Showing posts with label Skakels van 'n ketting. Show all posts
Showing posts with label Skakels van 'n ketting. Show all posts

Sunday, December 11, 2022

Dagstukkie: Ek, myself en julle.

 


ʼn Mens wil dit nie altyd openlik erken nie. Jy voel gemeen om dit selfs te dink, selfs dankbaar, maar die feit is jy, jou ouers en sibbe, het meningsverskille, lelikes.

 Elkeen dink anders, en voel anders en daar moet ʼn weg gevind word om mekaar te verstaan en saam te te leef. Indien nie, sal julle mekaar uitskel, miskien skoene rondgooi en daardie lelike woorde hardop gesê word: “Ek haat jou!” Daardie woorde wat jy altyd net gedink het word nou ‘n werklikheid en nou moet jy met dit deel.

Ek onthou toe my eie dogter dit vir my geskreeu het. Die absolute skok wat daarmee saam gegaan het, het my sprakeloos gelaat. Ek kan nie eers meer onthou waaroor dit gegaan het nie, maar daardie woorde het lank by my gebly. Dit het bitter seergemaak. Jare later kon ek en sy dit eers uitsorteer.

In my ouerhuis is ons nooit geleer hoe om konflik te hanteer nie. My benadering was om opgeblase kamer toe te gaan, die deur toe te klap en te lees. Ek en my jonger suster het ook ʼn kamer gedeel. Daar is ʼn ouderdomsverskil van vyf jaar tussen ons en ons kon nooit werklik goed oor die weg kom nie. Selfs nou, jare later, is daar nog steeds ʼn styfheid tussen ons.

My ma se manier van konflikhantering was om goed in die kombuis rond te gooi, bitsig te wees en almal te byt wat in haar omtrek kom. My pa het aan stilstuipe gelei en agter die koerant gebly. Sus het begin huil, later onttrek en Barbie gespeel. Op daardie stadium was die twee jongstes nog te klein om werklik deel te neem aan die gevegte. Die ouderdomsverskille te groot. Nou, na al die jare kom ons goed oor die weg, maar toe was die twaalf jaar oue verskil ʼn seer werklikheid en ek het beslis nie belang gestel in hul baba nukke nie.

Teen matriek wou ek met alle geweld uit die huis uit. Twee jaar later is ek getroud en kon ek uiteindelik die huis verlaat. Dit was ʼn blye dag. Toe my eie kinders gebore is moes ek nie net leer van konflikhantering nie, maar moes ek hulle ook leer. Soos reeds genoem was dit nie maanskyn en rose nie.

Op sewe en twintig het ek die Here ontmoet en toe eers kon ek leer hoe.

Die proses het by myself begin. Ek moes leer om stil te staan, stil te bly, en te luister. Ek moes leer om nederig te word, ander te dien, en Christus te volg. Dit was ʼn eina tydperk van self-aflegging. Die eie-ek kruisig. Ek moes my wil teen die kruis vas spyker en toe te laat dat die Heilige Gees my lei voor ek my kinders kon leer.

Ek het baie foute gemaak in die tyd. Met baie mense baklei en wanneer hulle terugbaklei het ek nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Dit was soos raaisels wat my nagte se rus ontneem het totdat ek by die resultaat kon uitkom.

Om ons eie-ek te kruisig is nie maklik nie. Vir ʼn sekere aantal jare is jy gewoond om te sê, te dink en te doen wat jy wil. Jou wil het geseëvier. Maar die oomblik wanneer jy jou knie buig voor God die Almagtige Vader dan moet daardie wil buig.

Daar is ʼn spreekwoord wat lui: knak die boompie terwyl hy jonk is. Maar wanneer daardie boompie al oud is, is dit moeilik. Die treë stadig en die kop hardkoppig.

Die eerste les wat ek moes leer was om omverskoning te vra en te vergewe. Ek moes fisies na my ma toe gaan en haar vergifnis vra en haar vergewe.

Deel van vergifnis is om te erken jy is ook skuldig. Elke saak het twee kante. Elkeen dink en voel anders oor iets. Nie een is verkeerd of reg nie. Elkeen se opinie is belangrik en moet in ag geneem word. Elkeen moet bereid wees om te bely en reg te maak. Elkeen verdien daardie onvoorwaardelike liefde.

Ek moes dit ook met my skoonma doen. Ek kan al hoor hoe trek jy die asem in. Jy het reg gelees: ook jou skoonma. Dit is moeilik, maar doenbaar.

Die vreugde van vergifnis kan ek nie genoeg beskryf nie. Dit is die neerlê van die self en die nuwe kleed van verootmoediging aantrek. Daarmee saam moet jy leer om geduldig te wees, te luister. Nie jou eie belang te soek nie. Nie opgeblase te wees nie. Nie die splinter in iemand anders se oog te sien en jou eie balk te ignoreer nie. Dit klink amper soos iets uit die Bybel nie waar nie. Jy is heeltemal reg.

