Showing posts with label Dagstukkies. Show all posts
Showing posts with label Dagstukkies. Show all posts

Monday, January 23, 2023

Dagstukkie: Die vrou in die spieël

 


Vir ʼn groot gedeelte van my grootmenslewe kon ek myself nie in die oë kyk nie. Wanneer ek hare gekam het, grimering aangesit het of my tande geborsel het, het ek oogkontak vermy met die vrou in die spieël.

In die begin het ek nie geweet wat om vir haar te sê nie, ʼn koue skouer was beter as leë woorde. Die verhouding het aangegaan vir ʼn aantal jare. Jare waarin ek baie leeg en sonder doel was. Ek het baie gedoen om myself besig te hou, in te pas deur betrokke te raak by skool- en kerkaktiwiteite. Die vervulling het net nooit gekom nie. Die grootmaak van kinders, om ʼn huishouding te hardloop, kruideniersware te koop, in die tuin te werk, ensomeer: dit was alles tydverdrywe en het my leeg en onvervuld gelaat. Ek het baiekeer my doel bevraagteken. Die wêreld so bekyk en gewonder wat is die sin.

Hierdie houding het deurgesyfer na my vriendekring, huwelik, en verhouding met my kinders. Die gesegde: Bo blink en onder stink, kon my goed definieer.

Wanneer verhoudings misluk het, kon ek nie verstaan wat my aandeel in die opbreek daarvan was nie. Op die ou einde het dit daarop neergekom dat hierdie denke my so negatief gemaak het dat niemand bereid was om in my teenwoordigheid te wees nie. Mense het my afsydig en koud ervaar. Dit het natuurlik die self verder rede gegee om te wonder oor die doel van my bestaan.

Na ʼn dramatiese gebeurtenis in my lewe, waarin ek en my lewensmaat al ons aardse besittings verloor het, was ek teen die grond.

Ek dink nie ek sal die oggend ooit vergeet nie. Die oggend wat daardie vrou in die spieël vir my laat stop het in my skoene. Sy het geweier om haar oë te laat sak en ek moes ingee onder die pyn en absolute doelloosheid wat ek daar gesien het. Ek het nie woorde gehad om haar te konfronteer nie, maar haar dooie oë het my tot in my sokkies geskok. Die stemmetjie het uitgeroep: "Waar is jy?"

Weg was al die pretensies. Gestroop van dié dinge wat my identiteit gegee het. In daardie een kyk het ek besef, as ek nie iets doen nie, is ek dood.

Die besluite van daardie dag af was moeilik. In die eerste plek moes ons uit ons huis van ses en twintig jaar trek. Ek het geworstel met die trauma en vernedering van daardie tyd. Die absolute verslaenheid van nutteloos wees. Om nie geld te hê nie. Winkels het vir my soos ʼn mes gevoel wat my siel wou oopkloof tot op die been.

Ek moes toesien hoe my seun op die vliegtuig klim na ʼn ander land. Dit het gevoel asof ek my kinders gefaal het. Ek moes in ʼn klein woonstelletjie intrek wat spesiaal vir ons reggemaak is. Om als te kroon het ek agtergekom hoe diep die disrespek tussen my en my man geloop het. Sere wat my wakker geskud het tot in my fondasie.

Maar nog was dit nie genoeg om my finaal wakker te laat skrik nie. Ek was op ʼn gevaarlike pad van vernietiging en bitterheid waar ek myself skade aangedoen het en oorgegee het aan die luste van die wêreld. Dit alles om die seer te kan ontvlug, die vrou in die gesig te staar. Ek was die heeltyd bewus van haar vraende kyk.

Dit was ʼn lang stryd van aanvaarding, maar dit het begin op ʼn verlate pad in Pretoria, waar die Here my tot stilstand gebring het. Ek het geweet ek sal my weë moet verander. Dáár het die ommeswaai in my kop begin. Ek moes die dinge van my verlede heeltemal aflê om werklik vrede te kon maak met daardie vrou. Die vrou wat geduldig gewag het op my ommekeer.

