreld beteken.
Alhoewel die huwelik in die slag gebly het sal die goue
klontjies van wysheid en die mooi herinneringe daarvan iets wees wat ek sal
vertroetel in my hartkamers en die swaar tye, die tye wat my met insig gevul
het, my verder lei soos ek die lewe verder aanpak. Elke nuwe tree wat ek gee
vul my met groter dankbaarheid vir dit wat tans gebeur.
Ek voel voorwaar soos die spreekwoordelike verlore seun wat
in die varkhok tot die besef gekom het dat sonder Hom dit ‘n koue plek is. Weer
het ek terug gekom na ‘n Vader wat met ope arms my ingewag het: Sy liefde
onverandered en Sy rus balsem vir ‘n moeë gees.
Sy
genade is vir my genoeg!
Die ander vrou is
skielik iemand, met ‘n naam. Alhoewel jy haar nog nooit ontmoet het nie, is sy
‘n permanente deel van jou lewe. As nuweling word jy vergelyk, beoordeel en
bespreek deur vriende en familie. Ongeag hoe hard jy probeer, jy kan haar nie
ignoreer nie. Deels omdat sy gedurigdeur opkom in gesprekke veral as julle in
dieselfde kringe beweeg of indien daar kinders en kleinkinders betrokke is.
Met sosiale media is
dit selfs makliker om van die ander vrou te wete te kom en op haar te volg aka
spioeneer. Wie het dit nie al gedoen nie? Ons gebruik verskeie redes om onsself
te regverdig maar feit bly staan, ons wil meer weet oor die vrou wat die man in
jou lewe gedeel het of deel. Dit hang af aan watter kant jy staan.
Ek
onthou in my gewese huwelik het ons verhouding ook maar pas begin en het ons
saam na ‘n kerkkamp gegaan. Die Sondagoggend moes hy gou ‘n draai loop en sê ek
moet solank gaan sit. By ons sitplek het sy Bybel op die vloer gelê waar ek dit
op getel het. Daar, voor my voete val toe ‘n foto uit van sy vorige meisie. ‘n
Duisend vrae het deur my gegaan in ‘n bestek van sekondes. Agterna het hy my
verseker dat die verhouding verby is. Ek het hom geglo. Ons is getroud. Met
verloop van tyd het sy elke keer, op die mees onverwagse oomblikke, na vore
gekom. Jy sien, sy familie kon haar nie vergeet nie, en het by tye ook kontak
met haar gehad. Elke keer het hy my verseker dat sy iets van die verlede is.
Maar sy het bly opduik wat wel sy stremming geplaas het. Toe ons huwelik op die
rotse loop was sy skielik weer terug. Sommer netso, na 30 jaar van geen
kommunikasie. (Ek wil ook nou nie enige wyshede hoor nie… Los dit daar.)
Laat lente is net voor
somer. Die rypwordingstyd van plante wat hul kleur uitstoot. Tot daardie wonder
wanneer hul in volle blom hul kleur en geur ten toon sal stel. 'n Heugelike
gebeurtenis wat so onder ons neuse gebeur. Dit kruip al nader, omhul jou gemoed
en word deel van ons – sonder moeite.
Laat lente het sy eie
unieke klanke; gevul met die gezoem van bye. Die fladder van opgewonde vinke om
die voëlbak. Van die mossies wat hulself met borrelende gespartel bad. Al
spelende tot hulle blink. Die wind wat baljaar deur jong blare. Die geur van
bloeisels uitgestal in kleure van wit, pienk en rooi; in elke skakering. Gun
wonder Salomo het genoem dat ons na die natuur moet kyk nie. Niks kom by die
skouspel daarvan nie. Ons lug gevul met geure van skoon grond na dit omgeploeg
is; afwagtend op saad. Die sprankelende lus vir die lewe soos ‘n elektriese
stroom wat gedurig suis; sonder ophou.
No comments:
Post a Comment