1 Korintiërs 13 AFR83. Dit begin sommer van die eerste vers af:Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is,”

Tyd en woorde ontneem my om verder uit te brei, maar gaan lees dit gerus. Dan doen jy dit en sien wat ʼn lieflike geur word jy vir die Here. Een wat konflik kan hanteer en Vader verheerlik in die proses.

Jy is voorwaar ʼn geseënde van die Here.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting

 

Sunday, November 27, 2022

Dagstukkie: Vergelykings se onsekerhede.

 

Picture from Google

My ma het hoë standaarde gehad en as kind het ek dit altyd gefaal. Sonder uitsondering. Of dit nou was om ʼn koek te bak, ʼn rok te maak of mense te groet. Ek was gewoonlik in die moeilikheid. My handelinge het haar nie aangestaan nie. Ek onthou ʼn gesprek tussen my ouers tydens een so ʼn geleentheid van mislukking toe hulle gepraat het van ʼn afrondingskool. Dit het natuurlik nooit gebeur nie en ek het die wêreld betree met die gedagte dat ek net nooit goed genoeg was nie.

Rondom standard 4 – of Graad 6 soos dit vandag bekend is, was ek gekys met ʼn outjie in my klas. Sy ma was ʼn baas bakster en kleremaker en het tot pakke klere vir hom en sy pa gemaak. Terug by die huis, na ʼn Sondagmiddagkuier, was ek vertel hoe ek my sokkies sal moet optrek as ek enigsins aan trou wil dink. Ek was elf jaar oud. Ek het geen benul gehad van liefde, trou, klere of kos maak nie, maar die aanmerking het sy merk gelaat. Die kys het nie gehou verby standard 5 nie, want ek was vrek bang.

Bang vir die skaal van mislukking.

Eers as huisvrou kon ek ontspan en leer om te kook en naaldwerk te doen. My ma was nie daar om oor my skouer te loer of te veroordeel nie. Ek het als myself geleer. Dankie Vader vir resepteboeke en patrone.

Ek was ʼn kranige konfytkoker, bakker en was lief vir brei en borduurwerk. Maar in my ouerhuis het ek geweier om te help, juis vir al die vergelykings en verwagtings wat op my geplaas was.

Hierdie vergelykings, gemeet met ander mense se standaarde, was ʼn bron van baie trane en verwerping tot diep in my grootmensjare. Ek het eers op vyftig geleer om my eie pad te stap, sonder die alewige opweging. Ek het vry gevoel om my passies uit te leef.

Die vergelykingsindroom het deurgeslaan in my verhouding met ander mense, by die kerk en ook in my enkelloopdae. As vrou was ek vertel ek het my kinders nie lief genoeg nie of dat ek my man nie genoeg stimuleer in die slaapkamer nie. Ek was vergelyk met medegelowiges. Die weegskaal het altyd na die verkeerde kant toe getrek, ongeag hoeveel keer ek probeer het om in te pas. Dit was ʼn aanhoudende geveg om aanvaarding. Die trane het dae lank sonder ophou gevloei daaroor.

Dit het gevoel God weeg my en ek is altyd verkeerd. Ek het gedink dit is onregverdig dat mense my so behandel en gou sou die trane omsit in bitterheid en woede.

Gedurende hierdie tye van selfbejammering het ek myself toegesluit en binne my huis rustigheid gekry. Ek is vandag nog so. Die geringste teenkanting veroorsaak dat ek die kamerdeur toe maak en my verdiep in skryf of lees.

Die enigste twee plekke waar ek die vryheid het sonder veroordeling, is by God en boeke. 

My hemelse Vader aanvaar my net soos ek is. Daar is geen vergelykings nie, geen kompetisies nie en geen verwerping nie. Wanneer Hy sê ek is lief vir jou, glo ek Hom. God is my bron en regverdigmaking. In Hom vind ek rus.

Romeine 8:1-2 (1983 vertaling): “Daar is dus nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood.”

Is dit nie ʼn wonderlike skrifgedeelte nie?

Daar is dan geen veroordeling nie – lees dit ʼn paar keer. Vader se aanvaarding is baie beter as die mens sʼn. Of dit nou ʼn ouer is of ʼn sib wat jou onder veroordeling bring, Vader kom haal daardie gewig van jou skouers af. Ek en jy is vrygemaak van die sondige wet. Daardie wet wat ons weeg, ons veroordeel en verwerp. Toe ek dit die eerstemaal hoor – werklik hoor in 1992, het dit my lewe verander. Dit het my uitkyk verander en my sin gegee.

Het die seer nog gekom? Beslis ja. Maar ek het nou die wapen gehad om dit te oorwin.

Dit was ʼn gelydelike proses. Jy sien, aanvanklik glo ons nie die woorde nie. Die oomblik dat dit lewend word – rhema woord - dan staan ons op. Christus Jesus se opstandingskrag vloei deur ons are en ons leef dit.

Daarom help dit nie om dit net te lees nie. Jy moet dit inneem, en deel maak van jou. Plak dit vas teen enige kas waar jy dit daagliks kan sien. Memoriseer dit. Bid dit. Sê dit op. Leef dit.