Miskien is jy nou op daardie pad. Miskien dink jy, jy is nie goed genoeg nie.

Vandag will ek vir jou sê, jy is goed genoeg.

Jy het nie nodig om tot daar, op die spreekwoordelike straat, te beland om jou eiewaarde terug te kry nie. Jy het nie nodig om jouself te verneder, om die pyn te laat verminder nie.

Al wat jy moet doen is om voor die Vader te buig. Na Hom te kom. Net so vuil as wat jy voel, en jou saak met Hom regmaak. Dit is nie te laat nie. Net Vader kan jou herstel. Net Hy kan jou welkom heet in sy huis en jou beklee. Jou voete was, jou hoof salf met olie en aan jou ʼn ring gee wat jou eiewaarde sal herstel. ʼn Kleed wat jou sal bedek, en ʼn Vader wat vir jou ʼn lam sal slag en saam met jou sal feesvier. Niks is te erg vir Hom nie.

Gee Hom vandag ʼn kans om jou eie-ek te herstel, sodat jy soos ek weer in die spieël kan kyk en vir jouself lief kan wees. Ontvang daardie skoon papier en kyk na jouself met nuwe oë. Jy maak saak!

Onthou: Jy is ʼn geseënde van die Here.

 

Lynelle Clark
Skakels van 'n Ketting

Saturday, December 24, 2022

Beat-up Guitars by Pete Briscoe



Not for ourselves alone are we born. — Marcus Tullius Cicero

When a masterful musician plays an instrument, no one stands to praise the instrument. No, all praise goes to the master.

What’s more, in the hands of a master, any old instrument will do, right?

Have you ever walked a city’s downtown streets and observed the musicians? Many are down and out, holding a guitar marked by the struggle. Yet the crowds gather when a masterful musician plays.

Many of us feel like those beat-up guitars. Life has been hard. We don’t feel capable of beauty. But in the hands of the Master, we sound beautiful. As the Master plays His tune through our lives, others pause to listen and give Him praise. We are His instruments.

Paul wrote to Timothy on this very topic:

[We are] instruments for special purposes, made holy, useful to the Master and prepared to do any good work. (2 Timothy 2:21)

Maybe you’re thinking, All of that sounds lovely, Pete. But honestly, how does it work?

Since Jesus is the same yesterday, today, and forever…

  • And He indwells believers by His Spirit…
  • And expresses Himself through us if we let Him…
  • His life in us today is going to look like His life among us on earth 2,000 years ago.

In the hands of the Master, our lives will sound like the life of Jesus.

Did you know Jesus was mistaken for a beat-up guitar, too? When the people in His hometown synagogue heard Jesus announce His intention to fulfill Isaiah’s prophecies, they asked each other, “Isn’t this Joseph’s son?” (Luke 4:22).

In other words, “Didn’t we watch you grow up? Aren’t you ordinary with ordinary issues of your own? Maybe you should work on those.”

They were mistaken.

All of us ordinary followers are instruments set apart for the Master. The melody of our lives will sound like the melody of Jesus.

You Who Gives New Life, I feel like a guitar in a pawnshop, staring out my window at the music store across the street that’s showing off a new Taylor Guitar. What grace that You choose both of us as being worthy! Spirit, play the melody of Your life through me—loud and clear to rally the praises. Amen.

Learn more from Pete’s teaching on Luke, What Will Jesus Do?


In Him,

Pete 

Sunday, December 18, 2022

Dagstukkie: Wie beïnvloed ons lewens?

 


        Vanoggend het ek en Isak oor indrukke gesels en die invloed wat dit op ons denke het. God maan ons hieroor omdat net Hy die volle prentjie verstaan. Sonder die volle prentjie kan ons ʼn persoon oordeel vanuit hul aksies en woorde tot groot ontnugtering.

