Thursday, August 25, 2022

Inhoud Skrywe

 

Radio program

Vandag se program handel oor jou verhouding met jou kinders, hoe benader jy hulle as enkelouer? Daar is nie meer ‘n ons in jou woordeskat nie, so jou benadering gaan moet aangepas word. Aksies en optredes wat jy as vanselfsprekend in jou huwelik ervaar het is nou verwarrend en in sommige gevalle amper taboe. Waar jy voorheen sou gesê het “gaan vra jou pa,” is die pa nie daar om jou uit te help nie en moet jy nou die besluite neem. Jy kan ook nie elke keer op die foon klim om hom opdrag te gee om met die kind te praat nie. Dit mag wees dat hy alreeds in ‘n ander verhouding is en die vrou duld nie jou ontydige opdragte aan haar maat nie wat meer spanning kan veroorsaak. Of dat hy net nie beskikbaar is nie en wanneer jy eis om te weet waar hy is veroorsaak dit in ‘n geveg en die eintlike rede is dan verlore. Onthou, hy skuld jou geen verduideliking nie. Dit is in hierdie tye dat jy jou kinders se respek verloor en jy ook beheer verloor in die algemeen.

Die hele kommunikasie dinamieka verander. Waar julle ‘n familie van vier of vyf was is julle nou net drie of vier. Voorheen was dit maklik om verantwoordelikhede rond te skuif soos wat dit die situasie gepas het nou is dit net jy en jy alleen. Dit kan nogal senutergend wees. In ‘n groot mate kan jy verslae en verlore voel, selfs oorweldig. Maar jou wegkruip dae is verby. Jy is nou die een wat die pas moet aangee, die leisels moet opneem en vooruit moet loop. Jy staan alleen, met niemand om jou te rugsteun oor hierdie veranderinge of besluite wat jy moet neem nie. 

In baie gevalle sal kinders dan rebelleer bloot net omdat hulle nie verstaan nie, en, of die ander ouer mis. Of omdat hulle al die aandag soek om hul eie onsekerhede hok te slaan. Dit veroorsaak sy eie unieke probleme waarop ‘n enkelma moet bedag wees. Indien dit nie reg hanteer word nie kan jou lewe oornag in ‘n nagmerrie verander.

Die afgelope paar maande het ek gesels oor enkellopendskap en hoe om dit te hanteer. Hoekom en waarom jy in jouself moet belê en te glo dat jy waardevol is. Jy moet besef dat hierdie nie die einde van die pad is nie maar juis die begin. Ek hoop dat julle daarby baat kon vind en dat ek op my beskeie manier iets kon oordra aan jou wat op hierdie enkelpad is. Als wat ek hier deel is wat ek ervaar het, my skruikelblokke en foute in die hoop dat jy hierdie tydperk beter keuses sal maak en rerig weer glo in jouself.

Maar nou wil ek ‘n bietjie stoute skoene aantrek en tyd spandeer aan die meer praktiese dinge. Die praktiese dinge mag dalk vir sommige nie aanvaarbaar wees nie maar dit is belangrik dat dit wel aangeraak word. Daar is te veel verhoudings en huwelike wat tot niet gaan omdat ons hierdie onderwerp vermy of systap. Mense glo om soos ‘n volstruis, jou kop in ‘n gat te druk, dat die probleem sal weggaan, wat ‘n mite is. Dit is juis ons stilstwye wat veroorsaak dat die probleem groter word. Ons as mens is geskape om te voel en te ervaar met hart en siel – nie net ons liggaam nie. Alles loop saam om ons volkome mens te maak. Nie een van ons het net sekere dele gekry nie. En ander verskillende dele nie. Ons het almal dieselfde mate gekry, man en vrou. Dit is ons benadering wat dit wel misvorm en lelik maak, wat die probleme veroorsaak.

