Sunday, March 5, 2023

Dagstukkie: Opgehoopte niks

 


Het jy al ooit rustig genoeg geraak dat jy ʼn horlosie kon hoor tik? Ritmies tel dit die sekondes van ʼn minuut af. ʼn Minuut word ʼn uur en voor jy mooi weet, is ʼn dag om. ʼn Week voel soos ʼn vlietende gedagte, ʼn maand soos iets ver in die verlede, ʼn jaar weggespoed in dwase soeke na … elkeen van ons se afsluiting van die sin sal anders wees.

In my onlangse nuusbrief het ek die lewe met ʼn boek vergelyk. Net soos ʼn boek skryf ons die storie van ons lewe met tussenposes van stiltes. Stiltes waar ons die sekondewyser duidelik kan hoor. Ander kere vergeet ons van die horlosie in ons gejaag na aanvaarding en die afhandeling van pligte. Daar is gebeure in ons lewe wat ons skuur en skaaf, die tye waar ons stukke van ons lewe moet oorskryf, redigeer en weer moet probeer. Met al die sorg om ʼn perfekte boek gepubliseer te kry, is daar tog nog foute wat deurglip. Al die stres en “worry” kom weer na vore, en ons word herinner aan ons lewe. Aan die dinge wat saak maak.

Dit gebeur gewoonlik om Kerstyd en Nuwejaar. Tye waarin ons besin oor ons lewe, die foute raaksien van die jaar soos dit afspeel in ons gedagtes, en besef daar is min kwaliteit en te veel kwantiteit in ons lewe.

ʼn Vlietende oomblik waar ons wonder oor ons lewe, tot die volgende taak opkom en vergeet van ons ‘amper’ goeie voornemens en die sekondewyser uitdoof.

Soos wat ek luister na die sekondewyser, besef ek dat hy met elke tik ons ʼn kans gee om iets goeds te doen. Om ʼn nuwe besluit te neem. Soms hoor ons daardie stil stem, ander kere ignoreer ons dit.

Maar die vraag bly – en daar is net een wat dit kan beantwoord. Het jou lewe ʼn doel? Kan jy met alle eerlikheid sê ek het waarde tot my, my man en my kinders se lewe gevoeg? Of is kwantiteit meer belangrik?

Wanneer ek terugkyk na my 57 somers, dan besef ek daar was tye wat ek werklik kan sê ek het kwaliteit na die tafel gebring. My drie kinders se opvoeding was vir my ʼn prioriteit waaroor ek ernstig was. So ʼn jaar nadat ek tot bekering gekom het, het ek mense ontmoet wat tuisonderrig gedoen het.

Hulle het die saadjie geplant: as ouer, is dit my verantwoordelikheid om my kinders te leer. Ek het dit my eie gemaak en met tuisonderrig begin. Daardie vyf jaar was die kosbaarste tyd in my en my kinders se lewe. Selfs my man het daarby gebaat. Ons was nou ʼn span wat daadwerklik in mekaar se lewe belê het.

Netso toe ons ʼn besigheid begin het. Elke persoon wat vir ons gewerk het, het ʼn sendingveld geword in wie ons kon bou.

Op die ouderdom van vyftig het ek geleer om in myself te belê. Voor dit het ek omverskoning gevra as te ware wanneer ek iets wou doen. My ‘gut’ was iets waarvan ek gelees het, maar min gevolg het. Sedertdien het ek geleer daar is groter waarde in kwaliteit, en het die sug na prestasie en besittings verdwyn.

Kwaliteit is die gehalte van lewe en hoe jy dit toepas in jou lewe. Dit is die verwydering van die kaf, sodat jy met die werklike ware ‘ek’ sit. Gepoets en geslyp om diensbaar te wees in jou plantingsplek. Dit maak nie saak wat jou rol in die lewe is nie, jy gee waarde net waar jy is. Jou hoedanigheid as persoon is waardevol.

Kwantiteit kan nie die plek van kwaliteit vervang nie. Jy kan twintig koeke maak en mooi versier, maar indien een kluitjie in die middel is, sit jy met negentien koeke wat nie sal verkoop nie. Bak eerder een perfekte koek waaraan mense smul en vra vir nog, en jou waarde het ʼn hupstoot gekry.

Jy, as mens, voel volbring. Jy is nie ʼn opgehoopte niks nie, maar iemand met waarde.

Jesus se laaste woorde aan die kruis was: “Dit is volbring.” Hy het gedoen waarvoor Hy gekom het. Hy het sy lewe afgelê sodat jy vrede kan hê. Daarin is ʼn groot les te leer.

Jesus het in sy drie jaar van bediening, meer vermag as mense wat tagtig jaar leef. Na 2000 jaar is Jesus se lewe nog steeds ʼn voorbeeld van kwaliteit, in plaas van kwantiteit.

Indien jy nie jouself eers bekeer in stede van die wêreld probeer oorwin nie, is dit als ʼn gejaag na wind. ʼn Opgehoopte niks wat jou leeg laat.

Kan jy met alle eerlikheid vandag erken dat jy volmaak is?

Indien nie: Wat gaan jy daaromtrent doen?

Bestudeer die lewe van Christus en volg Hom na. Jy kan nooit verkeerd gaan nie.

Jy is ʼn geseënde van die Here.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting

No comments:

Post a Comment

Pointers on how to navigate through this life.

  A Sixty-Year-Old’s Perspective. As we become older it’s easier to look at life and what we have learned because we look in retrospection...