Almal het ʼn verhaal wat niemand van weet nie. Nie eers ons ouers of sibbe nie, omdat hulle nie elke minuut van die dag by ons is of ons gedagtes weet nie.

So het dit gekom dat ons gepraat het van Bybelwaarhede en hoe elkeen dit interpreteer en hoe dit die besluite wat ons maak beïnvloed. So, bring dit my toe terug na ʼn tyd baie lank gelede en die inpak wat dit in my lewe gehad het.

As kind het my ma kinderkrans gegee. Ek onthou vaagweg die tye wat sy ingesit het ter voorbereiding daarvan. Wanneer die kinders dan by ons aan huis gekom het, was die geïllustreerde borde netjies uitgestal. Daarop het sy breedvoerig aan ons die reise van Paulus vertel.

Dit was ʼn oog-oopmakende tyd in my lewe. Ek het die kaarte so gesit en kyk en gewonder waar is die plekke. As agtjarige het ek nie besef dat daar ʼn groter wêreld daar buite is as my eie wêreld nie. Maar op daardie dag is my wêrelde vergroot. Opgewondenheid het deur my gebruis. Die wonder so groot en so sterk dat ek dit vandag nog beleef.

Agterna het ek my skoolatlas vir die eerste keer nadergetrek en gelees. Daarin het ek lande, kontinente en eilande ontdek. Ek het die groot oseane gesien en die dieptes gelees sonder om werklik te besef hoe diep is diep. ʼn Nuwe wêreld het vir my oopgemaak.

Hierdie sug om te reis is daar gebore. Ek het elke boek gelees wat ek kon en tot die slotsom gekom dat indien ek dit wou beleef, moet ek vlieg. Ek het ontdek dat mens as lugwaardin hierdie wêreld kan betree en opgelees oor die vereistes vir hierdie pos.

Tydens die vakkeuses in standard vyf het ek Duits as een van my vakke vir standard ses gekies. Ek was doelgerig en opgewonde daaroor en het die derde taal met ywer aangepak.

Ek het nooit ʼn lugwaardin geword nie, maar leef my liefde vir reis op ander maniere uit. Dit gee die toon aan vir vakansiekeuses, wat my vul met ʼn gevoel van prestasie. Op die pad leef ek myself uit en vind ek nuwe stories tussen die mense en geboue van die area.

Toe ek tuisonderrig aangebied het, was ons vakansies so gereël dat dit interessant en leersaam was. Ons het museums en fabrieke besoek. Vanaf die gebaande weë beweeg en plekke 'ontdek' wat ons nie van bewus was nie. Dit is een ding om te lees van ʼn plek, maar ʼn ander om dit fisies te beleef.

Net so is dit met die Woord van God. Dit is een ding om te weet, maar ʼn ander om dit te beleef. Veral wanneer jy begin vra: “Here gebruik my,” en Hy doen dit. Dan word die Bybel ʼn ontuitputbare bron van invloede waarin Bybelse figure jou rolmodel word. Jy ontwikkel ʼn sug na meer. Na die dieper dinge wat slegs deur God gevul kan word.

Ek wil jou vandag uitdaag om die Woord te lees as ʼn werklikheid. Nie as ʼn boek van verhale nie, maar as ʼn boek gevul met waarhede wat jou kan lei tot by jou versugtinge. God se realiteite is nie ouvroustories of net ʼn klomp reëls wat jou fun wil stop nie. Dit is ʼn boek wat jou inspireer, vul en bekragtig. Dit stel jou voor aan ander plekke en gebruike. Dit maak jou oop om God se wonders te beleef. Dit vul jou met ʼn diepe respek vir elke figuur. Van Adam en Eva tot Johannes, die geliefde vriend van Christus, leer jy van God se hart vir jou en die mense om jou.

God se rol is om jou te leer van Jesus Christus, en om in ʼn verhouding met Christus en die Heilige Gees te wees. Hier ontdek jy nuwe wêrelde en vind dat God se Woord nie net ʼn storieboek is wat jy saans lees net voor bedtyd nie, maar ʼn werksboek wat jou leer hoe om die onmoontlike te bereik. Wat jou vul met dankbaarheid en jou leer hoe om diensbaar te wees.