Ek wil my die reg toeëien deur te sê: Deur alles om ons te vergeestelik verloor ons in baie gevalle ons senualiteit. Ons dink as ons christelik optree of dit ignoreer, sal die drange waarmee ons gebore is, verdwyn. Maar dit is juis ons stilswye wat dit vererger. Hierdie aspek is onlosmaaklik deel van ons menswees.

‘n Man se stryd word soms oorgeslaan in die egskeiding of opbreek tyd. Ons vergeet dat hulle ook ly en dat hulle manier van doen grotendeels beinvloed word deur die gebeurtenis se impak op hul gestel. Daarom het ek dit goed gedink om op hulle te fokus vandag.

 

Op elke gebied word ‘n mens gelouter in hierdie pad. Vrouens hanteer dit anders omdat hulle meer in voeling is met hul emosies en vinniger uitreik. Mans hanteer dit stilweg, broeiend. Vrouens se uitkyk verander oor verhoudings. Wanneer ‘n vrou weer asem kry wil sy erkenning hê. As sy ‘n man gehad het wat haar voorheen versmoor het wil sy ruimte hê om haar eie ding te doen. As ‘n vorige maat ‘n huishen was wil sy nou iemand hê wat uitgaan en die lewe geniet. Sy is dalk nou ‘n werkende vrou en haar tyd is beperk of haar belangstellings is wyer verspreid.

 

Hoe ook al sy, ‘n man verander ook, sy verwagtings verskuil agter traak-my-nie-agtige houding en gaan hy met ‘n ander gesindheid in ‘n volgende verhouding in. Hy kom dalk koud en afsydig voort vir sommige vroue – maar dit is als deel van die beskermings meganisme. Sy verwagtings verander ook en hy kan in baie gevalle langer enkel bly vir finansieël redes wat veroorsaak dat hy stagneer.

Brandstof vir die siel.

 

Wat bou jou op, laat jou voortbeweeg. Wat maak jou opgewonde?

Ek spring sommer weg met ‘n paar moeilike vrae. Vir sommiges mag dit dalk maklik wees maar vir die meeste luisteraars is dit vrae wat hulle mee sukkel, selfs tot diep in hul veertigs of vyftigs.

Veral nou dat jy op ‘n nuwe pad is kom hierdie vrae weer skerp onder die soeklig en wonder jy wat is jou doel. Waarom is jy hier?

Vroeër of later word ons almal met dit gekronfronteer. Sommiges kan kies om werklik antwoorde te gaan soek soos die jongman, Tal Gur van Israel. Ek het al ‘n paar keer uit sy boek, The art of living voorgelees. Hy het letterlik vir homself doelwitte gestel wat hy dan na ‘n sekere tyd bereik het. Vandag is die man ‘n motiveringspreker wat duisende mense inspireer deur dit wat hy geleer het. Ek het al van Sunitkia gepraat wat vanuit haar ellende opgestaan het en daadwerklik ‘n verskil gemaak in haar gemeenskap. Die lys is eindeloos.

Ek is seker julle het ook al sulke stories gehoor wat julle heel moontlik geinspireer het, maar julle weet nie waar om te begin nie. Ek self was deur Janine Shapiro se man in ‘n hoek gesit toe hy die vraag, wanneer laas het jy gedroom, aan my gestel het. Dit is waar ek geleer het van droomborde.

Ek was bewus daarvan dat ‘n mens verskillende visuliaserings borde kry, veral kuns studente moet dit gereeld maak. Maar ‘n droombord, nee, ek was totaal onkundig daaroor. Toe volg ek hul raad en kort voor lank het die bord op my rekenaarskerm vorm aangeneem.

Is die nommer ‘n probleem?

As enkellopende vrou is die keuse boksie nie so baie soos voorheen nie. Jy self is nou ook nie meer ‘n jong bokkie nie – wel dit hang natuurlik af wie na jou kyk, nê.