Romeine 8 is ʼn goeie punt om te begin op die pad van regverdigmaking of herstel. Dit is die flits vir jou pad en gee jou ‘n vaste fondasie. Vers 10 lees: “Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde.” Vers 11: “Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur Sy Gees wat in julle woon.”

M.a.w. God maak dit wat in jou dood is lewend. Hy spuit dit in met goddelike suurstof en gee jou die krag om daardie gevoelens van: “ek is nie goed genoeg nie” te beveg. Dit hou jou staande en gee jou die rede om die lewe opnuut in die oë te kyk.

Is dit nie tyd om vry te kom van hierdie dooie punt in jou lewe nie?

Roep God aan en neem sy Woord ter harte.

 

Onthou: Jy is ʼn geseënde van die Here.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting

Sunday, November 20, 2022

Dagstukkies: Laat die Woord jou skoon was

 


My grootword jare was gekenmerk deur twyfelagtige gedagtes van ‘wie is ek’, en waar hoort ek. Ek was ʼn baie onseker mens wat die heeltyd op soek was na stabiliteit. Baie van hierdie twyfel was gesetel in leuens wat ek geglo het. Leuens veroorsaak deur die ongevoeligheid van familielede. Dit was versterk deur die manier wat ek groot gemaak is, teenoor hoe my sibbe groot gemaak is.

My ouers was baie streng teenoor my. Vandag is ek dankbaar daaroor, maar daardie tyd het ek gedink hulle haat my.

Jaloesie was ʼn groot dryfveer wat ons vandag nog belemmer om ʼn goeie verhouding te hê. Die ouderdomsverskil het natuurlik ook by gedra tot die skeiding. Jare se troebelheid het die water brak gelaat en dit is met moeite wat die verhoudinge onderhou word.

My ouers is goeie mense en het my grootgemaak volgens hul onsekerhede, kennis en ervarings. Ek het nog altyd ʼn diepe dankbaarheid vir hulle, ongeag my gevoelens. Hulle voorbeeld en getrouheid een van my groot pilare waarop ek kon staan.

My ma het my geleer van dryfkrag en onvoorwaardelike liefde. My pa hoe om logies na ʼn situasie te kyk. Ek het die waarde van familie by hulle geleer. My liefde vir die land het ek van my pa gekry, asook liefde vir boeke. My Blog “Inspire to Read,” se leuse is: “Be inspired! Read Books.” Ek leef dit. Nie net omdat ek lief is vir lees nie, maar die voordele wat dit inhou.

Maar tog kon ek nooit die antwoord: wie is ek? Kry nie

My twyfelgedagtes het deurgeslaan in elke faset van my lewe. Van die mees onbenulligste dingetjies tot lewensbelangrike keuses was beïnvloed.

Ek het als bevraagteken, maar skugter gebly: elke keer wat ek spontaan opgetree het was ek in die bek geruk, wat veroorsaak het dat ek mense eenkant toe geskuif het en myself verloor het in boeke. Vandag is dit nogsteeds vir my moeilik om spontaan te wees.

Boeke was ʼn veilige hawe te midde van die onderstrominge wat in die huis en later in my eie lewe geheers het. Maar dit het my ook in verkeerde rigtings gestuur wat lank by my gespook het daarna.

My toekomsplanne moes plek maak vir verantwoordelikhede waarvoor ek nog nie reg was nie. Dit het ek uitgehaal op my gewese man deur woede-aanvalle en stilstuipe. Als het daaronder gelei.

In 1992 het ek tot bekering gekom en was die leuens vervang met waarheid. Dit het nie oornag gebeur nie. Soos wat ek gegroei het in die Woord, so het die waarheid deurgesyfer: ek was soos ʼn spons wat net gedrink het. Die Woord was soos vars water wat my denke, besluite en aksies beïnvloed het en kon ek elke onwaarheid verruil met waarheid.

Dit het tyd gevat om die leuens te vervang. Jare se bitterheid en seer moes afgeleer word en met nuwes vervang word. Dit het tyd gevat om werklik Vader se Woord as waarheid te glo, maar die oomblik wat dit gebeur het, het ek vry gevoel. Skoon; soos ʼn nuwe mens. Ek het tuis gekom.

 

Wat het ek geleer?

Leuens benadeel jou. Dit steel en ontmoedig jou van kosbare tyd.

Ek het toe gelaat dat die proses werk. Ek het toegelaat dat die Woord my was. Dit was nie maklik nie en soms was die proses pynlik maar ek het skoon gekom.

 

My boodskap aan jou:

Jou vryheid is duur gekoop. Laat toe dat Vader se woord jou ook was en dat waarheid die leuns vervang. Jy is dit aan jouself verskuldig.

Onthou: Jy is geseënd en hoogs bevoordeel deur ‘n Vader wat jou baie lief het.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting

 

 

Day Twelve: Fear And Despair Has Been Destroyed.

  This is the last day of this bible plan and I trust that I have planted a seed of hope into your life. You can have the victory if you fol...