“Die woord van God is lewend en kragtig.” Hebr 4:12a (Afr83).

Hoe meer tyd jy spandeer met God en sy gesalfdes, hoe meer kan jy leer van hulle en hul lesse /voorbeelde navolg.

Immers is dit die doel van ʼn rolmodel. Hulle begeester jou om meer te bereik as wat jy gedink het jy kan doen.

Vind jou rolmodel in God en sien wat Hy vir jou sal doen.

Jy is ‘n geseënde van die Here.  

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting

 

Sunday, December 11, 2022

Dagstukkie: Ek, myself en julle.

 


ʼn Mens wil dit nie altyd openlik erken nie. Jy voel gemeen om dit selfs te dink, selfs dankbaar, maar die feit is jy, jou ouers en sibbe, het meningsverskille, lelikes.

 Elkeen dink anders, en voel anders en daar moet ʼn weg gevind word om mekaar te verstaan en saam te te leef. Indien nie, sal julle mekaar uitskel, miskien skoene rondgooi en daardie lelike woorde hardop gesê word: “Ek haat jou!” Daardie woorde wat jy altyd net gedink het word nou ‘n werklikheid en nou moet jy met dit deel.

Ek onthou toe my eie dogter dit vir my geskreeu het. Die absolute skok wat daarmee saam gegaan het, het my sprakeloos gelaat. Ek kan nie eers meer onthou waaroor dit gegaan het nie, maar daardie woorde het lank by my gebly. Dit het bitter seergemaak. Jare later kon ek en sy dit eers uitsorteer.

In my ouerhuis is ons nooit geleer hoe om konflik te hanteer nie. My benadering was om opgeblase kamer toe te gaan, die deur toe te klap en te lees. Ek en my jonger suster het ook ʼn kamer gedeel. Daar is ʼn ouderdomsverskil van vyf jaar tussen ons en ons kon nooit werklik goed oor die weg kom nie. Selfs nou, jare later, is daar nog steeds ʼn styfheid tussen ons.

My ma se manier van konflikhantering was om goed in die kombuis rond te gooi, bitsig te wees en almal te byt wat in haar omtrek kom. My pa het aan stilstuipe gelei en agter die koerant gebly. Sus het begin huil, later onttrek en Barbie gespeel. Op daardie stadium was die twee jongstes nog te klein om werklik deel te neem aan die gevegte. Die ouderdomsverskille te groot. Nou, na al die jare kom ons goed oor die weg, maar toe was die twaalf jaar oue verskil ʼn seer werklikheid en ek het beslis nie belang gestel in hul baba nukke nie.

Teen matriek wou ek met alle geweld uit die huis uit. Twee jaar later is ek getroud en kon ek uiteindelik die huis verlaat. Dit was ʼn blye dag. Toe my eie kinders gebore is moes ek nie net leer van konflikhantering nie, maar moes ek hulle ook leer. Soos reeds genoem was dit nie maanskyn en rose nie.

Op sewe en twintig het ek die Here ontmoet en toe eers kon ek leer hoe.

Die proses het by myself begin. Ek moes leer om stil te staan, stil te bly, en te luister. Ek moes leer om nederig te word, ander te dien, en Christus te volg. Dit was ʼn eina tydperk van self-aflegging. Die eie-ek kruisig. Ek moes my wil teen die kruis vas spyker en toe te laat dat die Heilige Gees my lei voor ek my kinders kon leer.

Ek het baie foute gemaak in die tyd. Met baie mense baklei en wanneer hulle terugbaklei het ek nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Dit was soos raaisels wat my nagte se rus ontneem het totdat ek by die resultaat kon uitkom.