As tiener kon jy kus en keur tussen skool- en studentmanne wat daaglikse jou pad gekruis het. Nou ontmoet jy selde iemand van jou ouderdom, en die wat jy ontmoet is of onbereikbaar of net nie volgens jou standaarde nie. Of het soveel ‘baggage’ dat jy nie wil betrokke raak nie. Jy wonder dan waar is al die hubare manne. Jy begin rond kyk; en bevind jouself skielik in ‘n terrein van ouderdomverskille. Of jy is veel ouer as die interessante manne of die man is veel ouer as jy.

‘n Paar punte vir oorweging:

Wanneer die man ouer is as jy, kyk na sy voorkoms, is hy darem netjies op hom self? Die hare is dalk yl maar hy is nog aantreklik, of wat van daardie boepie? Is dit dinge wat jou sal afskrik of aantrek?

Is hy ‘n roker of / en drinker? Hou hy matigheid voor oë of raak hy heeltemal katools dronk en vergeet sy maniere by die agterdeur?

Hoe behandel hy jou wanneer julle in die openbaar is? Dit is gewoonlik ‘n baie goeie maatstaf of dinge sal uitwerk, of nie.

Die volgende ding wat jou oog ook trek is stokperdjies. Wat geniet hy om te doen? Of is die mees interresante ding in sy lewe dit wat is op die volgende kanaal op TV is? Is hy lief om uit te gaan, en ek bedoel nie shopping nie, hoor. Indien jy lief is vir lees, hoe voel hy daaroor? Gee hy jou ruimte om dit te doen, of nog beter lees hy saam met jou? Vir my is dit nogal ‘n belangrike punt want ek is alewig met my neus in ‘n boek.

Ek hou van die Marvel karakters, spesifiek die verskillende lede van Avengers. Ek het natuurlik my voorkeure soos Thor, Iron Man, Pepper Pots - alhoewel sy nie ‘n fisiese Avenger karakter is nie is sy tog deel van die storie en staan sterk in haar ondersteuningsrol. Captain America is ook ‘n gunsteling maar Wonder Woman is beslis die karakter wat my die meeste aantrek. Haar lewe staan vir iets meer as net ‘n vrou met bonatuurlike kragte. Die vrou, Gal Gadot, wat die rol speel is self ook merkwaardig afgesien van haar uiterlike skoonheid.

Wonder Woman straal ‘n selfvertroue uit wat sy net kon kry deur opleiding en die wete wie sy is. Tog kom sy ook nederig voor selfs by tye naïef. ‘n Ander belangrike faktor uit haar lewe is dat sy besef het om die wêreld te verander moet sy ook verander. Jy mag een feit glo maar realiteit vervang dit met ‘n groter waarheid. Dit is daardie waarheid wat jou dan vorm en in jou doel in vat.

Ons het oor die naweek weer na die fliek gekyk en ek het ‘n hele paar dinge raak gesien wat ek voorheen gemis het. Haar opleiding as klein dogtertjie, tiener en jong vrou het vir my die meeste uitgestaan die keer. Haar innerlike gemoedskwellinge was ook ‘n groot faktor. In die eerste plek het sy geglo dat dit wat sy geleer het tydens haar opleiding reg was. Maar hier op aarde, gekonfronteer met die daaglikse probleme moes sy haar innerlike oortuigings vervang en toepas om werklik ‘n verskil te maak. Niks is ooit in klip geskryf nie daarom kan dit verander word.

Vir 30 jaar het ek sekere goed geglo, en dit toegepas. Dit het my hard en ongenaakbaar laat voorkom. Maar toe, agv veranderinge in my persoonlike lewe, verander my uitkyk. Ek kyk met meer meegevoel na ‘n situasie, juis agv die pad wat ek gewandel het. Net so met Wonder Woman. Dit is ‘n paridigma skuif in jou kop as te ware. Dit kos gewoonlik intense sielsveranderinge om dit te weeg te bring.

 

No comments:

Post a Comment

Declarations of immediacy.

Spotify Declare this word right now in the name of Jesus. In the beginning of the year, we received the scripture in Matt 11:12 as our key...