Om ons eie-ek te kruisig is nie maklik nie. Vir ʼn sekere aantal jare is jy gewoond om te sê, te dink en te doen wat jy wil. Jou wil het geseëvier. Maar die oomblik wanneer jy jou knie buig voor God die Almagtige Vader dan moet daardie wil buig.

Daar is ʼn spreekwoord wat lui: knak die boompie terwyl hy jonk is. Maar wanneer daardie boompie al oud is, is dit moeilik. Die treë stadig en die kop hardkoppig.

Die eerste les wat ek moes leer was om omverskoning te vra en te vergewe. Ek moes fisies na my ma toe gaan en haar vergifnis vra en haar vergewe.

Deel van vergifnis is om te erken jy is ook skuldig. Elke saak het twee kante. Elkeen dink en voel anders oor iets. Nie een is verkeerd of reg nie. Elkeen se opinie is belangrik en moet in ag geneem word. Elkeen moet bereid wees om te bely en reg te maak. Elkeen verdien daardie onvoorwaardelike liefde.

Ek moes dit ook met my skoonma doen. Ek kan al hoor hoe trek jy die asem in. Jy het reg gelees: ook jou skoonma. Dit is moeilik, maar doenbaar.

Die vreugde van vergifnis kan ek nie genoeg beskryf nie. Dit is die neerlê van die self en die nuwe kleed van verootmoediging aantrek. Daarmee saam moet jy leer om geduldig te wees, te luister. Nie jou eie belang te soek nie. Nie opgeblase te wees nie. Nie die splinter in iemand anders se oog te sien en jou eie balk te ignoreer nie. Dit klink amper soos iets uit die Bybel nie waar nie. Jy is heeltemal reg.

1 Korintiërs 13 AFR83. Dit begin sommer van die eerste vers af:Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is,”

Tyd en woorde ontneem my om verder uit te brei, maar gaan lees dit gerus. Dan doen jy dit en sien wat ʼn lieflike geur word jy vir die Here. Een wat konflik kan hanteer en Vader verheerlik in die proses.

Jy is voorwaar ʼn geseënde van die Here.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting

 

Sunday, November 27, 2022

Dagstukkie: Vergelykings se onsekerhede.

 

Picture from Google

My ma het hoë standaarde gehad en as kind het ek dit altyd gefaal. Sonder uitsondering. Of dit nou was om ʼn koek te bak, ʼn rok te maak of mense te groet. Ek was gewoonlik in die moeilikheid. My handelinge het haar nie aangestaan nie. Ek onthou ʼn gesprek tussen my ouers tydens een so ʼn geleentheid van mislukking toe hulle gepraat het van ʼn afrondingskool. Dit het natuurlik nooit gebeur nie en ek het die wêreld betree met die gedagte dat ek net nooit goed genoeg was nie.

Rondom standard 4 – of Graad 6 soos dit vandag bekend is, was ek gekys met ʼn outjie in my klas. Sy ma was ʼn baas bakster en kleremaker en het tot pakke klere vir hom en sy pa gemaak. Terug by die huis, na ʼn Sondagmiddagkuier, was ek vertel hoe ek my sokkies sal moet optrek as ek enigsins aan trou wil dink. Ek was elf jaar oud. Ek het geen benul gehad van liefde, trou, klere of kos maak nie, maar die aanmerking het sy merk gelaat. Die kys het nie gehou verby standard 5 nie, want ek was vrek bang.

Bang vir die skaal van mislukking.

Eers as huisvrou kon ek ontspan en leer om te kook en naaldwerk te doen. My ma was nie daar om oor my skouer te loer of te veroordeel nie. Ek het als myself geleer. Dankie Vader vir resepteboeke en patrone.

Ek was ʼn kranige konfytkoker, bakker en was lief vir brei en borduurwerk. Maar in my ouerhuis het ek geweier om te help, juis vir al die vergelykings en verwagtings wat op my geplaas was.

Hierdie vergelykings, gemeet met ander mense se standaarde, was ʼn bron van baie trane en verwerping tot diep in my grootmensjare. Ek het eers op vyftig geleer om my eie pad te stap, sonder die alewige opweging. Ek het vry gevoel om my passies uit te leef.

Die vergelykingsindroom het deurgeslaan in my verhouding met ander mense, by die kerk en ook in my enkelloopdae. As vrou was ek vertel ek het my kinders nie lief genoeg nie of dat ek my man nie genoeg stimuleer in die slaapkamer nie. Ek was vergelyk met medegelowiges. Die weegskaal het altyd na die verkeerde kant toe getrek, ongeag hoeveel keer ek probeer het om in te pas. Dit was ʼn aanhoudende geveg om aanvaarding. Die trane het dae lank sonder ophou gevloei daaroor.

Dit het gevoel God weeg my en ek is altyd verkeerd. Ek het gedink dit is onregverdig dat mense my so behandel en gou sou die trane omsit in bitterheid en woede.

Gedurende hierdie tye van selfbejammering het ek myself toegesluit en binne my huis rustigheid gekry. Ek is vandag nog so. Die geringste teenkanting veroorsaak dat ek die kamerdeur toe maak en my verdiep in skryf of lees.

Die enigste twee plekke waar ek die vryheid het sonder veroordeling, is by God en boeke. 

My hemelse Vader aanvaar my net soos ek is. Daar is geen vergelykings nie, geen kompetisies nie en geen verwerping nie. Wanneer Hy sê ek is lief vir jou, glo ek Hom. God is my bron en regverdigmaking. In Hom vind ek rus.

Romeine 8:1-2 (1983 vertaling): “Daar is dus nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood.”

Is dit nie ʼn wonderlike skrifgedeelte nie?

Daar is dan geen veroordeling nie – lees dit ʼn paar keer. Vader se aanvaarding is baie beter as die mens sʼn. Of dit nou ʼn ouer is of ʼn sib wat jou onder veroordeling bring, Vader kom haal daardie gewig van jou skouers af. Ek en jy is vrygemaak van die sondige wet. Daardie wet wat ons weeg, ons veroordeel en verwerp. Toe ek dit die eerstemaal hoor – werklik hoor in 1992, het dit my lewe verander. Dit het my uitkyk verander en my sin gegee.

Het die seer nog gekom? Beslis ja. Maar ek het nou die wapen gehad om dit te oorwin.

Dit was ʼn gelydelike proses. Jy sien, aanvanklik glo ons nie die woorde nie. Die oomblik dat dit lewend word – rhema woord - dan staan ons op. Christus Jesus se opstandingskrag vloei deur ons are en ons leef dit.

Daarom help dit nie om dit net te lees nie. Jy moet dit inneem, en deel maak van jou. Plak dit vas teen enige kas waar jy dit daagliks kan sien. Memoriseer dit. Bid dit. Sê dit op. Leef dit.

Romeine 8 is ʼn goeie punt om te begin op die pad van regverdigmaking of herstel. Dit is die flits vir jou pad en gee jou ‘n vaste fondasie. Vers 10 lees: “Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde.” Vers 11: “Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur Sy Gees wat in julle woon.”

M.a.w. God maak dit wat in jou dood is lewend. Hy spuit dit in met goddelike suurstof en gee jou die krag om daardie gevoelens van: “ek is nie goed genoeg nie” te beveg. Dit hou jou staande en gee jou die rede om die lewe opnuut in die oë te kyk.

Is dit nie tyd om vry te kom van hierdie dooie punt in jou lewe nie?

Roep God aan en neem sy Woord ter harte.

 

Onthou: Jy is ʼn geseënde van die Here.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting

Sunday, November 20, 2022

Dagstukkies: Laat die Woord jou skoon was

 


My grootword jare was gekenmerk deur twyfelagtige gedagtes van ‘wie is ek’, en waar hoort ek. Ek was ʼn baie onseker mens wat die heeltyd op soek was na stabiliteit. Baie van hierdie twyfel was gesetel in leuens wat ek geglo het. Leuens veroorsaak deur die ongevoeligheid van familielede. Dit was versterk deur die manier wat ek groot gemaak is, teenoor hoe my sibbe groot gemaak is.

My ouers was baie streng teenoor my. Vandag is ek dankbaar daaroor, maar daardie tyd het ek gedink hulle haat my.

Jaloesie was ʼn groot dryfveer wat ons vandag nog belemmer om ʼn goeie verhouding te hê. Die ouderdomsverskil het natuurlik ook by gedra tot die skeiding. Jare se troebelheid het die water brak gelaat en dit is met moeite wat die verhoudinge onderhou word.

My ouers is goeie mense en het my grootgemaak volgens hul onsekerhede, kennis en ervarings. Ek het nog altyd ʼn diepe dankbaarheid vir hulle, ongeag my gevoelens. Hulle voorbeeld en getrouheid een van my groot pilare waarop ek kon staan.

My ma het my geleer van dryfkrag en onvoorwaardelike liefde. My pa hoe om logies na ʼn situasie te kyk. Ek het die waarde van familie by hulle geleer. My liefde vir die land het ek van my pa gekry, asook liefde vir boeke. My Blog “Inspire to Read,” se leuse is: “Be inspired! Read Books.” Ek leef dit. Nie net omdat ek lief is vir lees nie, maar die voordele wat dit inhou.

Maar tog kon ek nooit die antwoord: wie is ek? Kry nie

My twyfelgedagtes het deurgeslaan in elke faset van my lewe. Van die mees onbenulligste dingetjies tot lewensbelangrike keuses was beïnvloed.

Ek het als bevraagteken, maar skugter gebly: elke keer wat ek spontaan opgetree het was ek in die bek geruk, wat veroorsaak het dat ek mense eenkant toe geskuif het en myself verloor het in boeke. Vandag is dit nogsteeds vir my moeilik om spontaan te wees.

Boeke was ʼn veilige hawe te midde van die onderstrominge wat in die huis en later in my eie lewe geheers het. Maar dit het my ook in verkeerde rigtings gestuur wat lank by my gespook het daarna.

My toekomsplanne moes plek maak vir verantwoordelikhede waarvoor ek nog nie reg was nie. Dit het ek uitgehaal op my gewese man deur woede-aanvalle en stilstuipe. Als het daaronder gelei.

In 1992 het ek tot bekering gekom en was die leuens vervang met waarheid. Dit het nie oornag gebeur nie. Soos wat ek gegroei het in die Woord, so het die waarheid deurgesyfer: ek was soos ʼn spons wat net gedrink het. Die Woord was soos vars water wat my denke, besluite en aksies beïnvloed het en kon ek elke onwaarheid verruil met waarheid.

Dit het tyd gevat om die leuens te vervang. Jare se bitterheid en seer moes afgeleer word en met nuwes vervang word. Dit het tyd gevat om werklik Vader se Woord as waarheid te glo, maar die oomblik wat dit gebeur het, het ek vry gevoel. Skoon; soos ʼn nuwe mens. Ek het tuis gekom.

 

Wat het ek geleer?

Leuens benadeel jou. Dit steel en ontmoedig jou van kosbare tyd.

Ek het toe gelaat dat die proses werk. Ek het toegelaat dat die Woord my was. Dit was nie maklik nie en soms was die proses pynlik maar ek het skoon gekom.

 

My boodskap aan jou:

Jou vryheid is duur gekoop. Laat toe dat Vader se woord jou ook was en dat waarheid die leuns vervang. Jy is dit aan jouself verskuldig.

Onthou: Jy is geseënd en hoogs bevoordeel deur ‘n Vader wat jou baie lief het.

 

Lynelle Clark

Skakels van 'n Ketting

 

 

Day Twelve: Fear And Despair Has Been Destroyed.

  This is the last day of this bible plan and I trust that I have planted a seed of hope into your life. You can have the victory if you fol...